Die regulering van die elektrisiteitsbedryf het nog vasgesteek in die 1990's toe daar 'n vertikaal geïntegreerde kragmonopolie was.
Elektrisiteitsregulering behoort heeltemal verander te word, want die manier waarop dit tans werk, is "fundamenteel verkeerd", het dr. Kilian Hagemann, uitvoerende hoof van die windkragmaatskappy G7 Renewable Energies, Donderdag gesê.
Dié skerp kritiek is uitgespreek by die Africa Oil Week in Kaapstad.
Hagemann meen die toetrede van 'n hele aantal private en onafhanklike kragmaatskappye in die sektor word gereguleer asof dit steeds 'n monopolie is wat gereguleer moet word, en dit skep talle probleme.
Hy was deel van 'n paneelbespreking oor die rol van hernubare energie in die energiemengsel.
Frank Spencer, streekdirekteur vir Suider-Afrika van die groenkragmaatskappy Cainmani, het op sy beurt gesê die Noord-Kaap is nege keer so groot soos Denemarke. Maar die Dene spog so oor hul groenkragbedryf.
As die transmissienetwerk in die Noord-Kaap versterk kan word en die kragvraag daarheen geskuif kan word, kan meer groenkragprojekte in die provinsie gebou word, sê Spencer.
Hy sê sy maatskappy het 'n paar kragprojekte vir myne wat tans 100% van hul krag van termiese elektrisiteit (dus deur die verbranding van iets soos steenkool of diesel) kry. Maar Cainmani se projekte sal die myne voorsien van kragprojekte waar 90% van die elektrisiteit van hernubare energie kom.
Volgens Spencer het batterytegnologie al so gevorder dat dit basiskrag en veel meer kan lewer omdat dit digitaal beheer kan word.
Die innovasie met batterye vorder so vinnig dat batterystelsels van 'n jaar gelede reeds uitgedien is wat prys, tegnologie en prestasie betref, sê Spencer.
Zayd Vawda, hoof-assosiaat van hernubare energie by WSP, sê 'n positiewe tendens vir die toekoms is transmissieprojekte wat privaat gefinansier sal word.
Daarby kan mikro-kragnetwerke 'n belangrike rol speel om mense vinniger uit armoede te help wat nie tans toegang tot elektrisiteit het nie.
Vawda het wel daarop gewys dat daar tans nog geen standaarde en regulasies oor mikro-kragnetwerke is nie. In werklikheid is die onwettige krag wat in townships gebruik word, voorbeelde van informele mikro-kragnetwerke.
Volgens Spencer was hy al betrokke by 10 tot 15 mikro-kragnetwerke wat oor Afrika heen opgerig is, en dit werk. Die ekonomie vir mikro-kragnetwerke maak reeds sin deurdat die koste van die elektrisiteit gelykstaande is aan dié van nasionale kragnetwerke.
Davin Chown, besturende direkteur van Genesis Eco Energy, sê die olie- en gasbedryf kan goed saamwerk met die groenkragbedryf. Lande in Afrika wat groot winste behaal uit die oliebedryf kan van hul welvaartfondse gebruik om elektrisiteitstoegang met behulp van groenkrag in hul onderskeie lande vinniger uit te brei. Daar is ook geleenthede vir die olie- en gasbedryf om saam te werk met aflandige windkrag (windturbines wat ter see opgerig is) en met die waterstof-ekonomie, sê Chown.




















