Energie

Terugtrek van kernplan sege vir deursigtigheid, sê DA

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Kevin Mileham, DA-LP.
Kevin Mileham, DA-LP.

Die DA het bevestig dat hy sy regstappe gestaak het teen die regering se plan om 2 500 MW uit kernkrag op te wek.

Die DA beskryf die amptelike terugtrek van Suid-Afrika se omstrede kernkragprogram as 'n "beduidende oorwinning" vir deursigtigheid, aanspreeklikheid en die oppergesag van die gereg in die land se energiesektor.

Dié besluit, wat verlede maand deur dr. Kgosientsho Ramokgopa, minister van elektrisiteit en energie, op 'n mediakonferensie aangekondig is, is daarna in die Staatskoerant gepubliseer.

Ramokgopa het vroeër gesê die plan waarmee die regering 2500 MW kernkrag wou opwek, word teruggetrek te midde van pleidooie en dreigende hofsake deur onder meer burgerregte-organisasies.

Die DA het Vrydag in 'n verklaring gesê sy regstappe in dié verband was instrumenteel om te verseker die stem van die publiek word oorweeg in besluite van dié omvang.

Kevin Mileham, DA-woordvoerder oor energie en elektrisiteit, het die besluit as 'n "reuse-oorwinning" vir die politieke party in sy voortslepende uitdaging van die plan in die howe bestempel. Die projek sou volgens hom "derduisende miljarde rande" beloop het.

Die party het op 16 Augustus vanjaar formele kommunikasie van die staatsprokureur wat die minister verteenwoordig ontvang, wat bevestig het dat hy die plan teruggetrek het.

Dit het gevolg op die hofaansoek wat die DA op 7 Maart begin het waarin hy die wettigheid van die kernkragplan uitgedaag het.

Dr. Kgosientsho Ramokgopa, minister van elektrisiteit en energie, vroeër tydens 'n besoek aan Eskom se Hendrina-kragstasie. Foto: Jairus Mmutle/GCIS
Dr. Kgosientsho Ramokgopa, minister van elektrisiteit en energie, vroeër tydens 'n besoek aan Eskom se Hendrina-kragstasie. Foto: Jairus Mmutle/GCIS

Die DA het aangevoer die plan was weens veelvuldige redes onwettig. "Van deurslaggewende belang is dat die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa), wat met die minister se besluit saamgestem het, op beduidende inligting van die minister van energie staatgemaak het wat twee jaar nadat Nersa sy openbare konsultasieproses afgehandel het, verskaf is.

"Dit het beteken dat belanghebbendes van die geleentheid ontneem is om gesprekke te voer oor sleutelaspekte van Nersa se instemming, insluitend die geprojekteerde koste en vraag na kernkrag.

"Die DA het sy kommer geopper oor die gebrek aan deursigtigheid en openbare deelname in 'n kwessie van sulke nasionale en grondwetlike belang," lui Mileham se verklaring.

Die saak wat aanvanklik in Oktober in die hooggeregshof in Pretoria aangehoor sou word, het onnodig geword.

Volgens Mileham is dié uitkoms 'n bewys van die DA se onwrikbare verbintenis om openbare belange te beskerm en om te verseker dat die energie-aankoopproses, veral dié waarby kernkrag betrokke is, onderhewig is aan 'n noukeurige regsondersoek en met betekenisvolle openbare deelname.

"Ons sal waaksaam bly in die handhawing van goeie regering en besluitneming wat op feite gegrond is, veral in kwessies van nasionale belang om te verseker Suid-Afrika se energietoekoms word gevorm deur beleid wat deursigtigheid en prosedurele regverdigheid weerspieël."

Met die aankondiging dat die program teruggetrek word, het Ramokgopa egter beklemtoon kernkrag sal deel bly van die land se energiemengsel. Die gebreke met openbare deelname moet net reggestel word "sodat die proses skoon, deursigtig en behoorlik gedemokratiseer is".

"Kernkrag is regeringsbeleid. Met my aankondiging vandag wil ek beklemtoon dat ons die idee terugtrek dat ‘kernkrag die toekoms' is.

"Meer kernkrag bykomend tot Koeberg sál egter gebeur as deel van 'n veranderende energiemengsel in die land. Nuwe kernkrageenhede sal gebou word, maar wat met alle partye en deur alle kanale oorweeg moet word, is die toelaatbare skaal van die projekte en wat ons kan bekostig."

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM