Baie onsekerheid heers nog oor die sogenaamde tweepotstelsel wat veronderstel is om in Maart 2024 in werking te tree. Dit word as die grootste verandering tot nog toe in die aftreefondsbedryf beskryf.
Dit is omdat die wetgewing nog in konsepvorm is en die spertyd vir die kommentaar op die huidige weergawe eers op 15 Julie sluit.
Intussen is die pensioenfondsbedryf wel hard aan die werk in die agtergrond om stelsels reg te kry vir die verandering.
Volgens Michelle Acton, hoof van aftreehervorming van Old Mutual, is daar al vier dinge waarop huidige lede van aftreefondse - pensioenfondse, voorsorgfondse en uittree-annuïteite - kan ag slaan.
1. Ou pot, ou reëls
In wese gaan daar vir nog 'n paar dekades eintlik drie potte wees omdat die geld wat mense tot op hede gespaar het in sy eie pot agterbly.

Alles wat iemand gespaar het tot die dag wat die nuwe stelsel in werking tree, gaan in 'n ou pot bly en die reëls en vereistes wat daardie geld betref, gaan onveranderd bly.
Dit beteken as iemand ná Maart 2024 van werk verander, kry hulle steeds 100% toegang tot die aftreegeld wat hulle reeds gespaar het. Dit word uiteraard nié aanbeveel dat mense wat bedank al hul aftreegeld onttrek nie - en Jan Taks vat 'n groot hap indien mense dit wel doen.
By aftrede word die geld ook presies dieselfde behartig: 'n Derde daarvan mag eenmalig onttrek word deur pensioenfondslede en van uittreeannuïteite en die res moet gebruik word om 'n maandelikse pensioen te koop (deur 'n lewende of lewensannuïteit). Voorsorgfondslede sal steeds 100% met aftrede in kontant kan onttrek.
Acton sê hoekom dit belangrik is om dit te beklemtoon, is omdat mense paniekerig geraak het in 2016 toe daar begin praat is oor die veranderinge. Baie mense het hul werk bedank net om toegang tot hul aftreegeld te kry.
Die hoop is dat daar nie weer paniek onder aftreefondslede ontstaan nie.
"Daar is geen rede vir paniek nie, want die ou geld se reëls bly van toepassing. Mense het geen rede om vooraf te bedank nie."
Teen 29 Februarie 2024 word die ou pot "afgekamp" vir dié doel. Net toekomstige bydraes gaan na die twee nuwe potte: die spaar- en die bewaarpot.
Die voorstel tans is dat lede van voorsorgfondse ouer as 55 jaar net tot die ou pot bydra.
2. Bewaarpot word toegesluit
Tweederdes van toekomstige bydraes gaan na die bewaarpot.
Die idee van die bewaarpot is dat dit eendag vir jou ná aftrede 'n maandelikse pensioen of inkomste verskaf. Dit bly dus toegesluit tot aftrede en daarna. Van Maart 2024 af sal jy dus glad nie as jy bedank of van werk verander toegang tot dié geld kry nie.
Acton sê dit gaan 'n groot invloed op aftreefondse hê dat tweederdes toegesluit bly vir 'n maandelikse pensioen ná aftrede. Dit gaan baie mense se lewenspeil ná aftrede ook verbeter aangesien dit 'n jare lange tendens is dat mense elke keer as hulle van werk verander, 'n deel van hul aftreegeld onttrek en dan in hul goue jare in die moeilikheid is.
3. Noodfonds kry 'n derde
Van jou maandelikse bydraes sal 'n derde in die spaarpot land.
Die doel van die spaarpot is dat mense wat 'n noodgeval in hul lewe het, een keer per jaar (van 1 Maart tot 28 of 29 Februarie) al die geld daaruit kan onttrek. Hulle hóéf dit nie te onttrek nie - dit kan ook opgespaar word.
Sy sê 'n individu kan self besluit wat 'n noodgeval behels - daar is nie 'n reël oor wat dit behels nie.
Elke individu sal self die pot kan bestuur en besluit hoeveel hulle elke jaar wil onttrek.
Maar, waarsku Acton, mense sal moet besef dit benadeel hulle met aftrede as hulle wel geld uit die spaarpot onttrek.
Tans mag iemand 'n derde van hul aftreegeld as 'n eenmalige kontantbedrag neem wanneer hulle aftree en die res gaan vir die maandelikse pensioen.
Dié spaarpot is bedoel vir die enkelbedrag.
Mense wat dus elke jaar vir 'n noodgeval geld onttrek, gaan nie 'n enkelbedrag met aftrede kry nie.
"Jy betaal jouself eintlik 'n voorskot uit die enkelbedrag wat jy eendag met aftrede sou kry."
Sy glo die administrasiekoste wat gehef kan word op dié onttrekkings en moontlik ook die belasting sal mense dalk ontmoedig om te veel te onttrek.
Wat die koste en belasting gaan behels, is nog van die onsekerhede. In dié stadium word daar verwag dat die belastingkoers wat jy op jou inkomste betaal, daarop gaan geld. Daarteenoor betaal jy minder belasting as jy eendag die derde met jou aftrede kry.
"Dit is dus baie gunstiger om die geld in die spaarpot te los tot aftrede as om die heeltyd geld te onttrek."
Iemand wat nie die spaarpot gebruik nie, sal dan teen aftrede omtrent vier keer hul jaarlikse salaris in dié pot kan opbou. Dit is dus 'n groot deel van wat 'n persoon veronderstel is om vir aftrede te spaar, van tot 12 keer hul jaarlikse salaris.
4. Kersfees in Maart
Wat baie mense wat sukkel waarskynlik sal verbly, is dat daar wanneer die nuwe stelsel afskop reeds geld in die spaarpot gaan wees.
Dit is omdat 10% van jou ou pot oorgedra gaan word daarheen. Dit word egter beperk tot R25 000.
As jy byvoorbeeld R100 000 reeds gespaar het, gaan R10 000 na jou spaarpot en die res bly agter in jou ou pot onder die ou reëls.
As iemand minder as R2 000 in die spaarpot het, mag dit nie onttrek word nie.


Old Mutual raam van die 1,9 miljoen polishouers by hulle gaan sowat 1,3 miljoen meer as dié minimum bedrag hê. Die gemiddelde bedrag wat in die spaarpotte beskikbaar gaan wees, wissel tussen R8 000 en R10 000.
Wat die 10% gaan wees (indien dit minder as R25 000 is), sal iemand eers weet op die dag dat die stelsel in werking tree vanweë die wyse waarop die waarde bereken word. Daar is baie administrasieprosesse wat sal moet plaasvind om seker te maak die regte bedrag word in die nuwe rekening geplaas.
Die benutting van die ou pot gebeur ook net eenmalig. Daarna word daar nie weer geld oorgeplaas na die spaarpot van die ou pot af nie.
Die vakverbond Cosatu het reeds gesê sy lede wil 'n hoër persentasie van hul ou geld in die spaarpot hê.
Volgens Blessing Utete, hoof van Old Mutual se konsultante vir werkgewers, glo hulle omtrent 350 000 van die lede van werkgewerfondse wat hulle bestuur, gaan geld uit die spaarpot onttrek wanneer die stelsel in werking tree. Veral mense in die middel- en laerinkomstegroepe het aangedui hulle gaan die geld onttrek.
Uitkomste kan baie verskil
Utete het die meegaande grafieke oor die uitkoms getoon vir iemand in die ou stelsel en die nuwe stelsel wat 40 jaar tot 'n aftreefonds bydra.
Die aftreebedryf gebruik 12 keer 'n persoon se salaris as 'n goeie mikpunt vir iemand wat vir aftrede wil spaar.
Dit is omtrent die bedrag wat iemand nodig het om 70% tot 75% van die maandelikse inkomste van voor aftrede ook ná aftrede beskikbaar te hê.

Dit bly die beste om géén aftreegeld te onttrek nie
Scenario 1 is iemand wat in albei stelsels "die regte ding doen". Dit is iemand wat die regte bydraes lewer, gepas belê is en nooit geld onttrek nie. Die persoon kom dan by die 12 keer sy salaris uit.
Scenario 2 is in die ou stelsel wanneer iemand ná tien jaar se bydrae bedank en alles onttrek en van voor af vir aftrede begin spaar.
Scenario 3 is die persoon in die nuwe stelsel wat met die afskop daarvan alles uit sy spaarpot onttrek en jaarliks ook die hele derde onttrek. Dié persoon se uitkoms is nog steeds baie beter as wat dit was vir die persoon in scenario 2.

Tweepotstelsel baie beter vir mense wat gereeld van werk verander
Scenario 1 is die persoon wat elke vyf jaar van werk verander en elke keer al sy aftreegeld onttrek, tot 20 jaar voor aftrede. Dan onttrek hy nie weer nie of hy bly dalk by een werkgewer.
Utete sê dit is iets wat nou tipies gebeur.
Dié persoon gaan dan net vier keer sy jaarlikse salaris spaar.
Scenario 2 is 'n persoon wat elke jaar alles uit sy spaarpot onttrek en dan 20 jaar voor aftrede besluit om dit nie meer te doen nie. Die persoon is twee keer beter daaraan toe as die persoon in scenario 1 en tree af met nege keer sy jaarlikse salaris.



















