Energie

Kernwaghond steun SA se planne met kernkrag

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die son sak agter die Koeberg-kragstasie naby Kaapstad. Foto: Argief
Die son sak agter die Koeberg-kragstasie naby Kaapstad. Foto: Argief

Die Internasionale Atoomenergieagentskap (IAEA) steun Suid-Afrika se proses om kernkrag uit te brei, sê dr. Rafael Grossi, direkteur-generaal van die IAEA.

Die hoof van die internasionale waghond oor kernkrag het Donderdag virtueel vanuit Wene, Oostenryk, deelgeneem aan die kernkragberaad van die ministerie van elektrisiteit en energie wat in Irene, Gauteng, aangebied is.

Suid-Afrika is die leier in Afrika wat kernkrag betref, en kan as voorbeeld en steun dien vir die talle ander lande op die vasteland met kernkragambisies, sê Grossi.

Egipte is besig met bouwerk aan vier kernkragreaktors, maar daar is 'n hele paar ander Afrikalande wat in verskillende fases van aktiewe nastreef van kernkrag is. Die IAEA werk nou saam met dié lande. Dit sluit in Algerië, Nigerië, Niger, Zambië, Kenia, Ethiopië, Marokko, Soedan en Tunisië.

Die IAEA is in 1957 onder die vaandel van die VN gestig om die uitbreiding van die vreedsame gebruik van kernkrag internasionaal te bevorder en te monitor.

Grossi gee toe kernkrag was 'n paar dekades in 'n matige afname weens negatiewe houdings jeens kernkrag.

Maar daar is nou weer 'n groeiende belangstelling in kernkrag.

"Die kernkragbedryf toon veerkragtigheid, en die debatte oor die wenslikheid of veiligheid van kernkrag is iets van die verlede wat gespruit het uit die kernrampe soos dié by Tsjernobil en Foekoesjima."

Grossi sê die IAEA is 'n ondersteuner van hernubare energie en daar is nie 'n negatiewe ingesteldheid jeens groenkrag nie.

Daar is 'n merkbare toename van groenkrag oor die wêreld heen en dit sal oor die komende dekades voortduur. Dit is nie wedersyds uitsluitend van ander vorms van krag soos kernkrag nie. Dit is eerder aanvullend.

"Son- en windkrag is intrinsiek wisselvallig en het basiskrag nodig om die nodige stabiliteit aan 'n kragnetwerk te voorsien."

In gesprekke oor klimaatsverandering het kernkrag geskuif van sigbare afwesigheid na een van die energievorms wat versnel moet word. "Dis nie net 'n sektor of 'n streek of net 'n paar lande wat so dink nie, maar dis 'n internasionale siening."

Volgens Grossi is dít 'n dramatiese verandering van die tye toe kernkrag nie eens genoem is nie. "Ek sal dit nie 'n Renaissance van kernkrag noem nie, maar eerder 'n terugkeer na realisme, 'n terugkeer na die besef dat ons in baie lande reeds die instrument het wat so belangrik is."

Die kernkragbedryf is nog relatief klein, met net tussen 10% en 12% van die totale kragopwekking ter wêreld wat só opgewek word.

Grossi beklemtoon dat 'n aantal lande by die VN se vorige klimaatberaad in Dubai ingestem het dat hul kernkragvermoë minstens moet verdriedubbel. "Dis baie ambisieus, maar moontlik. Maar belangriker nog, dit dui 'n politieke rigting aan. Sonder kernkrag gaan ons nie 'n laekoolstof-ekonomie en stabiele energiemengsel in die toekoms bereik nie."

Volgens Grossi moet aan die behoeftes van middelinkomste- en lae-inkomstelande gedink word. Kernkrag is nie 'n tegnologie wat net tot 'n minderheidsgroep van lande beperk moet word nie.

Hoewel die IAEA Suid-Afrika se planne steun om kernkrag uit te brei, kan Suid-Afrika volgens Grossi besluit hoe en wanneer om kernkrag uit te brei, want die land is reeds 'n volwasse kernkragoperateur.

Dr. Rafael Grossi, direkteur-generaal van die Internasionale Atoomenergieagentskap.  Foto: IAEA/Facebook
Dr. Rafael Grossi, direkteur-generaal van die Internasionale Atoomenergieagentskap. Foto: IAEA/Facebook

Grossi sê hy glo vas in die voordele en interessante moontlikhede van nuwe ontwikkelings soos klein modulêre reaktors. Die tipiese kernkragaanlegte is groot en duur, wat dit soms uitdagend kan maak vir middelslag- en klein ekonomieë. Die bedryf skuif na klein en modulêre reaktors wat goedkoper en kleiner is, en modulêr uitgebrei kan word na gelang van die behoeftes van die kragnetwerk.

Dr. Kgosientsho Ramokgopa, minister van elektrisiteit en energie, het op die beraad gesê die tipiese beeld van 'n kernwetenskaplike is 'n ouerige man wat amper soos Albert Einstein lyk, wat baie slim en bekwaam is, maar nie sosiaal vaardig is nie en in 'n hoek wegkruip.

Maar nou kom drukgroepe wat die kernkragbedryf wil besoedel, ondermyn en diskrediteer met onwetenskaplike sienings wat nie op die werklikheid gegrond is nie. Die probleem is dat die tipiese kernwetenskaplike weier om in die modder ingetrek te word. Die prys wag egter betaal word, is dat kernkrag as energiebron op die agtervoet is, sê Ramokgopa.

Intussen het die omgewingsgroep die Suider-Afrikaanse Geloofsgemeenskappe se Omgewingsinstituut (Safcei) beswaar gemaak dat Ramokgopa nie burgerlike organisasies en die algemene publiek na die kernkragberaad genooi het nie.

Francesca de Gasparis, uitvoerende direkteur van Safcei, sê hulle het gehoop energiebeplanning en -besluitneming sou na 'n meer deursigtige en inklusiewe proses skuif nadat Ramokgopa onlangs die ministersbepaling vir 'n nuwe tender van 2 500 MW se kernkrag teruggetrek het.

Maar nou het hy net akademici, sekere sakelui uit die kernkragbedryf, die media en die regering na sy kernkragberaad genooi, almal behalwe die burgerlike samelewing en die algemene publiek, wat aktief betrokke is en vir verandering vra, sê De Gasparis.

Volgens haar het Safcei uitgereik na Ramokgopa se kantoor en gevra hoe hulle kan deelneem aan die beraad, maar het geen uitnodiging of kommunikasie ontvang nie.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM