Aftrede

2-potstelsel: Dié 4 dinge bekommer mense

Lees hier meer oor sogenaamde ou- teenoor nuwegenerasie-uittree-annuïteite. Foto: iStock
Lees hier meer oor sogenaamde ou- teenoor nuwegenerasie-uittree-annuïteite. Foto: iStock

Belasting en rompslomp, maar ook die wete dat dit hulle in die versoeking plaas om hul aftreegeld te plunder.

Dis van die vrese en voorbehoude wat Suid-Afrikaners het oor die komende tweepotstelsel vir aftrede wat op 1 September in werking tree. Dit sal mense jaarliks toegang gee tot 'n derde van hul aftreespaargeld, maar met 'n aanvangspot van tot R30 000, indien dit minder is as 10% van die geld in hul fonds.

Volgens Old Mutual se Spaar- en Beleggingsmonitor vir 2024 is die vier grootste probleme wat Suid-Afrikaners met die tweepotstelsel het, die volgende, met die gemiddelde persentasie mense wat daaroor bekommerd is:

• belastingimplikasies: 52%;

• die versoeking om aftreegeld vroeg te onttrek: 50%;

• kommer oor hoe die onttrekkings werk: 27%; en

• administratiewe probleme: 27%.

'n Klein persentasie mense (11%) het óf geen bekommernisse nie óf is onseker oor die saak.

Belasting

Mense wat meer as R60 000 per maand verdien, is heel tereg die meeste bekommerd oor die belastingimplikasies van onttrekkings uit hul spaarpot, met 58% wat hieroor dink teenoor die gemiddeld van 52%. Dié mense gaan tussen 39% en 45% van die geld wat hulle onttrek, aan Jan Taks gee.

Dus, van die toelaatbare R30 000 wat van September af onttrek mag word, sal hulle tussen R16 500 en R18 300 kry vóór die administrasiegeld van aftreefondsbestuurders, waarvan die bedrag tussen R200 en R600 kan wissel.

Mense wat minder as R15 000 per maand verdien, is die minste bekommerd oor belasting, moontlik ook omdat hulle die laagste belastingkoers daarop sal betaal. Teen 18% sal hulle steeds R24 600 van 'n onttrekking van R30 000 kry, waarvan administrasiegeld nog afgetrek moet word.

Hoeveel mense wil onttrek?

Die meeste Suid-Afrikaners met aftreegeld gaan ongetwyfeld dié spaarvarke oopbreek.

Old Mutual se Spaar- en Beleggingsmonitor is die tweede groot studie oor werkende mense se spaar- en bestedingsgewoontes wat bevind mense sien daarna uit om voor aftrede - en sonder om te bedank, danksy die nuwe stelsel - aftreegeld te onttrek.

Volgens Old Mutual gaan 52% van respondente baie waarskynlik of heel waarskynlik aftreegeld onttrek. Dis wel minder as die 59% van respondente aan die Sanlam Benchmark-verslag, wat begin Julie uitgereik is.

Volgens Old Mutual se studie is gegrond op mense wat R8 000 per maand en meer verdien. Mense in die laagste inkomstegroepe is gretiger om aftreegeld te onttrek.

Só lyk die persentasie mense in verskillende inkomstegroepe wat geld wil onttrek:

• R8 000 tot R14 999 per maand: 63%;

• R15 000 tot R29 999 per maand: 50%;

• R30 000 tot R59 999 per maand: 44%; en

• R60 000 of meer per maand: 42%

Weet mense genoeg?

In April en Mei, toe die opname gedoen is, het 63% van werkende Suid-Afrikaners wel van die komende tweepotstelsel geweet. Net meer as die helfte (57%) het 'n goeie begrip gehad van wat dit behels en die res (43%) het min of niks daarvan verstaan.

Gevoelens daaroor was baie gemeng: 45% dink dis 'n goeie plan, 9% dink dis 'n slegte idee en 46% dink daar is goeie én slegte aspekte van die komende stelsel.

Kennis oor die tweepotstelsel het bes moontlik intussen verbeter, aangesien die hele finansiëledienstebedryf, en baie werkgewers, die laaste paar maande aktief inligting oor die tweepotstelsel versprei.

Aftrede

Wanneer mense gevra word wat hul spaarprioriteite is, is spaar vir 'n gemaklike aftrede soos vorige jare eerste, met 46% van Suid-Afrikaners wat hieroor besorgd is. Om 'n noodfonds op te bou is vir 43% van mense belangrik en net soveel mense wil geld spaar om skuld af te betaal.

Hoewel spaar vir aftrede swaar weeg op mense se gemoed, is 49% onseker of hulle op koers is om genoeg te hê.

As mense gevra word waarom hulle nie bykomend tot hul pensioenfonds vir aftrede spaar nie, blyk dit hulle dink óf hul pensioenfonds is voldoende óf hulle weet net nie genoeg om self bykomende spaarprodukte te kies nie.

Hanlie Stadler

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM