Vroeg in 2022 is die toegelate persentasie wat pensioenfondse en uittree-annuïteite oorsee mag belê, van 30% tot 45% verhoog.
Dié verandering aan regulasie 28 van die Pensioenfondswet is wyd deur die meeste mense in die aftreebedryf verwelkom, maar gaan dit noodwendig tot beter uitkomstes vir beleggers lei?
Ek sal nou-nou daardie vraag probeer beantwoord, maar wat ek wel weet, is dat dit tot groter variasie in uitkomstes gaan lei tussen die prestasie van jou tipiese gebalanseerde fonds, die kategorie waaraan die grootste gros beleggers hul beleggingsblootstelling het.

Die rede waarom die verhoging in die buitelandse toewysing wyd verwelkom is, het waarskynlik te doen met die feit dat die beperking op buitelandse blootstelling dit feitlik onmoontlik gemaak het vir bestuurders om inflasie met meer as vier persentasiepunte te klop (veral ná prestasie- en administrasiegelde) oor die afgelope tien jaar.
Behalwe hulpbronne en internasionale aandele (spesifiek die VSA) het die meeste ander bateklasse maar beroerd gevaar en het gebalanseerde fondse die wind van voor gehad.
Lei 'n groter keuse van batetoewysing egter tot beter uitkomstes vir kliënte?
Intuïtief voel dit asof dit so moet wees, want 'n mens kan belê waar jy wil, waarin jy wil. 'n Bekwame fondsbestuurder behoort dus sy seile na die wind te kan span om seker te maak jy kry die beste moontlike uitkomste.
As ek egter na die syfers kyk, lyk dit asof hierdie 'n situasie is van: Makliker gesê as gedaan.
Die fondskategorie wat sekerlik die meeste vryheid aan die fondsbestuurder verskaf om portefeuljes sonder beperkings saam te stel, is die wêreldwye-multibate- buigsame kategorie, volgens die klassifikasie van die Vereniging vir Spaar en Beleggings. Fondse in dié kategorie het geen beperkings op geografiese blootstelling of batetoewysing nie en kan teoreties gaan van 100% in Suid-Afrikaanse kontant tot 100% in buitelandse aandele, en enigiets tussenin.
Vir konteks: Oor die afgelope tien jaar het die JSE Capped Swix 'n skamele 6,89% groei per jaar opgelewer, terwyl die MSCI-wêreldindeks 16,01% behaal het.
Met dié syfers inaggenome, sou 'n mens dus dink dat 'n fondsbestuurder met 'n totale vrye mandaat wesenlik nader aan die 16% moes presteer het as aan die 7%.
Die gemiddelde opbrengs van die 27 fondse in dié kategorie met 'n prestasiegeskiedenis van tien jaar of langer was egter slegs 8,9% per jaar!
Kontrasteer dit met die gemiddelde prestasie van bestuurders wat deur regulasie 28 gedwing is om meer in Suid-Afrika te belê, dan maak dit vir interessante leesstof.
In die Suid-Afrikaanse multibate- buigsame kategorie het die gemiddelde fondsbestuurder 7,2% per jaar opgelewer en in die Suid-Afrikaanse multibate- hoë-aandele-kategorie 7,42%, albei beter as wat 'n 100%-toewysing aan 'n geweegde gemiddelde van SA aandele sou behaal.

Hoewel steeds power in nominale waarde, wil ek my verstout om te sê dat bestuurders wat 'n beperking gehad het op hul vermoë om buitelands toe te wys, uit 'n relatiewe oogpunt aansienlik beter gevaar het as dié wat vrye teuels gehad het.
As ek moes raai, sou ek 'n "tuis-vooroordeel" die skuld gee vir die relatiewe onderprestasie van die wêreldwye multibate- buigsame kategorie.
Met ander woorde, al kón hierdie bestuurders 100% aan buitelandse bates toewys, het hulle waarskynlik steeds 'n groot gedeelte in Suid-Afrika belê.
Dié aanname word moontlik gestaaf deur die feit dat die gemiddelde fonds in die kategorie globale multibate- buigsame kategorie (waar 'n minimum van 80% ten alle tye buitelands belê moet word) ongeveer een persentasiepunt per jaar beter gevaar het as sy "wêreldwye" boetie, waar jy nie die gedwonge 80% buitelandse blootstelling moes hê nie.
So wat het fondsbestuurders gedoen met hul nuutgevonde vryheid sedert vroeg 2022?
Sommige bestuurders het vandag dubbeld die blootstelling aan buitelands wat hulle gehad het terwyl ander weer, vir welke rede ook al, bykans hul totale blootstelling verwyder het.
Oor die algemeen het bestuurders wel hul blootstelling aan buitelands wesenlik verhoog.
Dit in ag genome, en met wat die syfers uit die globale en wêreldwye multibatefondse vir die laaste tien jaar suggereer, wil ek die volgende paar waarnemings maak.
• Die variasie in opbrengstetussen gebalanseerde fondse sal na verwagting voortaan vergroot bloot as gevolg van die wyd verspreide sienings wat hier ingeneem word. Net in die laaste jaar was die verskil in die bes presterende fonds in die kategorie en die swaks presterende fonds bykans 26%.
• Buitelandse bates is 'n baie growwe benaming vir 'n verskeidenheid instrumente wat ingesluit kan word en die keuse van watter soort buitelandse blootstelling ingesluit word, gaan bogenoemde variasie waarskynlik verder vergroot.
• As ek in ag neem dat totale vryheid om buitelands toe te wys die afgelope dekade, met buitelandse aandele wat ander bateklasse gemaklik uitpresteer het, slegs tot 'n marginaal beter uitprestering vir fondse gelei het, is ek skepties of die groter potensiële blootstelling aan buitelands, op dié spesifieke tydstip, tot 'n beter uitkoms vir die eindbelegger gaan lei as wat die ou regulasie 28-bepalings sou doen.
• Beleggers wat 'n kombinasie van multibate- gebalanseerde fondse en ander beleggings gebruik, moet ag slaan op die feit dat hul buitelandse blootstelling moontlik in die afgelope twee jaar wesenlik hoër geraak het by verstek.
Wat is die relevansie hiervan? Wel, proses dikteer uitkoms.
In 'n volgende rubriek sal ek net weer die massiewe impak van klein persentasieverskille in opbrengs oor lang tydperke illustreer.
Indien 'n fondsbestuurder bloot buitelands belê omdat dit gewild en beskikbaar is, mag dit tot laer opbrengste lei oor lang tydperke, wat 'n wesenlike impak kan hê op my en jou as belegger wat in daardie fonds belê.
Maak dus seker die hoër toewysing is deel van 'n weldeurdagte en feite gefundeerde proses.
• Andró Griessel is 'n gesertifiseerde finansiële beplanner van Woodland Wealth (voorheen ProVérte Wealth & Risk Management). Kontak hom by info@ woodlandwealth.co.za.



















