Reis

Salig in die berge: Twee heerlike kampplekke naby Citrusdal vir rus en vrede

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Daar is 'n tyd en plek vir alles. Soms is dit lekker om die kinders te bederf en by 'n oord in te trek met hemelhoë waterwurms, interessante minigholfbane en warm swembaddens.

Ander kere is 'n mens nie in die luim vir dié soort uitbundigheid nie; dan trek jou hart 'n punt na 'n wegkruipplek diep in die bos. Dis net die regte medisyne, veral as jou alledaagse bestaan jou so stukkie vir stukkie begin onderkry.

Dieselfde soort medisyne kry jy as jy op 'n plaas kamp. Die stille natuur is waarna jy die meeste smag en as daar iets te doen is, doen jy dit saam met jou hartsmense.

By albei die plekke waar ons ingeloer het, het 'n paar van die kampeerders mekaar geken en dit was duidelik dat gehaltetyd met mekaar die grootste prioriteit was.

Goudkop is geleë tussen Citrusdal en Elandsbaai. Dis Sandveld dié - aartappelwêreld - en ons draai sommer wyd om 'n trekker met 'n sleepwa vol aartappels toe ons by Goudkop indraai. Lylius, weer, is boegoewêreld - geleë in 'n bergland­skap tussen Citrusdal en Clanwilliam.

Op albei plase word met rooibostee geboer, en elkeen bied aan kampeerders 'n unieke ervaring.

GOUDKOP

Die gat en die kop

'n Boswa is ideaal vir die roete.
'n Boswa is ideaal vir die roete.

Goudkop se kampplek is amper bo teen 'n rantjie, en 'n mens neem sommer aan die naam het iets te doen met dié koppie, maar dit is nie die geval nie.

Die regte koppie is aan die oorkant van die grootpad, en dit is een met 'n interessante geskiedenis. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het twee ouens glo hier kom wegkruip in 'n poging om die oorlog te vermy.

Hulle het aan die voet van die koppie 'n tonnel gegrawe sodat hulle daar kon wegkruip, maar toe ontdek hulle goud!

Blykbaar was dit nie naastenby genoeg om dit lewensvatbaar te myn nie, maar die tonnel se opening is vandag nog te sien. Die koppie is langs 'n vlei en het 'n driehoeksbaken bo-op.

Die eintlike plaas se naam is Skrik van Rondom en die kampplek is sowat 3 km se stadige klim die rantjie uit.
Die eintlike plaas se naam is Skrik van Rondom en die kampplek is sowat 3 km se stadige klim die rantjie uit.

Die eintlike plaas se naam is Skrik van Rondom en die kampplek is sowat 3 km se stadige klim die rantjie uit.

Maar voor jy verder ry, maak eers 'n draai by die plaasstal - dis by die hek waar jy indraai.

Maak eers 'n draai by die plaasstal - dis by die hek waar jy indraai.
Maak eers 'n draai by die plaasstal - dis by die hek waar jy indraai.

Hier kan jy roosterkoek koop, olyfolie tap of aansit vir 'n vinnige ontbyt of middagete.

Jy kan ook vleis en allerlei gegeurde Goudkop-rooibostee koop, en as jy 'n byt op die tong hou, kry Skrik van Rondom se ingemaakte jalapeño's.

Nou ry jy deur 'n volgende hek na die kampplek toe - die paadjie is plek-plek sanderig, maar dis vasgetrap en jy sal dit maklik maak met 'n gewone kar en padwa.

Ná 1,1 km loop die grondpad teen die heining vas. Dan klim jy stadig vir 1,7 km waarna jy wegswenk en 40 m verder by die eerste staanplek uitkom.

Die staanplekke is effens hoër as die inrypad en die voorkant van jou staanplek het dus 'n kort skuinste.
Die staanplekke is effens hoër as die inrypad en die voorkant van jou staanplek het dus 'n kort skuinste.

Links van die inrypad lê vyf staanplekke in gelid met jong boompies wat geplant is om staanplekke te skei. Die staanplekke lyk omtrent almal ewe groot (ongeveer 10 x 10 treë), maar die eerste een is sowat 'n derde groter.

Die mense op die ander punt kon plek maak vir hulle Bush Lapa Ratel se stoepdak en 'n storttent aan die agterkant, plus hulle Toyota Fortuner.

Die staanplekke is effens hoër as die inrypad en die voorkant van jou staanplek het dus 'n kort skuinste, maar jy gaan nie jou staanplek kan binnery nie, want jy kan nie deurry nie en ook nie omdraai nie. Jy sal moet terugstoot om die wa op die regte plek te kry.

Op die staanplekke groei wildegras, wat gaaf is in droë wêreld soos dié. Die gras is natuurlik ook 'n heerlike happie vir die elande - oral sien 'n mens hulle mis.

Gretha Markus ontmoet jou in die kampplek en handel die papierwerk af - terloops, hulle het kaartgeriewe.

Hulle sê

Die hele groep was al voorheen by Goudkop, maar dit was Deon-hulle se eerste keer.

Dis wat hulle dink: "Die boma-kuierplek is wonderlik en ons venster van hier bo oor die Sandveld vorm 'n ongelooflike agtergrond as jy hier staan en kamp."

Meer oor die staanplekke

Jou kragpunt het twee boksies wat gemerk is: Die een gee krag van 'n opwekker af en die ander is die sonkragstelsel - hier kan jy dus vir 'n wyle vergeet van beurtkrag.

Anderkant die verste staanplek is ook 'n windturbine op 'n hoë paal wat die batterye help laai.

Jy het jou eie vullisdrom en 'n paar los lorrievellings op pote wat jy as braaiplek kan gebruik. Bring net jou eie rooster.

Van hier af het 'n mens 'n lieflike uitsig, met 'n klompie berge wat in die verte die horison vorm. Die son kry sy laaste stuiptrekkings by 'n klein koppie by die tweeuurmerk.

Later sê Jerry Beat dit is Klein-Tafelberg, 22 km van hier af.

Die badkamergeriewe oorkant die staanplekke bestaan uit twee oop houthuisies.
Die badkamergeriewe oorkant die staanplekke bestaan uit twee oop houthuisies.

Jy het twee keuses as dit by die geriewe van die badkamers kom: baie basiese wasplek sonder lig, of 'n gewone stort­vertrek en toilethokkie.

Oorkant die staanplekke verderaan - anderkant die pad - is twee aparte vertrekke van houtlatte. In die een is twee aparte toilette en in die ander twee storte. Dit het ook nie deure nie, maar die uitleg sorg vir privaatheid.

Die badkamer het twee aparte toilette en die ander een twee afsonderlike en ruim storte.
Die badkamer het twee aparte toilette en die ander een twee afsonderlike en ruim storte.

Die vloer is van beton en dit voel behoorlik soos 'n bosstort, maar die gasgeiser hou by en jy kom skoon met warm water. Dis só ruim jy en jou ander helfte kan gelyk skoonkom - dis heerlik om so amper in die oopte te stort.

Net verby die laaste staanplekke is 'n gebou met 'n swembad in die middel.
Net verby die laaste staanplekke is 'n gebou met 'n swembad in die middel.

Net verby die staanplekke is 'n gebou met 'n oop binnehof. Hier is 'n klein swembad en rondom 'n paar kamers vir gaste. Teen die een kant af is twee aparte en meer private storthokkies en drie toilette - ook elk op sy eie.

Die hokkie het net 'n nat deel, maar dis heel voldoende as jy nie die ander geriewe wil gebruik nie. Hier is ook 'n spieël.

Aan die agterkant van die buitestorte 'n groot boma waar mense saam kan kuier.
Aan die agterkant van die buitestorte 'n groot boma waar mense saam kan kuier.

By hierdie kamers is onder meer 'n vertrek met 'n grootskermtelevisie, en tussen die gebou en die agterkant van die buitestorte 'n groot boma waar mense saam kan kuier.

Die kinders se speelplek is agter die boma. Dis 'n klouterraam met swaaie, maar redelik weggesteek.
Die kinders se speelplek is agter die boma. Dis 'n klouterraam met swaaie, maar redelik weggesteek.

Die skottelgoed-opwasplek is ook hier, met die kinders se speelplek agter die boma. Dis 'n klouterraam met swaaie, maar redelik weggesteek.

Maak seker jy bespreek 'n wildrit. Jerry, wat al 23 jaar op die plaas is, ken die 730 ha diékant van die teerpad soos die agterkant van sy hand.

Hier word met wild geboer soos elande, koedoes, blou- en gouewildebeeste, springbokke, gemsbokke en bontebokke.
Hier word met wild geboer soos elande, koedoes, blou- en gouewildebeeste, springbokke, gemsbokke en bontebokke.

Hy vertel die staanplekke is omtrent tien jaar gelede ingerig en hier word met wild geboer soos elande, koedoes, blou- en gouewildebeeste, springbokke, gemsbokke en bontebokke.

Maak seker jy bespreek 'n wildrit.
Maak seker jy bespreek 'n wildrit.

By die plaasstal kan jy eland-, vlakvark-, gemsbok- en blouwildebeesvleis koop, maar hulle het wel ook beesvleisprodukte.

Die veld is oortrek met rietbos, wat lyk soos reusegraspolle - Jerry sê die elande smul heerlik hieraan. Dan wys hy vir ons van die aartappellande... en sowaar, sit daar 'n witkruisarend in een van die landerye op die grond.

'n Entjie verder in die veld trek ons af. Jerry kry twee handskoene en loop tot by 'n stekelrige vetplant met groeisels soos vet vingers. Dis die ghaap, of Hoodia gordinii, waarmee hulle ook rooibostee geur.

Die ghaap, of Hoodia gordinii, waarmee hulle ook rooibostee geur.
Die ghaap, of Hoodia gordinii, waarmee hulle ook rooibostee geur.

Jerry pluk een van die vingers en kom wys dit van nader.

Hy sê dit het 'n vrank, bitter smaak en demp 'n mens se eetlus - die Boesmans het daarvan geëet om energie te kry wanneer hulle in die veld agter diere moes aanhardloop.

Jerry wys vir ons nog elande en sê dié met die strepe is die Livingstone-eland.

Die tonnel by Goudkop is gewoonlik nie deel van die rit nie, maar ons vra om dit te sien en Jerry neem ons oor die pad. Hy wys na die klein spore langs die bek en sê deesdae woon daar ystervarke.

Wegkruipers het aan die voet van die koppie 'n tonnel gegrawe sodat hulle daar kon wegkruip, maar toe ontdek hulle goud!
Wegkruipers het aan die voet van die koppie 'n tonnel gegrawe sodat hulle daar kon wegkruip, maar toe ontdek hulle goud!

'n Mens sal maklik deur die opening pas, en Jerry sê hy het inderdaad al self ingeklim. Die tonnel loop omtrent 70 m onder die koppie in.

Kortliks | Goudkop

Pak jou tent of haak die boswa.
Pak jou tent of haak die boswa.

Kampplek 5 staanplekke langs mekaar op 'n grasterras met nie veel koelte nie. Selfoonontvangs is nie van die beste nie.

Ablusiegeriewe Spartaanse geriewe oorkant die staanplekke en gewone stort­hokkies en toilette by 'n gebou 'n kort entjie van die staanplekke af.

Aankoms- en vertrektyd 14:00-18:00 en 10:00.

Kontak info@goudkop.co.za | goudkop.co.za | 082 385 9931

Naaste dorp? Redelinghuys 19 km.

Hoe lyk die pad? Die laaste 2,8 km is plek-plek sanderig, maar dis meestal vasgetrap - 'n grondpad waar jy sonder sukkel met jou stadsvoertuig en gewone padwa kan ry.

GPS S32.550932 E18.700720

Groot waarheid.
Groot waarheid.

Ry & Sleep sê Maak seker jy koop 'n boksie Goudkop-rooibostee en bepreek 'n wildrit saam met Jerry.

LYLIUS

Die berge in

Jy kán met jou gewone wa en voertuig oor die stukkie van 4,7 km kruip tot in die kampplek, maar 'n grondpad- of boswoonwa gaan beter vaar.
Jy kán met jou gewone wa en voertuig oor die stukkie van 4,7 km kruip tot in die kampplek, maar 'n grondpad- of boswoonwa gaan beter vaar.

Lylius is skaars 33 km noordoos van Goudkop. Padlangs moet jy eers oor die Piekenierskloofpas ry, verby die afdraai van die Koningskop- en Kardoesie-kampplek naby die bopunt. Hou verby Citrusdal se afdraai op die N7 en kyk uit vir die Algeria-bordjie na regs.

Die grondpad wat voorlê, is goed sinkplaat gery. Jy kán met jou gewone wa en voertuig oor die stukkie van 4,7 km kruip tot in die kampplek, maar 'n grondpad- of boswoonwa gaan beter vaar. Lylius het ook 'n paar staanplekke wat spesiaal vir tente uitgehou word.

Jy moet oor die Olifantsrivier ry, maar of jy enig­sins water gaan sien, hang af van die seisoen.
Jy moet oor die Olifantsrivier ry, maar of jy enig­sins water gaan sien, hang af van die seisoen.

Soos jy nou die berge inry, is jy gelukkig as jou selfoon werk. Een nag het van ons fone se boodskappe deurgekom, maar dit is eerder 'n teken dat daar nou welkome afstand tussen jou en die besige lewe is.

Skaars 1,5 km verder moet jy oor die Olifantsrivier ry, maar of jy enig­sins water gaan sien, hang af van die seisoen. Dis 'n laagwaterbrug van net meer as 200 m en op Google Maps gemerk as die Kriedouwkransbrug.

Albei punte van die brug is 'n enkelbaan, maar die middelste deel is breër en voertuie kan verby mekaar ry.

Ons is einde Februarie hier oor, en dan lyk die rivier soos 'n uitgestrekte wit strand. Die afdraai na die kampplek Lebanon Citrus is direk ná die brug links, maak hou reguitaan Lylius toe.

Hierdie staanplekke staan saam bekend as die Grass­fields-staanplekke.
Hierdie staanplekke staan saam bekend as die Grass­fields-staanplekke.

Die kampplek is teenaan die pad en is geleë op die plaas Krieberg wat 1 700 ha groot is. Buiten die kampgeriewe boer die eienaars, Corné en Lydia van der Westhuizen, ook met rooibos en boegoe.

Lylius se uitgestrekte groen grasperk regs van die pad lyk omtrent soos die goedversorgde skoonveld van 'n gholfbaan. Jy kan maar byvoorbaat jou plakkies in die kar los en sommer kaalvoet naweek hou.

Terloops, hier is nie 'n kantoor nie; tref al jou reëlings vooraf sodat jy ook kan weet watter staanplek aan jou toegewys is.

Die grasperk loop van die hek af in die vorm van 'n L, met die staanplekke wat in die lang been uitgelê is. Die bene is onderskeidelik 170 m en 280 m lank en gemiddeld sowat 30 m breed - dis dus 'n enorme stuk gras, maar hier is net ses staanplekke uitgelê.

Grassfields se badkamergeriewe verdien 'n pluimpie.
Grassfields se badkamergeriewe verdien 'n pluimpie.

Elkeen het sy eie badkamergeriewe en 'n mens is dus heel privaat. Hier is boompies, maar hulle is nog klein - bring dus jou eie koelte saam.

Wat Lylius uniek maak, is dat hier meer as een gesin rondom 'n badkamervertrek kan inpas. 'n Hele paar gesinne kan dus 'n staanplek deel.

Vier van die staanplekke - Karee, Marula, Pear en Mango - is op die grasperk se buiterand ingerig. Soos jy ingery kom, is almal regs, behalwe Pear heel links. Hierdie staanplekke staan saam bekend as die Grass­fields-staanplekke.

Soos jy deur Lylius se hek ry, is daar 'n afdraai links na die Taaibos-staanplek, oorkant Karee en Marula.

Dit is effens verhewe op 'n rantjie en kyk uit oor Grassfields. Hier staan 'n hoë droë stomp waarop 'n tarentaal met ons besoek besluit het hy is vroegoggend die kampplek se wekker.

Taaibos kry die laaste middagson, wanneer die staanplekke laer af lankal in die koelte van die koppie lê.

Taaibos het ook sy eie badkamergeriewe, maar anders as die ander staanplek is hier ook 'n groot afdak met 'n bankie en tafel.

Met ons besoek het vyf gesinne dié deel beset, en daar was genoeg plek oorkant hulle kuierplek vir 'n paar boswoonwaens, tente en boswaens plus al die sleepvoertuie.

Grassfields se badkamergeriewe verdien 'n pluimpie. Die gebou bestaan eenkant uit 'n oop kombuisvertrek met 'n betonvloer, en daar's 'n aparte ingang vir die badkamer.

Die werkblad van beton strek oor die hele lengte van die vertrek en daar's 'n wasbak vir die skottelgoed.

'n Gassilinder vir die warmwatergeiser staan onder die blad plus twee kratte braaihout. Die vullisdrom staan ook hier, plus die dubbele 220V-kragpunt wat met huisproppe werk.

As meer as een gesin dus 'n staanplek deel, onthou jou verlengkoord.

Die eienaars bederf die kampeerders behoorlik: Teen die klipmuur hang daar 'n toekniprooster, braaitang en draadborsel met 'n welkome "Geen harde musiek"-bordjie bo dit.

Jou vuurput is voor die gebou met 'n staalraam waarop die handrooster pas.

'n Deel van jou stort het 'n klipmuur rondom, maar dis oop sonder deure of gordyne. Net soos by Goudkop is die ingang só gebou dat dit privaat is.

Op die verste punt van die L begin 'n tweespoorpad met 'n bordjie wat wys "Private staanplekke".

Dit is die Forest-staanplekke, sowat 200 m anderkant die bordjie en bedoel vir tente. Met ons besoek was hier kampeerders en ons wou hulle nie pla met 'n notaboekie en kamera nie.

Ons het dus nie die geleentheid gehad om self te sien hoe die plek lyk nie, maar ons verneem hierdie staanplekke het hulle eie badkamergeriewe, 'n lapa en 'n kombuis met krag en ligte.

By die Forest-staanplekke is daar ook ekstra hout en 'n staanvrieskas.
By die Forest-staanplekke is daar ook ekstra hout en 'n staanvrieskas.

Net voor die tweespoorpad staan 'n klein gebou regs wat lyk soos die Grassfields se badkamers. Die geriewe is soortgelyk, maar hier is ook 'n staanvrieskas. En as jy al jou staanplek se hout of gas opgebruik het, kan jy hier nog kom kry.

Langs hierdie gebou loop jy oor 'n plat houtbruggie tot by die volgende gebou.

Dis in dieselfde styl as al die ander geboue met 'n klipmuur, betonvloer en oop kante, maar hieronder is twee bankiestelle en teen die muur af ook 'n werkblad met 'n wasbak.

Koele lafenis.
Koele lafenis.

Op die ander punt is 'n swembad met die skoonste blou water. Op die nader punt is 'n vuurput in die oopte.

Duidelike rigtingwysers maak seker jy weet waar jy is.
Duidelike rigtingwysers maak seker jy weet waar jy is.

Hier sien jy 'n bordjie vir die Buchu-wandelpad. Dis waar dit uitkom, maar die ander punt is by die speelplek net voor Karee.

Die kinderspeelplek is in die koelte en 'n mens hoef nie eens te bodder met sonroom nie. Die klouterraam het 'n paar swaaie en 'n glyplank.

Die wandelpad is netjies uitgelê en jy stap die eerste deel teen 'n rotswand saam met die kontoer. Naderhand swenk jy links om die koppie, waar die paadjie meer van 'n helling kry. Dis steeds 'n maklike stap en selfs kleintjies sal dit kan baasraak.

Deel van die boegoe-staproete.
Deel van die boegoe-staproete.

Omtrent 400 m van die speelplek af kom jy by 'n uitgestrekte boegoelandery. Die paadjie swenk weer 200 m verder links in die rigting van die kampplek die veld in.

Soos jy oor die koppie vorder, kry jy 'n mooi uitsig oor die hele kampplek - 'n foto wat 'n mens sommer dadelik vir jou mense by die huis wil stuur.

Wanneer 'n mens by Lylius in die Sederberg kamp, verstaan jy hoe naby 'n plaaservaring jou aan die natuur kan bring.
Wanneer 'n mens by Lylius in die Sederberg kamp, verstaan jy hoe naby 'n plaaservaring jou aan die natuur kan bring.

Omtrent 240 m van die landery af sluit die paadjie by 'n ander een aan. Links stap jy terug tot by die swembad 120 m verder, of hou regs tot by die uitkykpunt.

Dis net 350 m se matige klim tot daar, maar jy word beloon met 'n onverbeterlike uitsig omdat jy nou selfs hoër bo die kampplek is.

Dié kant toe vir Karee.
Dié kant toe vir Karee.

Hier is nog ander staproetes van tot 14km lank wat ook 'n 4x4-roete insluit én jy sien rotskuns.

Omtrent 240 m van die landery af sluit die paadjie by 'n ander een aan. Links stap jy terug tot by die swembad 120 m verder.
Omtrent 240 m van die landery af sluit die paadjie by 'n ander een aan. Links stap jy terug tot by die swembad 120 m verder.

Honde mag saamstap, maar nou mik ons eers terug swembad toe as teenvoeter vir die 37ºC hier teen die hange.

Hulle sê

Dié groep vriende het saam gekamp op Taaibos: Ona en Melville Cloete van Brackenfell; Johan en Louisa Botha, en hulle seun Johann en sy vrou, Carla, almal van Langebaan; Suzette en Pierre Hayes van Durbanville; en Sandra en Marius Watney van Porterville (voor). Links van Sandra is die 8-jarige Liela.
Dié groep vriende het saam gekamp op Taaibos: Ona en Melville Cloete van Brackenfell; Johan en Louisa Botha, en hulle seun Johann en sy vrou, Carla, almal van Langebaan; Suzette en Pierre Hayes van Durbanville; en Sandra en Marius Watney van Porterville (voor). Links van Sandra is die 8-jarige Liela.

"Ons het in Januarie laas gekamp," sê Carla "en dit was tyd om weer so te maak. Ons het ook Ona se 64ste verjaardag kom vier - sy het gister verjaar."

Marius sê Lylius is baie goed versorg.

Kortliks | Lylius

Daar is 6 staanplekke, elk ingedeel vir groepies van 8-10 op 'n lieflike grasperk.
Daar is 6 staanplekke, elk ingedeel vir groepies van 8-10 op 'n lieflike grasperk.

Kampplek 6 staanplekke, elk ingedeel vir groepies van 8-10 op 'n lieflike grasperk. Paartjies is ook welkom. Die staanplekke is ver uitmekaar en een word vir tente uitgehou.

Ablusiegeriewe Jou eie en sluit 'n oop kombuis met wasgeriewe in.

Aankoms- en vertrektyd Tussen 14:00 en 20:00, en 10:00 (tensy anders gereël).

Kontak stay@lylius.co.za | lylius.co.za | 072 657 4719 of 083 611 7073

Naaste dorp? Clanwilliam 32 km.

Hoe lyk die pad? Die laaste 4,7km is 'n sinkplaatgeryde grondpad wat 'n laagwaterbrug van 225 m insluit.

GPS S32.371463 E18.986672

Ry & Sleep sê Maak seker jy bespreek betyds, veral oor vakansietye. Ons het buite seisoen ingeloer en al die staanplekke was beset. Jy kan ook van hulle rooibostee, Cederbos, bestel (beskikbaar in verskeie geure). Reël vooraf met Lydia wanneer jy kampreëlings tref.

Leon Botha (teks en foto’s)