Aftrede

7 vrae wat lesers oor aftrede pla

Charné van der Walt beantwoord lesersvrae oor aftreefondse (pensioenfondse en voorsorgfondse) en gepaardgaande groepvoordele.

Charné van der Walt
Charné van der Walt

Motor of huis se skuld verminder?

Ek is 47 jaar oud, soek 'n ander werk en wil 'n deel van my voorsorgfonds onttrek, skuld delg en die res oordra na 'n voorsorg-bewaringsfonds wat as 'n noodfonds kan dien. Is dit beter om my motor af te betaal of die geld in my huisverband te betaal?

Ek het in 2020 amper my werk verloor en sou nie sowel my motor- as my huispaaiement kon bekostig nie. Ek wil nie weer in so posisie wees nie.

Antwoord

Die algemene raad is om nie ekstra te betaal op 'n bate wat sy waarde redelik vinnig oor 'n kort tydperk kan verloor nie. Maar elkeen se omstandighede verskil en daarom ook wat vir elke persoon die beste is.

As jy nie nou genoeg geld het om jou huis ten volle te kan afbetaal nie, maak dit (uit 'n kontantvloeioogpunt) sin om jou motor af te betaal, daardie bedrag wat jy aan die motor betaal het te spaar of op jou huisverband te betaal.

As jy sonder 'n inkomste is, kan jy in daardie tyd net minder spaar of jou huispaaiement verminder na die minimum.

As jy nou 'n deel van die voorsorgfonds onttrek, kan jy nie weer 'n onttrekking maak voor jy 55 jaar oud is nie. Dit is nog agt jaar, wat beteken die geld wat oorgedra is, kan nie as 'n noodfonds dien nie.

Moet ek aan fonds behoort?

Ek begin volgende maand met my eerste heeltydse werk. Is ek verplig om lid te word van die voorsorgfonds, al het ek nie behoefte aan die voordele nie?

Ek is 24 jaar oud, enkellopend sonder kinders en het nie so baie doodsdekking nodig nie. My ma leef, maar is selfversorgend.

Antwoord

Ja, jy is verplig om lid te word as die voorsorgfonds reeds bestaan. Werknemers sou moontlik met die aanvanklike bekendstelling van die fonds 'n keuse gehad het of hulle lede wou word of nie.

Die doodsdekking moet jy maar as 'n bonus beskou. Dit is gewoonlik so goedkoop dat jy dit maar aan jou ma kan bemaak en as sy dit nie nodig het in haar leeftyd nie, kan sy dit in haar testament bemaak aan wie sy wil.

Elke persoon wat werk, het ongeskiktheidsdekking nodig, al voel dit onnodig terwyl jy jonk is. Die grootste gedeelte van die voorsorgfondsbydrae is om te spaar vir jou aftrede en hoe jonger jy hiermee begin, hoe vinniger gaan jy aan 'n aftreefonds bou (wat beteken jy gaan óf vroeër as ander mense kan aftree, óf later, maar met meer geld).

Wie kry die geld?

As ek doodsdekking het op 'n aftreefonds, hoe gaan dit uitbetaal as ek nie finansiële afhanklikes het nie?

Antwoord

Ek kan nie namens die fonds se trustees praat nie. Jy kan 'n navraag indien by die fonds, maar ek twyfel of hulle vooruit vir jou kan sê hoe hulle dit gaan hanteer.

Dit gaan letterlik oor wat jou situasie is op die dag van jou afsterwe. Die trustees sal waarskynlik die geld eerste aan jou ouers of die langslewende van hulle uitbetaal en/of in gelyke dele aan jou broers en susters. Indien jy geen naaste familie het nie, behoort die trustees met jou boedel se eksekuteur (wat in jou testament benoem word) in verbinding te wees.

Die doodsdekking van jou aftreefonds is nie deel van jou boedel nie, maar kontak met jou eksekuteur kan die trustees van die aftreefonds help om meer inligting te kry oor jou familie en erfgename.

Doodsdekking ongelyk verdeel

My kinders is die begunstigdes van die doodsdekking op my pensioenfonds. Hul ouderdomme verskil redelik baie, maar hulle is al drie ten volle finansieel van my afhanklik.

Waarom kan hulle nie gelykop die doodsdekking wat ek op my aftreefonds het, erf nie? Is daar iets wat ek nou kan doen om 'n ongelyke verdeling te verhoed?

Antwoord

Die trustees van die pensioenfonds gaan aanvaar dat die jonger begunstigde, of een wat nog nie skool of tersiêre opleiding ontvang het nie, se onderhoudskoste hoër is.

Jy kan in jou testament 'n bemaking doen wat jou eksekuteur magtig om bemakings aan jou kinders in jou boedel só te verdeel dat jou kinders tussen die pensioenfonds en jou boedel se uitbetalings, dieselfde totale bedrag ontvang.

Onthou net dat die geld wat hulle uit jou boedel erf, in 'n trust moet uitbetaal as hulle jonger as 18 jaar is.

Die kans is goed dat die trustees van die pensioenfonds daardie minderjarige kind se gedeelte ook aan dieselfde trust wat in die testament is, sal uitbetaal.

Kontrakteur en taks

Ek is 'n onafhanklike kontrakteur, werk vir een maatskappy en hulle trek 25% belasting af. Ek is nie op die maatskappy se aftreefonds nie. Word my situasie reg hanteer?

Antwoord

As jou werk gekoppel is aan 'n spesifieke projek en nie 'n vaste aanstelling impliseer nie, klink dit of jou aanstelling as 'n onafhanklike kontrakteur korrek is.

Bespreek die besonderhede met 'n arbeidskonsultant of belastingpraktisyn. Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) sal jou heel moontlik as 'n werknemer beskou (ten spyte van jou kontrak), veral as jy jou volle werksure per maand aan dié een maatskappy wy.

Nie almal op 'n betaalstaat is noodwendig werknemers nie. Jy word op rekord geplaas sodat die SAID bewus is van inkomste wat jy in jou naam verdien en jy op datum kan bly met jou belastingverpligting. Jy moet 'n werknemer wees om lid te word van die aftreefonds.

Moet ek 3 jaar wag?

My werkgewer het 'n aftreefonds. Ek wil die geld onttrek as ek bedank en oorsee trek. Is dit waar dat ek drie jaar vir hierdie geld moet wag?

Antwoord

Nee, net individue met uittreeannuïteite moet minimum drie jaar wag voor hulle die geld kan onttrek as hulle Suid-Afrika permanent verlaat.

As jy oorweeg om permanent te emigreer, kry advies. Jy doen dan aansoek by die Suid-Afrikaanse Reserwebank en daar is kapitaalwinsbelasting betrokke op sekere van jou wêreldwye bates. Hou jou Suid-Afrikaanse belastingopgawes op datum as jy in die buiteland bly tot jy by SAID kan deregistreer.

Gaan geld verlore?

Wat gebeur as ek die gewaarborgde-pensioen-opsie verkies waarmee ek 'n inkomste kan verdien tot en met my afsterwe, maar nie 'n gade het wat ek kan insluit by die inkomste as ek eerste sterf nie? Kan my kinders erf of gaan al die geld verlore?

Antwoord

Nee, daar is meer opsies as die voorbeelde in die vorige rubriek. As jy binne die eerste tien jaar sterf, sal die inkomste aan jou gade of afhanklikes uitbetaal tot jaar tien (al is hulle nie op die kontrak ingesluit nie).

Jy kan 'n waarborgopsie uitoefen wat beteken die restant van die kapitaal is wel beskikbaar vir vererwing.

Ek sien dit min gebeur in die praktyk, want die waarborg verminder jou aanvanklike inkomste en die meeste mense kan nie 'n verdere vermindering in inkomste bekostig nie.

Vra jou makelaar om vir jou alle opsies op skrif te gee, al is dit opsies wat nie noodwendig jou omstandighede pas nie.

Bestudeer dit, maak seker jy verstaan die voordele en nadele van elke opsie en vergelyk die kwotasies vir 'n gewaarborgde pensioen met dié van 'n lewende annuïteit.

  • Charné van der Walt (The Lemon Lady) is 'n finansiële raadgewer en belastingpraktisyn in Stellenbosch. Kontak haar by info@ lemons.co.za met vrae vir opvolgende rubrieke of vir ad hoc advies. Die artikel is in leketaal geskryf en bevat nie spesifieke of persoonlike raad nie.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM