
Terwyl die land steeds in beurtkrag gedompel is, blyk dit nou 'n gesloer met die toestaan van permitte vir hernubare energie maak dat dit minstens sewe jaar duur voordat nuwe kragopwekking kan plaasvind.
Peter Venn, uitvoerende hoof van Seriti Green, sê hulle het al in 2018 aansoek gedoen om 'n permit om 'n windplaas in Mpumalanga op te rig, maar hulle kon eers onlangs begin met die konstruksie daarvan.
"Dis vyf jaar om 'n permit te kry en dan nog twee jaar om te bou. Ons kyk dus na sewe jaar voordat daar iets is om voor te wys," het hy aan Rapport gesê.
Die windplaas - Ummbila Emoyeni - is geleë tussen Bethal en Morgenzon en is 'n kombinasie van 750 megawatt windkrag en 150 megawatt sonkrag.
Maar waar Seriti Green met sukses die boeregemeenskap in Mpumalanga aan boord gekry het vir Ummbila, kry windkrag die wind van voor in die Oos-Kaap.
Die Indalo Private Wildreservaat-vereniging, wat bestaan uit eienaars van bekende wildplase in die provinsie, baklei hard teen die oprig van windplase - veral in die omgewing van Makhanda (voorheen Grahamstad).
Hulle kla windplase sal die omgewing ontsier en dit hou 'n groot bedreiging in vir die provinsie se erfenis en natuurlewe.
Graeme Rushmere, mede-eienaar van Kariega, sê hulle is glad nie teen die oprigting van windplase gekant nie, maar wel teen die ligging waarop besluit word.
Die gebied van die Amathole tot by Addo spog met van die grootste biodiversiteit ter wêreld en daar is ook internasionale druk om dit te bewaar.
Angus Sholto-Douglas, besturende direkteur van die Kwando- private wildreservaat, sê die vereniging stem saam dat hernubare energie die oplossing vir die land se energiekrisis is, "maar windplase moet ontwikkel word op geskikte plekke waar die impak die laagste moontlik is".

Hy sê indien die regering en windplaas-ontwikkelaars nie 'n meer ingeligte benadering volg oor waar windplase in die Oos-Kaap moet kom nie, sal dit die provinsie se biodiversiteit vernietig en toerisme knou. "Bestaande en potensiële werkgeleenthede sal verlore gaan."
William Fowlds, 'n wildveearts en natuurbewaarder in die Oos-Kaap, sê sy grootste bekommernis is die olifante en renosters wat benadeel gaan word deur die oprig van die windplase.
"Dit gaan die natuurlike habitat van die olifante en renosters in daardie spesifieke areas negatief beïnvloed. Dit gaan ook die mooiheid van die landskap verander en toerisme skaad."
Intussen sê Venn die voorgenome windplaas in Mpumalanga sal uiteindelik 900 MW se groenkrag kan opwek.
Seriti Green is 'n filiaal van die steenkoolmynboumaatskappy Seriti Resources en gestig spesifiek om groenkragprojekte te ontwikkel. Die windplaas sal na verwagting in 2025 sy eerste krag lewer waarvan 75% vir Seriti Resources se steenkoolbedrywighede sal gaan.
Venn sê Mpumalanga sal in die volgende tien tot 15 jaar die spilpunt wees van groenkragprojekte. Daar was aanvanklik groot skeptisisme oor windkragprojekte in die provinsie, wat relatief windstil is vergeleke met plekke soos die Wes- en Oos-Kaap. Venn sê daar is nuwe tegnologie wat ingespan word om te wys waar die bes moontlike windkragopwekking in Mpumalanga sal wees.























