Energie

Midvaal soek private vennoot vir elektrisiteit

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Die Midvaal-munisipaliteit in Gauteng is in die proses om sy elektrisiteitsfunksies vir 'n tydperk van 20 jaar aan 'n private maatskappy uit te kontrakteer.

Dié munisipaliteit is die enigste in Gauteng wat nié agterstallig is met sy rekening aan Eskom nie. Midvaal is bekend vir sy goeie bestuur en word telkens deur Ratings Afrika uitgesonder vir sy finansiële volhoubaarheid. Die munisipaliteit gaan nou 'n vennootskap aan met 'n private maatskappy (PPP) vir die bestuur van elektrisiteitsvoorsiening.

Rural Free State, 'n private maatskappy, bestuur sedert 2011 die Mafube-munisipaliteit se elektrisiteitsnetwerk met groot sukses. Die kontrak geld vir 25 jaar en hulle het substasies vervang, sonplase gebou en kragpale vervang. Foto: Elizabeth Sejake
Rural Free State, 'n private maatskappy, bestuur sedert 2011 die Mafube-munisipaliteit se elektrisiteitsnetwerk met groot sukses. Die kontrak geld vir 25 jaar en hulle het substasies vervang, sonplase gebou en kragpale vervang. Foto: Elizabeth Sejake

Die roete wat Midvaal inslaan, is die enigste manier om die kragkrisis op munisipale vlak op te los, aldus die Suid-Afrikaanse vereniging van onafhanklike kragverskaffers (Saippa).

Munisipaliteite landwyd se agterstallige skuld aan Eskom vir grootmaataan­kope beloop reeds R90 miljard en styg maandeliks met tussen R1 miljard en R1,5 miljard, het Eskom se finansiële hoof, Calib Cassim, bevestig.

Só het Eskom onlangs gedreig om kragverskaffing aan Johannesburg op te skort weens dié metro se agterstallige skuld wat al byna R5 miljard beloop.

Die kragverskaffer het ná ingryping deur dr. Kgosientsho Ramokgopa, minister van elektrisiteit en energie, ingestem om sy onderbrekingskennisgewing terug te trek, mits Johannesburg sy huidige rekening van R1,4 miljard vereffen.

Die berg skuld is egter nie Johannesburg se enigste probleem nie. Inwoners loop toenemend deur onder kragonderbrekings weens verouderde infrastruktuur wat vir jare nie behoorlik in stand gehou is nie. Dít is ook die geval in die meeste ander munisipaliteite.

Saippa meen munisipaliteite moet langtermynkonsessies aan private maatskappye toestaan wat hulle daartoe in staat sal stel om finansiering te kry om die netwerke op te knap.

Munisipaliteite moet pragmaties wees en private maatskappye toelaat om hul kundigheid in te bring.

Reginald Hubbard, Midvaal-lid van die burgemeesterskomitee vir ingenieursdienste, het aan Rapport gesê die munisipaliteit se verouderde infrastruktuur is onder die faktore wat oorweeg is met die besluit om 'n private vennoot te betrek. Met die langtermynkontrak en die inkomstestroom daaruit sal die private vennoot finansiering kan kry om die agterstand met instandhouding uit die weg te ruim, en hulle kan die netwerk vir die res van die termyn bestuur en in stand hou.

"Elektrisiteit is ons grootste bron van inkomste," sê Hubbard. Die munisipaliteit hoop dat die ooreenkoms doeltreffendheid sal meebring in die bestuur van die kragnetwerk en dat sy inkomste uit kragverkope sal verbeter. "Die munisipaliteit sal die suksesvolle bieër ondersteun met toekennings wat ons van die regering ontvang," voeg hy by.

Midvaal sal steeds die verspreidingslisensie hou, met die suksesvolle bieër as sy agent. Die munisipaliteit vereis verder dat die private vennoot alle personeel in die munisipaliteit se elektrisiteitsafdeling oorneem en vir minstens drie jaar in diens hou. Die presiese bepalings van die kontrak is nog nie gefinaliseer nie, maar die munisipaliteit sal waarskynlik 'n persentasie van die elektrisiteitsinkomste ontvang, sê Hubbard.

Ongeveer 30 belangstellendes het onlangs 'n interne bieërskonferensie bygewoon, en ongeveer 100 word verwag by 'n bieërskonferensie wat in samewerking met die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika (DBSA) gehou sal word. Midvaal werk saam met die DBSA aan die projek.

Volgens Hubbard sluit die belangstellendes maatskappye van Amerika en China in.

Tommy Garner, 'n uitvoerende komiteelid van Saippa, het vroeër gesê dat 'n mark vir diensverskaffers sal ontwikkel as die geleenthede daar is, soos met onafhanklike kragprodusente gebeur het.

"Die ekonomiese sein moet daar wees. Munisipaliteite moet pragmaties wees en private maatskappye toelaat om hul kundigheid in te bring, eerder as om vas te klou aan tradisionele rolle."

Die maatskappye wat die kortlys haal, sal op 7 Februarie aangekondig word.

Hubbard sê Midvaal sal die eerste munisipaliteit in die land wees wat 'n PPP vir sy elektrisiteitsfunksie aangaan. Die munisipaliteit verwag om, danksy die insluiting van groenkrag van onafhanklike kragverskaffers, vir sy inwoners laer tariewe te kan bied.

Rapport het vroeër berig oor Rural Maintenance se Rural Free State, die maatskappy wat gekontrakteer is om die elektrisiteitsfunksie van die Mafube-munisipaliteit in die Vrystaat te bestuur (alhoewel nie deur 'n PPP nie). Volgens Chris Bosch, uitvoerende hoof, kon Rural vir nege uit die 13 jaar wat hy in Mafube is, kragtariewe laer hou as die energiereguleerder Nersa se riglyn.

Bosch sê selfs 'n groot metroraad soos Johannesburg moet oorweeg om private maatskappye met die nodige kundigheid aan te stel om sy elektrisiteitsfunksie te bestuur.

Antoinette Slabbert

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM