Energie

Staat mag Sapref koop, al is dit ’n wit olifant

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Die staat besit vir die eerste keer sy eie olieraffinadery.

Maar dis 'n niewerkende raffinadery wat baie geld gaan kos as dit ooit weer in bedryf gestel moet word.

Dit kom nadat die Mededingingskommissie die Sentrale Energiefonds (SEF) goedkeuring verleen het om die Sapref-raffinadery by die oliereuse Shell en BP oor te neem.

Dit blyk die oorname van Sapref gaan gedoen word as 'n openbare-private-vennootskap, want die SEF se filiaal PetroSA en die private maatskappy Avedia Energy gaan Sapref gesamentlik oorneem.

PetroSA is tans terselfdertyd in die proses om saamgevoeg te word met die SEF-filiale iGas en die Strategiese Brandstoffonds om die nuwe Suid-Afrikaanse Nasionale Petroleummaatskappy te vorm.

Die Sapref-raffinadery in Durban is dekades gesamentlik deur Shell en BP besit en bedryf, maar het mettertyd finansieel onlewensvatbaar geword omdat dit vir hulle meer sin begin maak het om bloot brandstof in te voer eerder as om ruolie in te voer en dit by Sapref te raffineer.

'n Lugfoto van die Sapref-raffinadery in Durban. Foto: Sapref/Facebook
'n Lugfoto van die Sapref-raffinadery in Durban. Foto: Sapref/Facebook

Die oliemaatskappye het ook jare vergeefs gewag vir die regering om 'n meganisme te skep waardeur hulle vergoed sou kon word vir opgraderings aan die raffinadery om brandstof teen hoër, skoner spesifikasies te kan produseer.

Die laaste strooi was die erge oorstromings in April 2022 in KwaZulu-Natal wat die raffinadery beskadig het. Teen daardie stadium het Shell en BP reeds nie meer die raffinadery aktief bedryf nie en is dit hoogstens as opgaarpunt vir brandstof benut.

Die SEF het aanvanklik onderhandel om dit oor te neem, maar die koste van herstelwerk het die staatsbeheerde groep eers afgeskrik. Dit blyk egter nou 'n ooreenkoms kon wel bereik word om die oorname te beklink, hoewel geen besonderhede oor die finansiering gegee is nie.

Die Mededingingskommissie het verlede week die oorname goedgekeur en aangevoer dit is onwaarskynlik dat die transaksie mededinging in enige mark noemenswaardig sal verminder of verhoed. PetroSA en Avedia Energy moes wel onderneem om al die huidige werkers by Sapref op dieselfde indiensnemingsvoorwaardes oor te neem.

PetroSA bedryf die gas-tot-brandstofaanleg by Mosselbaai, maar dit is sedert 2020 al buite werking omdat sy gasbronne opgedroog het.

Avedia Energy is 'n private maatskappy wat in 2007 as 'n invoerder en verspreider van vloeibare petroleumgas (VPG) geskep is. Avedia het 'n invoer- en stoorpunt vir VPG by Saldanha, asook 'n aanleg in Airport Industria in Kaapstad.

Gwede Mantashe, minister van minerale en petroleumbronne, het die Mededingingskommissie se goedkeuring van die oorname verwelkom. Volgens hom sal die verkryging van die bates die kern vorm van die SEF se beleggings- en groeistrategie in die energiewaardeketting. "Dit sal 'n stewige grondslag lê om die uitdagings aan te pak wat vir Suid-Afrika se energiesekerheid voorlê."

Dit is omdat die regering bekommerd is oor die afname in plaaslike raffineringskapasiteit, wat meegebring het dat Suid-Afrika nou 'n netto invoerder van brandstofprodukte is.

Benewens Sapref wat nie in bedryf is nie, is Engen se olieraffinadery in Durban ook uit diens. Die enigste oorblywende olieraffinaderye in die land wat produseer, is Natref by Sasolburg en die Astron Energy-raffinadery in Milnerton, Kaapstad.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM