Groot deel van 2-potgeld deur skuld ingesluk

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Die helfte van die Suid-Afrikaners wat al van hul aftreegeld onttrek het danksy die tweepotstelsel het van die geld gebruik om skuld af te betaal.

30% het dit vir "noodsaaklike uitgawes" gebruik.

Groot aankope, motorinstandhouding, huisverbeterings, mediese rekeninge en skoolgeld was onder die ander gebruike.

Daar was wel 'n persentasie mense wat die geld weer belê het.

Die finansiëledienstefirma Alexforbes het dié syfers pas bekend gemaak gegrond op 'n peiling onder 8 200 lede van aftreefondse en die data van meer as 'n miljoen lede.

Van die 8 200 lede het 54%, sowat 4 428 mense, geld onttrek sedert die tweepotstelsel in September van krag geword het.

Die tweepotstelsel maak dit moontlik om jaarliks tot 'n derde van bydraes tot aftreefondse te onttrek, met 'n aanvangsbedrag van tot R30 000 wat in September in dié "spaarpot" geplaas is. Voortaan sal alles in die spaarpot hoogstens een keer per belastingjaar (van Maart tot Februarie) onttrek kan word; die res moet dan tot en met aftrede bewaar word.

Die nuwe stelsel geld slegs vir bydraes tot 31 Augustus 2024 - geld wat op dié datum in 'n aftreefonds was, kan nog onttrek word met bedanking.

Alexforbes bereken dat die nuwe stelsel gaan help dat mense tot 2,5 keer méér geld het wanneer hulle aftree as voordat die tweepotstelsel ingestel is. Dis omdat die meerderheid mense herhaaldelik in hul loopbaan hul aftreegeld onttrek wanneer hulle van werk verander, en dan van voor af vir aftrede begin spaar by hul nuwe werkgewer.

Waarde van eise

Volgens Alexforbes was daar teen einde Januarie meer as 370 000 eise ter waarde van meer as R7 miljard net uit die aftreefondse wat hy bestuur. Verreweg die meeste eise is reeds in September ingedien.

Suid-Afrikaners het byna vier jaar gewag vir die kans om geld uit hul aftreefondse te onttrek - die idee het reeds in 2021, tydens die pandemie, ontstaan. Die tweeledige doelwit van die tweepotstelsel is om mense in nood toegang te gee tot hul aftreespaargeld sonder dat hulle moet bedank, en om te verseker meer van dié geld word wel tot en met aftrede bewaar.

Volgens Alexforbes se data was:

• 76% van die mense wat geld geëis het, 31 tot 51 jaar oud;

• 59% van die eise deur lede wie se fonds minder as R250 000 bevat het; en

• 94% van onttrekkings deur mense wat minder as R550 000 per jaar (oftewel R45 833 per maand) verdien.

Alexforbes sê dit toon dringende finansiële behoeftes weeg swaarder as die voordele om aftreespaargeld tot met aftrede te bewaar.

96% van respondente sê egter hulle verstaan die langtermynimpak van onttrekkings asook die belastingimplikasies.

34% van hulle is van plan om wéér in die toekoms te eis.

Van die lede wat nog nie geëis het nie, beoog 33% om nooit te eis nie, 13% oorweeg dit nog, maar die meerderheid beoog wel om in die toekoms te eis.

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het verlede week gesê meer as 2 miljoen mense het nou al van hul aftreegeld onttrek.

Die totale bruto uitbetaling aan lede ná belasting beloop R43,4 miljard. Die SAID het na raming sowat R13,7 miljard belasting ingevorder - mense word op die persoonlike inkomstebelastingskaal belas.

- hanlie.stadler@24.com

Hanlie Nordejee

Hanlie Nordejee

Hanlie is a business journalist based in Cape Town covering macro-economics.

SPELETJIES VANDAG

CTA