Die vakbond Solidariteit is bekommerd oor die staatsdienspensioenfonds (GEPF) en die impak wat die tweepotstelsel op die fonds kan hê.
"Die nuwe wetgewing oor vroeë bekombare pensioengeld hou 'n magdom gevare vir sowel die private as die staatsektor in," sê Marius Croucamp, adjunkhoofsekretaris vir strategie by Solidariteit.
Dit volg op 'n beraad oor die GEPF wat Donderdagaand in Centurion gehou is.
Die GEPF het as grootste pensioenfonds in Afrika geweldige potensiaal, ondanks aanduidings dat die fonds wanbestuur is, het kenners op die beraad gesê.
As staatsdienswerkers in groot getalle van hul pensioengeld vroeër uit die fonds onttrek, is Croucamp bekommerd dat die fonds 'n verlies kan ly.
Die Mpati-kommissie het wanbestuur en onreëlmatighede by die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) ondersoek, wat die GEPF se bates namens hom bestuur, maar volgens Helgard Cronjé, Solidariteit se adjunkhoofsekretaris vir die openbare sektor, het Solidariteit geen bewyse gekry dat al die Mpati-kommissie se aanbevelings wel in werking gestel is nie. Solidariteit is dus bekommerd dat die plundery van die fonds wat voorheen voorgekom het, weer kan kop uitsteek.

"Ons lede deel ons bekommernis oor die bestuur van die fonds," sê Cronjé.
'n Peiling wat die Solidariteit-navorsingsinstituut onder sowat 2 400 mense gedoen het, het gewys mense steun nie die standpunt dat die staat aan pensioenfondse moet voorskryf waarin hulle moet belê nie.
Hoewel die meeste van die respondente glo die GEPF bied aan hulle beter aftreevoordele as 'n private fonds of wat hulle self sou kon kry, is daar steeds groot wantroue.
Tot 94% van die respondente wat reeds afgetree het, is byvoorbeeld bekommerd dat die staat hul aftreegeld sal plunder.
Onder die respondente is sowat 1 000 bestaande staatsdienswerkers, van wie die meeste in die polisie is. Dan het sowat 700 afgetrede staatsamptenare aan die peiling deelgeneem en net minder as 670 was voormalige staatsdienswerkers wat bedank het of na ander werkgewers geskuif het.
Onder die huidige staatsdienswerkers glo 63% van die respondente dat die staat se pensioenfondsvoordele wel beter is as wat hulle meen hulle in die private sektor sou kon kry, maar 63% van hulle meen egter ook dat hul GEPF-geld nie voldoende is vir aftrede nie.

Slegs 17% van dié respondente glo hul bydraes by die GEPF is veilig en die res is neutraal of meen hul bates is nie veilig nie. Tot 53% dink die bestuur van die GEPF tree nie in die beste belang van fondslede op nie.
Theuns du Buisson, ekonomiese navorser by die Solidariteit-navorsingsinstituut, meen dit wys die GEPF het 'n groot persepsieprobleem.
Onder afgetrede respondente het 53% aangedui hulle meen hul pensioenbelang in die GEPF is nie voldoende vir aftrede nie. Tot 62% glo wel hulle is ná hul aftrede tevrede met die GEPF, op grond van navrae wat goed gehanteer word, betalings wat moeiteloos geskied en dat verhogings oor die algemeen met inflasie tred hou.
Van die positiewe antwoorde het egter ook onsekerheid ingesluit oor wat die toekoms kan inhou, lui Solidariteit se verslag oor die peiling.
Negatiewe kommentaar gaan oor beweerde korrupte of onsinnige beleggings deur die GEPF. Van die respondente kla dat minder van hul mediesefondspremies nou gedek word as toe hulle aanvanklik afgetree het.




















