Wees maar gereed vir beurtkrag dié winter

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Net 55,8% van Eskom se totale opwekkingsvermoë lewer wel op die oomblik krag aan die netwerk. 29,3% is weens onbeplande foute afgeskakel en 14,9% vir beplande instandhouding.Foto: Unsplash
Net 55,8% van Eskom se totale opwekkingsvermoë lewer wel op die oomblik krag aan die netwerk. 29,3% is weens onbeplande foute afgeskakel en 14,9% vir beplande instandhouding.Foto: Unsplash

Net meer as die helfte van Eskom se potensiële opwekkingsvermoë lewer tans krag aan die netwerk.

Die nutsmaatskappy se energiebeskikbaarheidsfaktor (EBF) - die persentasie van sy totale opwekkingsvermoë wat op 'n gegewe tydstip krag opwek - was begin April slegs 55,8%, die laagste in 13 maande.

Dis ver van die teiken van 70%, wat Eskom se direksie vir Maart 2025 gestel het en so onlangs as November herhaal het.

Met 70% - wat beskou word as 'n punt waarop beurtkrag iets van die verlede kan wees - nog 'n hersenskim, lyk beurtkrag waarskynlik wanneer die kouer weer toeslaan, meen die kragkenner Chris Yelland, besturende direkteur van EE Business Intelligence.

EBF ver onder teiken

Volgens Eskom was die gemiddelde EBF in sy pas afgelope boekjaar (April 2024 tot Maart 2025) 60,6%. Eskom is dus meer as nege persentasiepunte onder sy teiken.

Die rede daarvoor kan net deels toegeskryf word aan beplande instandhouding, waarvoor 14,9% van Eskom se opwekkingsvermoë uit diens gestel is.

Byna 'n derde, oftewel 29,3%, van Eskom se opwekkingsvermoë is weens foute uit diens gestel. Verlede Vrydag was 13 703 MW weens foute buite werking.

Ondanks die feit dat onbeplande foute nou baie naby aan die hoogste vlakke in 13 maande is, het Eskom nog verlede week gesê die syfers dui op 'n "effense verbetering in die betroubaarheid van die vloot (kragstasies)".

Vraag na krag neem toe

Die situasie laat tereg kommer ontstaan oor die vooruitsig vir beurtkrag dié winter. Die vraag na krag neem altyd in die winter toe, sowel vanweë die koue as die korter dae.

Eskom skaal jaarliks sy beplande instandhouding in die somer op en verminder dit dan skerp in die winter, wat wel die EBF sal verhoog indien instandhouding inderdaad betyds voltooi word en eenhede suksesvol aangeskakel word.

Verlede jaar het beplande instandhouding in Julie 'n laagtepunt van 8,4% van opwekkingsvermoë gehaal, wat meegehelp het dat 'n EBF van 67,4% - die hoogste in die afgelope 13 maande - gehaal kon word. Onbeplande foute was toe tot 24,2% beperk.

Eskom reik binne die volgende paar weke sy "winterplan" uit, wat gewoonlik 'n omvattende reeks scenario's uiteensit oor die risiko van beurtkrag en op watter fase.

Die laaste paar weke het Eskom beplande instandhouding van sowat 7 000 MW aangedui.

22 dae sonder beurtkrag

Suid-Afrikaners het laas op 20 Maart beurtkrag gehad, wat beteken vandag is die 22ste dag sonder beurtkrag. In 2024 was daar 86 dae met beurtkrag, terwyl daar in 2023 slegs 33 dae sónder beurtkrag was.

Tot dusver in 2025 was daar nog net 12 dae beurtkrag vandat dit die eerste keer op 31 Januarie ingestel is en daarna hoofsaaklik oor 'n paar naweke toegepas is.

Die 310 dae sonder beurtkrag van 27 Maart 2024 tot 30 Januarie 2025 was die langste tydperk sonder beurtkrag sedert 2018, sover vasgestel kan word.

Die 70%-teiken

Mpho Makwana, vorige voorsitter van Eskom se direksie, het in Januarie 2023 gesê as Eskom 'n EBF van 70% kan haal, sal beurtkrag iets van die verlede wees. Toe hy dié stelling gemaak het, was Eskom se EBF 58% - dus hoër as tans.

Mteto Nyati, wat in Oktober 2023 as Eskom-voorsitter oorgeneem het, het nog so onlangs as Januarie gesê beurtkrag kan teen Maart iets van die verlede wees danksy die tweejaarplan vir instandhouding wat van stapel gestuur is.

Verskeie groot opwekkingseenhede wat voor einde vanjaar aangeskakel moet word, kan die druk op die kragnetwerk verlig. Dit sluit in:

• Medupi-eenheid 4 (800 MW), waar herstelwerk teen einde April voltooi behoort te wees;

• Kusile-eenheid 1 (800 MW), wat teen einde Junie heraangeskakel behoort te word nadat ontswaelingstegnologie reggemaak is; en

• Koeberg eenheid 1 (970 MW), wat vir hervulling van brandstof en instandhouding afgeskakel is, behoort teen einde Julie 2025 weer krag op te wek; en

• Kusile eenheid 6 (800 MW), die laaste eenheid van dié kragstasie wat onlangs aangeskakel is, maar nog met die netwerk gesinchroniseer word, wat beteken dit lewer nog nie betroubaar krag nie.

Eskom het bevestig dat Koeberg eenheid 2 wel weer fluks krag opwek nadat dit vroeër vanjaar aangeskakel is ná die opgradering wat vir die verlenging van sy lewensduur met nog 20 jaar nodig is. Die eenheid wek 946 MW op. Dit het ook begin Maart uitgeskakel terwyl aan eenheid 1 gewerk is, maar is binne dae weer aangeskakel.

Yelland het vandeesweek op X gesê die EBF het die afgelope twee weke tot laer as dieselfde tyd verlede jaar gedaal. "As dié tendens voortduur en die EBF nie heelwat verhoog soos die vraag toeneem by die aanvang van kouer weer nie, dink ek ons gaan waarskynlik 'n mate van beurtkrag ervaar."

Hy wys daarop dat die EBF uiteraard sal styg as beplande instandhouding daal.

"So ek dink die situasie bly stram en ons sal waarskynlik van tyd tot tyd beurtkrag beleef in die maande wat kom."

- hanlie.stadler@24.com

Hanlie Nordejee

Hanlie Nordejee

Hanlie is a business journalist based in Cape Town covering macro-economics.

CTA