Dit het aftreefondsadministrateurs eenmalig R1,6 miljard gekos om hul stelsels gereed te kry vir die nuwe aftreefondsbedeling wat verlede jaar in werking getree het.
Dit blyk uit 'n peiling van die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) onder aftreefondsadministrateurs oor die koste van die tweepotstelsel wat in September in werking getree het.
Die peiling is gedoen ná klagtes oor die omvang van die koste wat van aftreefondslede verhaal is. Die gemiddelde verhaling was R252 per lid, maar daar is 'n groot verskil tussen wat die verskillende administrateurs van lede verhaal het. By sommige het dit tot R3 072 per lid beloop.
Administrateurs het die aanvanklike koste om die stelsel gereed te kry, in 'n groot mate geabsorbeer of versag, maar hulle is van plan om beduidend meer te vra om die stelsel te bestuur, wys die peiling.
Die FSCA wil met die individuele administrateurs vergader om te verstaan hoekom dit so is.

Groot verandering
Die tweepotstelsel het die hele aftreefondsbedeling verander met maandelikse bydraes wat in twee "potte" verdeel word, wat afsonderlike rekordhouding van elke pot vereis.
Lede word toegelaat om een keer per belastingjaar geld uit die sogenaamde spaarpot te onttrek.
Benewens die deurlopende koste om die nuwe stelsel te bedryf, is daar bykomende uitgawes ten opsigte van die opvoeding van en kommunikasie met lede oor die nuwe stelsel, asook die transaksiekoste van onttrekkings.
Die FSCA het met die peiling probeer bepaal of die koste wat van lede verhaal is, redelik is en of die trustees van die aftreefondse dit behoorlik oorweeg het.
Die peiling is gestuur na 111 geregistreerde administrateurs van aftreefondse en ses aftreefondse wat hul eie administrasie doen. Nie almal het gereageer nie en 76 se reaksies is uiteindelik ontleed. Van die bevindinge was:
Eenmalige koste
Dit hou verband met:
• Aanpassings aan die stelsel om die tweepotbedeling te administreer;
• Die opleiding van personeellede;
• Die aanstel van bykomende personeellede;
• Die oprig van 'n toegewyde oproepsentrum om lede se vrae oor die nuwe stelsel te beantwoord; en
• Kommunikasie met lede.
Meer as R1 miljard is bestee aan die aanpassing van stelsels, met ander groot uitgawes die aanstel van nog personeellede (R305 miljoen) en kommunikasie aan lede (R54,4 miljoen).
Verhaling van lede
Die aanvangskoste is op verskillende maniere van lede verhaal - deur 'n eenmalige koste te hef; via die koste om geld te onttrek; via 'n verhoging in die normale administrasiegelde; of 'n kombinasie hiervan.
40% van die administrateurs het gesê hulle het die eenmalige ontwikkelingskoste geabsorbeer, hoewel baie van hulle aftreefondse is wat hul eie administrasie behartig. Hul hoër uitgawes sal wel in 'n stadium van lede verhaal moet word.
17% van dié wat die aanvangskoste van lede verhaal, doen dit deur die gelde wat op onttrekkings uit die spaarpot gehef word. 'n Groot deel van dié onttrekkings word reeds aan Jan Taks afgestaan.
Van die administrateurs beoog ook om die aanvangskoste oor verskillende tydperke te verhaal - sommige oor drie jaar en ander oor vyf tot selfs 10 jaar.
Voortgesette koste
Die administrateurs is gevra oor die verwagte voortgesette koste in die eerste, tweede en derde jaar van die nuwe stelsel.
Uitgesluit die 46 administrateurs wat vir die eerste jaar van die nuwe stelsel nie 'n koste gaan hef nie, gaan die ander in dié jaar tussen R3 en R312 per lid hef vir voortgesette koste.
In die tweede jaar van die nuwe stelsel verwag 49 administrateurs om nie 'n uitdruklike bykomende koste te hef nie.
12 verwag dat die koste wat hulle in jaar twee verhaal, laer sal wees as in jaar een.
Vyf administrateurs verwag dat die koste vir lede in die tweede jaar met tussen 4% en 10% gaan styg, terwyl een verwag dit gaan verdubbel.
Net twee administrateurs verwag om 'n laer koste in die derde jaar van die nuwe stelsel te hef as in jaar twee, terwyl 17 verwag dat die koste konstant sal bly.
Dit blyk egter dat talle 'n hoër koste hef as die werklike koste om die stelsel te bedryf. In die ergste geval beplan een administrateur om 15 keer meer as die werklike koste te hef, sê die FSCA.
Administrasiekoste
Die administrateurs is ook gevra of daar 'n verhoging in normale administrasiekoste was of verwag word vanweë die nuwe tweepotstelsel, benewens die jaarlikse verhoging wat met inflasie tred hou.
Net 22% het gesê die administrasiekoste is hoër vanweë die tweepotstelsel.
Die meeste het gesê die nuwe stelsel verhoog nie administrasiekoste nie.
Koste van onttrekkings
Die verwerking van onttrekkings uit die spaarpot is 'n bykomende koste vir administrateurs.
Die FSCA het in die peiling probeer bepaal of 'n deel van die koste gedek word deur die administrasiegelde en of kruissubsidiëring lede wat nie geld onttrek nie, benadeel.
Ideaal gesproke moet daar volgens die FSCA nie kruissubsidiëring wees nie.
Die meeste administrateurs hef 'n bykomende koste vir onttrekkings.
28 hef geen transaksiekoste vir onttrekkings nie en 37 hef 'n transaksiekoste van tussen R50 en R500. Die gemiddelde koste is R278 per onttrekking.
12 administrateurs hef 'n veranderlike transaksiekoste as persentasie van die onttrekkingsbedrag. In dié geval begin die transaksiekoste meestal by R100 en dit kan tot R750 beloop.
Die helfte van die administrateurs wat tans 'n transaksiekoste hef, sê hulle beplan om dit in die toekoms te verlaag.
Luidens die FSCA se verslag word die administrasiekoste en die transaksiegelde op verskillende maniere onder lede versprei. "Daar is 'n duidelike kruissubsidiëring tussen lede wat onttrek en dié wat nie onttrek nie; asook lede wat binnekort aftree en dié wat nog lank tot die aftreefonds gaan bydra; asook tussen lede met groot en kleiner voordele."
Tyd sal leer
Die peiling wys dat die koste van die nuwe stelsel wyd uiteenlopend is vir die verskillende administrateurs en dat daar groot verskille is in hoe die koste verhaal word.
"Die implikasie op lang termyn en die uiteindelike impak op die administrasiekoste is nog nie duidelik nie en sal mettertyd stabiliseer namate die praktiese implikasies van die stelsel duideliker word," sê die FSCA.
Die vraag is of die koste wat gehef word, geregverdig word deur die werklike koste. Die FSCA sal met die administrateurs wat buitengewone koste hef en die wat aangedui het dat geen belegging gemaak is ter voorbereiding op die tweepotstelsel nie, in verbinding tree om meer inligting van hulle te kry.
- nellie.brand@24.com













