Aftrede

Staatspensioen se bates groei met 9,6%

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Staatsamptenare moenie summier bedank oor vrese wat by die GEPF aangaan nie. Foto: Unsplash
Staatsamptenare moenie summier bedank oor vrese wat by die GEPF aangaan nie. Foto: Unsplash

Ondanks moeilike ekonomiese toestande spog die staatspensioenfonds (GEPF) met bategroei van 9,6% in die boekjaar tot einde Maart.

Die GEPF het sy resultate vir die boekjaar bekend gemaak, en spog dat die markwaarde van sy bates nou op 'n rekordbedrag van R2 300 miljard staan, wat R201 miljard meer is as die vorige boekjaar.

Die opbrengs wat die GEPF se beleggingsportefeulje in die jaar behaal het, was 11,1%, net meer as die helfte minder is as die 23,1% van 2021, maar wel beter is as die inkrimping van 11,2% van 2020.

Die voorafgaande vier jare - 2016 tot 2019 - het die GEPF se beleggingsopbrengs triestig gevaar en was dit meestal teen lae enkelsyfers van tussen 2,6% en 4,3%, behalwe 2018 se 8,5%.

Dit stem toevallig ooreen met die tydperk van staatskaping en slegte leierskap by verskeie staatsondernemings, insluitend die Openbare Beleggingskorporasie (OBK), die staatsbeheerde batebestuurder wat die GEPF se beleggings namens sy lede bestuur.

Lidbydraes groei traag

Wat kommer wek oor die toekomstige volhoubaarheid van die GEPF is die skerp groei in voordele wat uitbetaal word, maar die trae groei in lidbydraes.

Die getal afgetrede lede en hul gades neem toe, te midde van 'n afname in die getal aktiewe lede.

Lidbydraes het in die afgelope boekjaar met net 0,53% gegroei tot R82 miljard, terwyl voordele wat uitbetaal is, skerp met 22,5% tot R136 miljard gegroei het, wys die GEPF se 2022-jaarverslag.

Die getal pensioenarisse van die fonds het in die boekjaar met 3% toegeneem tot 322 223, en die getal gades wat 'n maandelikse pensioen ontvang, het met 4,3% tot 167 679 toegeneem.

Die GEPF meld wel in die jaarverslag hy is tevrede dat hy genoeg kontantvloei van beleggingsopbrengste en bydraes ontvang om alle voordele te kan uitbetaal sonder om beleggingsbates te moet verkoop.

Die netto kontantvloeiposisie teen einde Maart vanjaar was R43 miljard, danksy voordele van R135 miljard wat uitbetaal is teenoor netto beleggingsinkomste van R93 miljard wat ontvang is en lidbydraes van R85 miljard.

Volgens die GEPF het sy kontant en reserwes oor die afgelope tien jaar teen 'n gemiddelde jaarlikse koers van 8,6% gegroei.

Die afgelope boekjaar se verbeterde beleggingsopbrengs word grootliks toegeskryf aan positiewe plaaslike marktoestande, met veral die prestasie van genoteerde aandele en kommoditeitspryse wat daartoe bygedra het, asook die prestasie van die fonds se portefeulje-effekte wat met 6% verbeter het.

Daar was 'n herstel in die prestasie van die ongenoteerde en eiendomsportefeuljes, sê die GEPF, hoewel hy nie in sy mediaverklaring die spesifieke opbrengssyfers vir die twee portefeuljes bekend maak nie.

Toe die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) verlede maand sy eie syfers bekend gemaak het, het hy wel laat blyk sy ongenoteerde beleggings se waarde het met 7,8% gedaal. Die OBK bestuur die GEPF se bates.

Finansieringsvlak

Die GEPF het Vrydag beklemtoon dat hy op grond van sy statutêre aktuariële waardasie van 2021 finansieel gesond is, met 'n finansieringsvlak van 110,1% om huidige voordeelverpligtinge aan lede na te kom. Dit is 'n verbetering op die finansieringsvlak van 108,3% op grond van die vorige waardasie wat in 2018 gedoen is.

Mpati-aanbevelings

Wat betref die aanbevelings wat die Mpati-kommissie gemaak het ná sy ondersoek na bewerings van wanbestuur by die OBK, het die GEPF die volgende stappe gedoen:

  • Die fonds se beleggingsbeleid is hersien en versterk;
  • 'n Hersiene strategiese batetoewysing is ingestel ná die evaluering van die fonds se beleggingstrategie;
  • 'n Ooreenkoms is met die OBK bereik oor maatstaf-opbrengskoerse wat uitgeloop het op 'n hersiene mandaat wat onderteken is vir sowel die genoteerde as ongenoteerde portefeuljes; en
  • 'n Interne struktuur vir die monitering en evaluering van beleggings is goedgekeur om toesig te versterk.

GPAA se swak diens gepak

Wat probleme met die laat betaling van voordele betref, het die GEPF sy diensooreenkoms met die staatspensioen-administrasieagentskap (GPAA) hersien en versterk. Volgens die fonds het hy begin met 'n proses om die bedryfsmodel met die GPAA te hersien om dienslewering aan lede, pensioenarisse en begunstigdes te verbeter.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM