Die grootste kragversendingsprojek (wheeling) wat tot dusver in Suid-Afrika aangepak is, is vandeesweek by Lichtenburg in Noordwes amptelik in bedryf gestel.
Die Sola-groep het twee sonkragaanlegte van meer as 200 MW amptelik aangeskakel.
Dit sal krag op Eskom se netwerk laai, maar die elektrisiteit word regstreeks by Sola aangekoop deur Tronox Mineral Sands, wat dit vir vyf van sy aanlegte in KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap sal gebruik.
Tronox produseer titaniumdioksied-pigment, sirkoon en ander titanium-chemikalieë. Tronox ontgin die sand waaruit die titaniumdraende minerale onttrek word onder meer by 'n aanleg naby Koekenaap aan die Weskus.
Die projek het investering van meer as R200 miljoen in die plaaslike gemeenskap van Lichtenburg meegebring, en volgens Sola word honderde permanente en tydelike werkgeleenthede geskep.
Jonathan Skeen, handelsbestuurder en woordvoerder van Sola, het by die geleentheid gesê dit is die eerste projek van dié grootte wat in bedryf gestel word sedert die lisensiëringsperk op private kragopwekking opgehef is.

Dit is ook 'n voorbeeld van 'n openbare-private-vennootskap.
Dit behels twee sonkragaanlegte buite Lichtenburg, bestaande uit een van 126 MW en die ander van 130 MW.
Kragversending vergemaklik veral die gebruik van hernubare energie, want die eindgebruiker hoef nie noodwendig reg langs die opwekkingsbron te wees om die krag te kan gebruik nie.
Volgens Sola is die projek een van die eerste groot sonkragprojekte wat buite die Noord-Kaap gebou is. Die Noord-Kaap is tradisioneel as die beste ligging vir sonkrag beskou, maar weens die perke op Eskom se nasionale kragnetwerk het dit nodig geword om ander liggings te begin oorweeg.
Volgens Katherine Persson, besturende direkteur vir bates van Sola, was Noordwes die volgende beste provinsie om te oorweeg. "Ons projekte is sowat 10 km noord van Lichtenburg gebou in 'n provinsie waar ons voordeel trek uit goeie sonbestraling, geskikte grond en die netwerkverbinding wat nodig is vir 'n projek van dié omvang."
Die projekte het 789 tydelike werkgeleenthede vir die plaaslike gemeenskap geskep, en nog 147 poste by klein, mikro- en middelslagondernemings. Tot 305 werkers is in kleinsake-vaardighede opgelei.
Volgens Sola sal die Noordwes-ekonomie groot voordeel trek uit nog sonkragprojekte wat vir die provinsie beplan word. Sola werk byvoorbeeld aan nog 'n sonkragaanleg in die omgewing teen 'n kapitaalbedrag van R1,9 miljard.
Mpho Motho, besturende direkteur van Tronox in Suid-Afrika, sê die maatskappy se bedrywighede is hoogs energie-intensief. Die aankoop van groenkrag by Sola beteken Tronox kan sy koolstofvoetspoor verklein, en dit verseker Tronox se ekonomiese lewensvatbaarheid. Dit bied hom ook groter sekerheid oor die langtermyn-bekostigbaarheid van die elektrisiteit wat hy gebruik.
Volgens Motho is die Sola-projek 'n deurbraak vir die private energiemark.
Syfers oor die projek
• Die sonkragaanlegte bestaan uit meer as 390 000 sonpanele, elk gemonteer op 'n enkel-as wat die son deur die dag volg om optimale bestraling te verseker.
• Dit is opgerig op 'n perseel van 430 hektaar en sal jaarliks 593 721 megawatt-uur se elektrisiteit opwek - ekwivalent aan die kragverbruik van meer as 80 000 gemiddelde huishoudings.
• Dit sal meer as 420 760 ton se koolsuurgasvrystellings per jaar vermy.





















