Suid-Afrika kan vanjaar die tiende grootste mark ter wêreld vir fotovoltaïese sonkrag wees, volgens Bloomberg New Energy Finance (BloombergNEF) se jongste markvooruitsig.
Volgens Eskom se berekeninge is 2,6 GW se dakgemonteerde sonkrag verlede jaar in Suid-Afrika opgerig.
Luidens BloombergNEF se databasis kan 'n verdere 676 MW daarby gevoeg word, vir 'n totaal van 3,3 GW. Dis effens minder as vorige beramings, meen die Suid-Afrikaanse Fotovoltaïese Vereniging (Sapvia).
Die bykomende 676 MW is grootliks afkomstig van die aanleg van 540 MW van Scatec Solar by Kenhardt in die Noord-Kaap, wat verlede jaar in bedryf gestel is.
Sapvia het bygedra tot BloombergNEF se verslag deur sy eie sonkragstatistieke beskikbaar te stel, sê dr. Rethabile Melamu, uitvoerende hoof van Sapvia.
Luidens BloombergNEF se verslag het die bedryf internasionaal verlede jaar 444 GW se nuwe kapasiteit geïnstalleer.
Suid-Afrika se bydrae behels dus 'n skrale 0,74% van die internasionale totaal.
Tog was die groei in nuwe sonkrag verlede jaar ongekend weens die erge beurtkrag wat huishoudings aangemoedig het om hul eie alternatiewe te soek. Die regering se belastingaansporing, waardeur 'n belastingrabat van 25% op die besteding aan sonpanele tot op 'n maksimum van R15 000 toegestaan is, het waarskynlik ook in 'n mate tot die groei bygedra.
Ross Mains-Sheard, medestigter en uitvoerende hoof van Versofy Solar, het vandeesweek in 'n verklaring gesê van Maart 2022 tot Junie verlede jaar het dakgemonteerde sonkrag in Suid-Afrika met 349% gegroei.

Mains-Sheard het daarop gewys dat die belastingaansporing net vir die afgelope belastingjaar gegeld het, maar hy meen verbruikers moet steeds sonkrag kry - nie net as 'n noodsaaklikheid of weens 'n omgewingsgewete nie, maar om die negatiewe impak van beurtkrag op ekonomiese groei te help teenwerk.
BloombergNEF se verslag verwag dakgemonteerde sonkrag sal vanjaar steeds groei, veral in die wintermaande van Mei, Junie en Julie wanneer beurtkrag na verwagting meer gereeld en intensief toegepas sal word.
Die residensiële vraag na sonkrag is volgens BloombergNEF regstreeks verwant aan beurtkrag en die vraag neem af sodra beurtkrag ophou. Luidens die verslag sal sakeondernemings se installering van sonkrag ook na verwagting versnel.
Luidens Sapvia se inligting het 90% tot 95% van nuwe huishoudelike sonkraginstallasies batterykapasiteit vir 'n paar ure. Sowat 85% van kommersiële installasies het batterykapasiteit.
BloombergNEF voorspel tussen 4 GW en 4,5 GW se nuwe sonkrag sal vanjaar in Suid-Afrika gebou word. Die kumulatiewe sonkragkapasiteit kan teen 2030 op 36 GW staan.
Die verslag verwag sonkraginstallasies in Suid-Afrika kan vanjaar met 30% groei.
Hier is die lys van die tien grootste sonkragmarkte vir 2024, soos voorspel deur BloombergNEF:
1. China
2. Amerika
3. Indië
4. Brasilië
5. Duitsland
6. Spanje
7. Nederland
8. Japan
9. Italië
10. Suid-Afrika
























