Kragdiewe kos Eskom tot R30 mjd. per jaar

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Dr. Kgosientsho Ramokgopa, minister van elektrisiteit en energie.  Foto: William Horne
Dr. Kgosientsho Ramokgopa, minister van elektrisiteit en energie. Foto: William Horne

Danksy die herkoderingsveldtog vir koopkragmeters kon Eskom nou vir die eerste keer die ware omvang van kragdiefstal bepaal: Dit kos hom maandeliks sowat R2,5 miljard, oftewel R30 miljard per jaar.

Dr. Kgosientsho Ramokgopa, minister van elektrisiteit en energie, het Woensdag op 'n mediakonferensie by die parlement in Kaapstad gesê Eskom weet nou 2,1 miljoen huishoudings het óf self hul meters omseil óf onwettige koopkragkodes by misdadige handelaars gekoop.

Vergeleke met die 4,9 miljoen betalende koopkragverbruikers van Eskom is dit nou duidelik vir hoeveel gesteelde krag Eskom nié vergoed word nie.

"Eskom het R2,5 miljard per maand weens die sogenaamde ‘nulkopers' verloor," sê Ramokgopa.

"Dit is R30 miljard per jaar wat Eskom dus moet probeer dek op ander maniere."

Uit Eskom se 2,1 miljoen nulkopers - koopkragverbruikers wat die afgelope agt maande geen krag (wettiglik) gekoop en/of verbruik het nie - het 400 000 wel oor die naweek tougestaan om hulp te kry sodat hul kragmeters nie onbruikbaar sou word nie.

LEES OOK | 400 000 ‘kragdiewe' benut amnestie om meters op te dateer

Meters van nagenoeg 1,7 miljoen Eskom-koopkragverbruikers, van wie amper almal beslis nie vir krag betaal nie, is steeds nie opgedateer nie.

Eskom raam die 400 000 mense wat wel nou uit nood betalende verbruikers geword het, verminder die maandelikse verlies met R500 miljoen, maar dit beloop steeds nagenoeg R2 miljard.

Ramokgopa het uitgevaar oor hoe dié soort misdadigheid waarskynlik tot baie meer buitensporige verliese onder munisipaliteite lei. Hy raam dit op sowat R60 miljard per jaar.

"Waar miljarde op miljarde deur wanbetalende koopkragverbruikers aan Eskom verskuldig is, met sy baie meer robuuste moniterings- en ouditstelsels, dink jou net in hoe baie aan munisipaliteite verskuldig is."

'n Groot persentasie munisipale kragverbruikers beskik nog nie oor koopkragmeters nie, maar betaal maandeliks ná verbruik hul kragrekening. Dit bly dus moeilik om te bepaal hoeveel munisipale koopkragmeters omseil word.

Bose kringloop

Ramokgopa het ook uitgevaar teen munisipaliteite.

Die twee groot probleme wat hy uitgelig het, was eerstens hoe munisipaliteite sowat R90 miljard aan Eskom skuld.

Tweedens het hy daarop gewys dat munisipaliteite die tesourie se toedelings om gratis krag aan armes te verskaf vir bedryfsuitgawes benut.

"Hulle span dit in vir hul eie finansiële behoeftes en betaal salarisse en ander dinge daarmee."

Hy meen baie munisipaliteite gee nie gratis krag aan almal wat dit toekom nie. Dit dryf armes dan om krag te steel.

"Wie is dan die slagoffer van die diefstal? Die betalende verbruiker. Hulle dok dubbeld op: eerstens vir hul eie krag en dan deurdat hulle hemelhoë kragtariewe moet betaal omdat Eskom nie die inkomste wat hy nodig het en waarop hy geregtig is, kan invorder nie."

Ramokgopa meen beleid moet dringend verander om munisipaliteite te "omseil" en toelaes vir gratis elektrisiteit "regstreeks" aan kwalifiserende armes toe te ken.

"Jy kan jou indink om munisipaliteite se huidige gebruik van dié toelaes vir bedryfsuitgawes te stuit en meer armes met gratis krag te ondersteun, sal ons groot veranderinge aan beleid moet aanbring."

Hy het nie Netwerk24 se vraag beantwoord oor watter spesifieke beleid verander moet word nie.

"Ons gaan deurdat ons koopkrag oral gaan ontplooi nou begin om beleidsveranderinge mee te bring waardeur armes 'n regstreekse subsidie vir gratis elektrisiteit gaan ontvang."

Dié meganisme, wat reeds bestaan, maar nie suksesvol uitgevoer word nie, is een van die sleutelmaniere hoe groot hoeveelhede kragdiefstal gestuit kan word, meen hy.

'n Nuwe tegnologiese benadering word ook ontwerp om te verseker dat armes nie dan "in nog rye gaan moet staan" om die toelae regstreeks te ontvang nie.

"Uit die menigte munisipaliteite wat groot agterstallige bedrae skuld by Eskom het en aansoek gedoen het om deel van die tesourie se skuldverligtingsprogram te vorm, is 67% nou gediskwalifiseer," sê Ramokgopa.

Al wat munisipaliteite wat deel is van die program moet doen om vir verligting van hul geskiedkundige skuld by Eskom in aanmerking te kom, is om deursigtigheid te verseker en voortaan konsekwent hul lopende rekening by Eskom te vereffen.

"Dis 'n bose kringloop," sê Ramokgopa. "Maar uiteindelik kom dit alles neer op wanbetaling deur verbruikers.

"Ons kan doodeenvoudig nie só aangaan nie. Ongeag aan watter politieke party ons behoort, moet ons nou saam ons stemme dik maak, al is dit hoe ongewild (onder kiesers)."

- william.horne@24.com

William Horne

SPELETJIES VANDAG

CTA