Die hospitaalgroep Netcare wil teen 2030 slegs van groenkrag gebruik maak.
Die groep het 'n groot tree in daardie rigting gegee toe die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) vandeesweek aanbeveel het dat die NOA-groep se lisensie goedgekeur word om in elektrisiteit handel te dryf. In die eerste fase van dié oorskakeling na hernubare energie het Netcare verlede jaar 'n ooreenkoms met NOA aangegaan vir die verskaffing van groenkrag aan ses van sy hospitale. Dit verteenwoordig sowat 11% van Netcare se kraggebruik, wat tans in sy geheel van Eskom kom en meestal met steenkool opgewek word.
NOA sal elektrisiteit aan Netcare en ander kliënte verskaf van sy eie en derde partye se wind- en sonkragplase. Dit word deur die Eskom-kragnetwerk na die kraggebruikers versend.
Al ses die hospitale is in Eskom se verspreidingsgebied waar dié soort versending niks nuuts is nie. Die eerste krag sal na verwagting vroeg in 2026 na die Netcare-hospitale begin vloei.
NOA Trading het reeds ooreenkomste vir 3 000 MW se hernubare opwekkingsvermoë beklink en werk na 'n mikpunt van 5 000 MW teen 2030.
Benewens Netcare sluit NOA se kliënte in Harmony Gold, wat reeds sonkrag van NOA se drie 10 MW-sonplase kry, die chemiese maatskappy Tronox, Old Mutual Properties en 'n datasentrum en 'n mangaanmyn. Old Mutual se African Infrastructure Investment Managers (AIIM) is een van sy groot aandeelhouers met 'n belegging van R3,2 miljard in die groep.
"Met 'n kombinasie van son- en windkrag en batteryberging sal ons hernubare energie kan verskaf vir meer as 70% van ons kliënte se kragbehoeftes," sê Andrew Taylor, hoof van verhandeling by NOA.
NOA is ook besig om saam met die metro's van Kaapstad, Ekurhuleni, Nelson Mandelabaai en Midvaal te werk om die raamwerk vir kragversending in hul munisipale gebiede te ontwikkel.
Hoewel die verskynsel van 'n kraghandelaar al jare deel van die Suid-Afrikaanse kragverskaffingsbedryf is, het die getal gelisensieerde handelaars die afgelope jaar drasties toegeneem.
So 'n handelaar is 'n middelman tussen die onafhanklike kragopwekker en die eindverbruiker, wat meestal groot nywerhede en ondernemings is.
Die handelaar gaan langtermynooreenkomste aan met die onafhanklike kragopwekker en verkoop dan die krag aan een of verskeie eindverbruikers wat dikwels te klein is om op hul eie met die kragopwekkers sake te doen.
Hul elektrisiteitverbruik is dalk te klein of hulle kan hulle nie tot die vereiste 15 of 20 jaar lange kontrakte verbind nie.
Eskom het vroeër vanjaar nog beswaar gemaak toe Nersa vier sulke lisensies oorweeg het en aangevoer dat sy lisensie vir kragverspreiding hom die eksklusiewe reg gee om krag in daardie gebiede te verskaf.
Salga, die vereniging vir plaaslike regerings, het dié standpunt gesteun. Nersa het nietemin die vier lisensies en nou dié van NOA goedgekeur.
Die kwessie van eksklusiwiteit is ook 'n twispunt in die Wysigingswet op Energieregulering, wat op 1 Januarie in werking tree en die raamwerk daarstel vir 'n mededingende elektrisiteitsmark.
Pres. Cyril Ramaphosa het bepaal dat die definisie van "retikulasie" - die verspreiding wat munisipaliteite doen en nou handel in elektrisiteit uitsluit - nie saam met die res van die wet in werking tree nie.






















