Renergen gooi wal ná aandeelprys tuimel

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
’n Uitsig op Renergen se aanleg naby Virginia in die Vrystaat. Foto: Renergen/X
’n Uitsig op Renergen se aanleg naby Virginia in die Vrystaat. Foto: Renergen/X

Die aandeelprys van die Vrystaatse gasmaatskappy Renergen het Maandag met 'n hele 10% tot meer as R5 gestyg.

Dit volg egter op 'n skerp daling in die maatskappy se aandeelprys die laaste paar maande sedert Augustus, toe dit op byna R13 gaan draai het.

Renergen is 'n relatief klein maatskappy wat aardgas en helium op 'n gasveld naby Virginia in die Vrystaat ontgin.

Die maatskappy het egter 'n paar tegniese terugslae die afgelope jaar ondervind in sy poging om die produksie van spesifiek helium op dreef te kry.

Dit het onder meer aanleiding gegee tot 'n oënskynlik erg negatiewe sosialemediaveldtog onder aandeelspekulante en daghandelaars.

Dit het Stefano Marani, uitvoerende hoof van Renergen, selfs genoop om Vrydag 'n verklaring op die JSE se Sens-nuusdiens uit te reik waarin hy probeer verduidelik wat die maatskappy se uitdagings is.

Volgens Marani produseer Renergen reeds vloeibare aardgas wat hy aan kliënte verkoop. Die probleem is met die verkoelingstegnologie en logistiek om die helium wat hy ontgin aan 'n kliënt te lewer, en volgens Marani werk hulle nog aan die beste logistieke oplossing daarvoor. Hulle mik om binnekort 'n opdatering hieroor te kan gee.

Volgens Marani is die rede vir die vertragings om die houers van 'n spesifieke helium-kliënt met helium te vul, te wyte aan die feit dat die aanleg nog nie teen sy volle kapasiteit bedryf word nie. Die doeltreffendheid sal verbeter namate meer boorgate gesink word en die aanleg groter volumes helium ontvang om te verwerk. Dan sal die probleme en ondoeltreffendheid van kleinskaalse gasverwerking oorkom kan word, volgens Marani.

Hy het beklemtoon dat die helium wat Renergen daar ontvang van 'n baie hoë suiwerheidsgehalte is, en dit is deur twee onafhanklike laboratoria geverifieer.

Marani het aandeelhouers verseker dat Renergen nie sakereddingsgesprekke voer nie, en dat die maatskappy toegang het tot die nodige krediet, soos reeds aangedui in 'n kwartaalverslag wat einde Desember uitgereik is.

Marani het aandeelhouers gemaan om nie beleggingsbesluite te maak wat op gissings gegrond is nie, maar om eerder op amptelike kommunikasie van die maatskappy te steun.

'n Ander uitdaging waarmee Renergen stoei, is 'n hofsaak met Springbok Solar, 'n sonkragmaatskappy wat aanvoer Renergen oortree met sy bedrywighede op grond waar Springbok Solar die regte het om 'n sonkragaanleg te bou. Renergen het in Desember gesê dié saak is naby daaraan om besleg te word, met 'n hofdatum wat vir Februarie gestel is. Renergen verwag die geskil kan bygelê word sodat die sonkragaanleg en die gasbedrywighede vreedsaam kan voortgaan.

Volgens Renergen het hy in die derde kwartaal van sy boekjaar - dus die drie maande tot einde November - 1 124 ton vloeibare aardgas geproduseer.

Te midde van 'n dreigende gastekort in Suid-Afrika wanneer Sasol teen 2028 nie meer aardgas van Mosambiek aan kliënte sal lewer nie, is Renergen een van die maatskappye wat angstig is om te sorg dat hul gasproduksie op dreef kom om te help voldoen aan die vraag.

Maar kritici is besorg oor die koste en vertragings om sy aanleg in volle produksie te kry.

- francois.williams@24.com

SPELETJIES VANDAG

CTA