Die meeste volwasse Suid-Afrikaners is eerder besorgd oor hoe om deur die maand te kom en al hulle skuld te betaal as om aan aftrede te dink.

Altesame 5 205 deelnemers in verskillende fases van hul lewe het aan 'n peiling deur Sanlam deelgeneem. Oor al die lewensfases heen het 'n beduidende getal mense kredietkaartskuld en persoonlike lenings gehad en eers heelwat later in hul lewe begin voorsiening maak vir aftrede - indien enigsins.
Die peiling toon ook dat mense veel later eers daaraan begin dink of hulle dit wel kan bekostig om af te tree.
Zweli Moyo, uitvoerende hoof van strategie en impak by Sanlam, sê een van die hoofredes waarom mense aftreebeplanning uitstel en dikwels nié goeie finansiële besluite neem nie is omdat hulle neig tot vooroordeel jeens die hede (present bias) en hulle nie die toekoms kan indink nie (future discounting).
"Mense kies onmiddellike bevrediging bo die voordele wat kom met tyd en beplan en perke stel," sê Moyo.
Die stryd tussen korttermyn- en langtermyn-prioriteite beteken mense se voornemens - soos om te spaar vir aftrede - en hul optrede - soos om dadelik 'n mooi paar skoene te koop - stem dikwels nie ooreen nie.
In die peiling is die lewensfases van mense van die ouderdom 18 tot bo 65 op die keper beskou. Van die bevindings sluit in:
- 18 tot 24: Net meer as 10% het 'n aftreeproduk gehad; 20,1% het reeds kredietkaartskuld gehad en byna 15% persoonlike lenings;
- 25 tot 29: Dié ouderdomsgroep het reeds beduidende skuld - 35,3% het 'n persoonlike lening; 30,1% het kredietkaartskuld; en net 17% het begin spaar vir aftrede;
- 30 tot 34: Slegs 28% in hierdie ouderdomsgroep spaar vir aftrede, terwyl byna 40% kredietkaartskuld en 44% persoonlike lenings het;
- 35 tot 39: Byna 55% van dié ouderdomsgroep se grootste kwelling is hul skuldlas, terwyl net 3,4% bekommerd is oor genoeg geld vir aftrede. Meer as die helfte van mense in hierdie ouderdomsgroep het 'n persoonlike lening gehad en 46% kredietkaartskuld;
- 40 tot 44: Die getal mense met aftreespaargeld neem in hierdie ouderdomsgroep toe tot 41%, maar dis steeds minder as dié met kredietkaartskuld (48%) en persoonlike lenings (47%);
- 45 tot 49: Meer as 'n derde van die mense in hierdie groep is steeds meer begaan oor skuld as aftrede, maar aftreevoorsiening styg tot byna 45%;
- 50 tot 54: Vir die meeste mense in hierdie ouderdomsgroep is aftrede net tien jaar weg en skielik is byna 20% van hulle begaan oor of hulle gemaklik sal kan aftree. Kredietkaartskuld (49%) en persoonlike-leningskuld (41%) is egter steeds hoog;
- 55 tot 59: Slegs 52% van hierdie groep het vir aftrede voorsiening gemaak, terwyl kredietkaartskuld op 52% nog hoog is. Meer as 'n derde het nog persoonlike-leningskuld;
- 60 tot 64: Terwyl baie van die mense in hierdie groep reeds afgetree is, het meer as 50% steeds kredietkaartskuld en twee uit tien persoonlike-leningskuld;
- 65+: Altesame 28% van mense in hierdie ouderdomsgroep is enersyds bekommerd dat hulle nie maandeliks met hul geld gaan uitkom nie en andersyds dat hulle dit nie kan bekostig om af te tree nie.
Mariska Oosthuizen, bemarkingshoof by Sanlam, sê die navorsing dui op kommerwekkend min finansiële beplanning onder alle ouderdomsgroepe, wat maak dat mense volkome onvoorbereid is op aftrede.


















