Die regulasies vir skaliegasontginning oftewel hidrobreking in Suid-Afrika is afgehandel en sal voor einde Oktober in die Staatskoerant gepubliseer word.
Khumbudzo Ntshavheni, minister in die presidensie, het Donderdag in ’n inligtingsessie oor Woensdag se kabinetsvergadering gesê die regulasies sal ’n raamwerk verskaf om die omgewing- en veiligheidsrisiko’s te beheer wat met hidrobreking gepaardgaan.
Gwede Mantashe, minister van minerale en petroleumbronne, het verlede week op Africa Oil Week in Kaapstad gesê as daar ’n deurbraak kan kom met groot olie- en gasontdekkings in Suid-Afrika, kan die ekonomie met tussen 5% en 8% groei. Hy het beleggers genooi om in Suid-Afrika na olie en gas te soek.
Hy het gesê die moratorium op die ontginning van skaliegas kan eers opgehef word ná die publikasie van die regulasies en nadat die mark se belangstelling getoets is.
LEES OOK | BBP kan met tot 8% groei as SA olie vind, hoop Mantashe
Internasionale en plaaslike nieregeringsorganisasies is hewig gekant teen die ontwikkeling van en beleggings in olie en gas.
Vorderingsverslag
Die kabinet het Woensdag ’n vorderingsverslag oor Suid-Afrika se olie- en gassektor ontvang.
Luidens ’n verklaring maak die land groot vordering om sy gasbronne vir sowel kragopwekking as brandstof as ’n hefboom te gebruik. Suid-Afrika se skaliegasbronne in die Karookom word op tot 200 triljoen kubieke voet geraam.
Die land wil eksplorasie in sowel aanlandige as aflandige markte versnel om die volle potensiaal van sy olie- en gashulpbronne te ontsluit.
Voortgesette eksplorasie en produksie sluit in die Virginia-gasprojek in die Vrystaat, die Amersfoort- en Volksrust-gasprojek in Mpumalanga en die Lephalale-steenkoolbed-metaangasprojek in Limpopo. Dié projekte het beduidende aardgas- en heliumbronne.
Dion George, minister van bosbou, visserye en die omgewing, het die skaliegas-regulasies afgehandel.
Die departement van waterwese en sanitasie het reeds sy eie riglyne vir skaliegaseksplorasie uitgereik.




















