Sonkrag kom by Richardsbaai-hawe

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die sonkragaanleg wat LTM Energy vir ’n groot boerdery-onderneming in die Noord-Kaap opgerig het.  Foto: LTM ENERGY
Die sonkragaanleg wat LTM Energy vir ’n groot boerdery-onderneming in die Noord-Kaap opgerig het. Foto: LTM ENERGY

Transnet het afgeskop met die eerste tender om sonkragstelsels by sy hawens te bou om sy koolstofvoetspoor te help verklein.

Die Transnet Nasionale Haweowerheid (TNPA), 'n filiaal van Transnet, het die Amulet-konsortium aangewys as voorkeurbieër om sy eerste fotovoltaïese sonkragaanleg van 20 MW by die Richardsbaai-hawe te bou en te bedryf.

Die TNPA mik om nog sulke projekte by sy agt kommersiële hawens te laat bou wat sowat 80 MW kan lewer.

Dit is deel van Transnet se bydrae om te help met die land se belofte om die ekonomie teen 2050 koolstofneutraal te maak, sê die staatsbeheerde vervoergroep in 'n verklaring.

Die projek by Richardsbaai sal ook 'n batterystelsel insluit en die kontrak met Amulet is dat hy die aanleg sal ontwerp, bou, toets, in bedryf stel, bedryf en in stand hou vir 'n tydperk van sewe jaar.

Volgens Moshe Motlohi, besturende direkteur van TNPA vir sy oostelike hawens, sal die bekendstelling van hernubare energie in die hawestelsel die verlaging van koolstofvrystelling en kweekhuisgasse van steenkoolopgewekte elektrisiteit moontlik maak.

Dit sal boonop kostedoeltreffende en betroubare kragvoorsiening aan die hawe en sy gebruikers verseker.

Die Amulet-konsortium bestaan uit die Amulet-groep en LTM Energy. Volgens die TNPA het hulle 'n bewese bedryfsgeskiedenis in die lewering van innoverende en volhoubare energie-oplossings. Hulle was al betrokke by die bou van substasies en kraglyne van tot 765 kV, die bou van sonkragaanlegte, en die installering van outomatiseringstelsels en beheerpanele by groot maatskappye.

Die TNPA verwag dat bouwerk aan die sonkragaanleg al vandeesmaand kan begin en dat die aanleg teen einde Mei 2026 in bedryf sal wees.

Volgens LTM Energy se webblad het hy al sonkragaanlegte by FNB en WesBank se kantore in Fairlands, Johannesburg, en vir AL3 Boerdery se Koppieskraal-plaas in die Noord-Kaap geïnstalleer. Hy was betrokke by die bou van 'n sonkragstelsel vir die Edison-eiendomsgroep se Stanger Mall in KwaZulu-Natal, en was 'n kontrakteur vir die departement van minerale bronne en energie se projekte om landelike gemeenskappe van groenkragstelsels te voorsien.

SPELETJIES VANDAG

CTA