Solidariteit het weer eens sy lys van kundiges vir Eskom aangebied met die hoop dat Eskom "bedryfsbehoeftes bo rassetransformasie sal stel".
Dit kom kort ná Eskom se voorlegging aan die portefeuljekomitee oor elektrisiteit en energie verlede week waarin ernstige tekorte aan kundigheid en voortslepende bedryfsuitdagings uitgelig is.
Solidariteit erken in 'n verklaring dat bedryfsprestasie sedert die aanstelling van die huidige direksie en uitvoerende bestuur verbeter het, met beurtkrag wat byvoorbeeld teenoor die ooreenstemmende tydperk verlede jaar afgeneem het.
Tog breek kragopwekkingseenhede steeds kort nadat hulle weer in diens gestel is en maak Eskom nog op eksterne kontrakteurs vir kernbedrywighede staat.
Clive le Roux, onafhanklike nie-uitvoerende direkteur van Eskom, het voor die portefeuljekomitee gesê Eskom se kragopwekking het van Januarie tot Maart minder betroubaar geraak.
LEES OOK | 6 jaar nodig om Eskom op standaard te kry
"Dit is nie 'n nuwe probleem nie," lui Solidariteit se verklaring.
"Dit is die direkte gevolg van Eskom se eie beleid. Eskom het jare lank 'n aggressiewe ideologiese benadering tot transformasie gevolg en rigiede demografiese teikens bo operasionele noodsaaklikheid verhef.
"Die gevolglike uittog van vaardige, professionele persone het kragstasies blootgestel gelaat, institusionele geheue is uitgeput en openbare vertroue is verpletter."
Agteruitgang
Netwerk24 het vroeër berig dat Eskom se direksie die bestuurspan gevra het om uit te reik na ander nutsmaatskappye in die wêreld wat weet hoe om steenkoolkragstasies behoorlik te bestuur. Dié maatskappye steun meer op ervaring, terwyl Eskom volgens Le Roux nie tans die nodige ervaring het nie.
Solidariteit het in 2022 op 'n direkte versoek om hulp gereageer deur 'n lys van meer as 300 kundige en tegniese professionele persone, van wie talle voorheen by Eskom werksaam was, voor te lê. Volgens die vakbond is slegs 18 van hulle aangestel.
Solidariteit sê die las van beurtkrag straf armes en kwesbares die swaarste en dit ontwrig toegang tot gesondheidsorg, onderwys en veiligheid.
"Wanneer ideologie bo impak verhef word, is die resultaat nie transformasie nie - dit is regressie."
Onwettig
Solidariteit herinner Eskom ook aan 'n hofbevel van Oktober verlede jaar wat 'n bindende ooreenkoms tussen Solidariteit en die regering toon. Die ooreenkoms, wat onder die toesig van die Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO) bemiddel is, definieer die regsgrense vir gelyke indiensneming in Suid-Afrika.
Volgens die hofbevel:
• moet rasbeleid tydelik en nie permanent wees nie;
• mag ras nie die enigste faktor wees wanneer gelyke-indiensnemingsplanne opgestel word nie;
• moet die poel van beskikbare vaardighede en die werkgewer se operasionele behoeftes sentraal staan;
• is ontslag, uitsluiting of aanstellings suiwer op grond van ras onregmatig; en
• mag werkgewers ingevolge wetgewing van rigiede rasplanne afwyk op grond van regmatige operasionele behoeftes.
Solidariteit sê Eskom is grondwetlik verplig om aan hierdie bepalings te voldoen.
"Om met rasserigiditeit vol te hou, is nie net operasioneel roekeloos nie - dit is onwettig."
- stefani.terblanche@media24.com







