Wanneer die grootste private windplaas tot dusver in Suid-Afrika teen vroeg 2027 voltooi is, sal dit aanvanklik 39 windturbines met 'n opwekkingskapasiteit van 6,2 MW per turbine behels.
Dit beteken die windplaas se teoretiese opwekkingskapasiteit sal net onder 242 MW wees, maar 'n tweede fase word beplan wat dit tot 380 MW kan uitbrei.
Die windplaas word naby Swellendam in die Overberg beplan, en die projek het pas sy finansiering beklink danksy hulp van die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika, asook finansiering van Absa en Standard Bank, luidens 'n verklaring.
Die windturbines van 6,2 MW elk word deur die Chinese vervaardiger Goldwind verskaf. Dit is reusagtige masjiene wat sover vasgestel kan word die grootste tot op hede is wat in Suid-Afrika en Afrika as geheel gebruik sal word.
Die grootste windturbines tans in die land is by die Karusa-windplaas van Enel Energy in die Karoo Hoogland-distrik in die Noord-Kaap, waar turbines van 4,2 MW elk van die Deense vervaardiger Vestas gebruik word. Windplase op land gebruik gewoonlik turbines van 2 MW tot 4 MW elk, terwyl windplase ter see groter turbines van minstens 8 MW gebruik.
Die eerste windplase in Suid-Afrika het meestal windturbines van Europese vervaardigers soos Siemens en Nordex van Duitsland of Vestas van Denemarke gebruik.
Die totale opwekkingsvermoë vir die uiteindelik voltooide projek, 380 MW, is byna drie keer die 138 MW van Mainstream Renewables se windplaas by Jeffreysbaai in die Oos-Kaap, aanvanklik een van die grootste windplase in die land.
Anders as die Jeffreysbaai-windplaas en die meeste ander windplase in die land tans, is die Overberg-windplaas 'n heeltemal private projek. Dit sal nie via die regering se groenkragprogram elektrisiteit aan Eskom verkoop nie.
Die projekontwikkeling word gelei deur Red Rocket, wat 'n regstreekse private kragkoopooreenkoms met Richards Bay Minerals (RBM) gesluit het om 230 MW van die opwekkingskapasiteit te koop.
Dit sal jaarliks sowat 750 gigawatt-uur se skoon elektrisiteit aan RBM lewer, wat laasgenoemde se koolstofvoetspoor met sowat 30% sal verminder - die ekwivalent van 700 000 ton koolsuurgas per jaar.
Die finansiering vir die projek is al op 13 Maart beklink.
Luidens 'n verklaring wat Red Rocket in Maart uitgereik het, is die 230 MW wat aan RBM gelewer word, die eerste fase van die windplaas. Die kragkoopooreenkoms tussen Red Rocket en RBM strek oor 20 jaar.
Red Rocket het reeds ander wind- en sonkragprojekte in Suid-Afrika as deel van die staat se groenkragprogram, en het ook 'n sonkragaanleg in Uganda gebou.
- francois.williams@24.com













