Die ouderdomstoelae of staatspensioen wat bejaardes in Suid-Afrika kry, is steeds van die swakste ter wêreld.
Die internasionale batebestuurder Allianz Group het vandeesweek sy 2023 Global Pension Report uitgereik wat die pensioenstelsels van 75 lande ontleed.
Michaela Grimm, senior ekonoom, en Arne Holzhausen, hoof van versekering en welvaart by Allianz, sê die indeks wat gebruik word, is ontwerp om die volhoubaarheid en toereikendheid van pensioenstelsels te bepaal.
'n Finale punt word saamgestel uit drie subindekse wat maatstawwe ontleed soos die demografiese en fiskale toestande, die volhoubaarheid van die pensioenstelsel en die toereikendheid van die pensioen.
'n Finale telling van onder drie, soos wat Denemarke, Nederland en Swede het, dui op 'n pensioenstelsel wat goed vaar.
Suid-Afrika se telling is 4,2. Dit plaas die land 18de van onder op die lys.
• Die eerste subindeks ontleed bestaande toestande soos die pas van demografiese verandering en die staatskuld van 'n land. Dit toon byvoorbeeld in Griekeland, China, Portugal en Italië versnel veroudering en die lande het beperkte finansiële ruimte om welsynstoelaes te subsidieer.
• Die subindeks oor volhoubaarheid ontleed hoe goed 'n pensioenstelsel voorbereid is om die impak van 'n snel verouderende bevolking te hanteer. Aansporings om aftrede uit te stel en die verhoging van 'n land se aftreeouderdom verbeter 'n stelsel. Die beste presteerders in dié subindeks is Egipte en Indonesië danksy die verhoging in hul aftreeouderdom.
• Die derde subindeks meet of 'n pensioenfonds toereikend genoeg is om 'n genoegsame lewenstandaard vir ouer mense te verskaf. Ten opsigte van die toereikendheid van die pensioen wat onder meer die vervangingswaarde van 'n inkomste voor aftrede meet, beland Suid-Afrika heel onder op die lys.
Die Internasionale Arbeidsorganisasie beveel aan 'n staatspensioen moet wissel tussen 40% en 60% van die gemiddelde loon. Op grond hiervan het Suid-Afrika "die armste pensioentrekkers", luidens die verslag.
Twee groot voordele wat Suid-Afrika nog het, is dat die land "finansiële ruimte het omdat die besteding aan ouer mense nog baie laag is", en die land se bevolking bly relatief jonk.
As al die subindekse gekombineer word, kry Denemarke die beste telling van 2,2 en Sri Lanka die swakste telling van 4,7.
Grimm en Holzhausen sê ná die pandemie is pensioenstelselhervorming weer in die kollig, maar die kopsere verskil vir ontwikkelde en ontwikkelende lande.
Beleidmakers in ontwikkelde lande is bekommerd oor die volhoubaarheid van hul pensioenstelsel, en opkomende lande se belangrikste taak is om te verseker meer mense het wel 'n pensioen.
Die skrywers sê die bevindinge van die verslag toon dat pensioenstelsels groter klem plaas op die welstand van die huidige generasie van pensioentrekkers, eerder as op die toekomstige generasies van belastingbetalers.
Hulle sê pensioenstelselhervorming in baie lande moet in die arbeidsmark begin. "Tensy meer mense ingetrek word by die formele arbeidsmark in ontluikende lande, en die integrasie van ouer werkers in die arbeidsmark in ontwikkelde lande, gaan selfs goedbedoelde pensioenstelselhervormings karige resultate oplewer."





















