As jy bitcoin koop en verkoop, kan jy netsowel met posseëls handel. Die manie oor dié kriptogeld is ook vergelykbaar met die borrel in die handel van tulpbolle in Nederland in die 17de eeu.

Dié uitsprake kom van die wêreld se gerespekteerde sentrale bankiers.
Stefan Ingves, president van die Sweedse sentrale bank, het Donderdag op 'n bankkonferensie weer die volhoubaarheid bevraagteken van geldeenhede soos kripto wat nie regeringsteun het nie.
"Privaat geld stort gewoonlik gouer of later ineen. Natuurlik kan handel in bitcoin jou ryk maak, maar dis vergelykbaar met handel in posseëls."
Bitcoin was dié week opnuut in die kollig toe die prys Woensdag binne 'n dag byna 17% geval het. In die sowat ses weke voor dié daling het bitcoin se prys van $30 000 tot sowat $52 000 opgeskiet.
Dit het egter teen Dinsdag 'n taai klap gekry ná probleme met die ontplooiing van bitcoin as wettige betaalmiddel in El Salvador. Dit het oornag tot na aan $46 000 gedaal en teen Vrydagoggend steeds onder $47 000 verhandel.
Die ontplooiing het talle tegniese haakplekke gehad en baie inwoners is skepties oor die idee.
Sommige ontleders meen die prysdaling het te doen met verwagtinge dat die Amerikaanse Federale Reserweraad kwantitatiewe verruiming kan begin inkort, wat sake ook sal bemoeilik vir spekulatiewe bates soos digitale geldeenhede.
El Salvador se eksperiment word beskou as bitcoin se grootste bruikbaarheidstoets in die werklike lewe.
Gabriel Makhlouf, president van die Ierse sentrale bank, asook Vitor Constancio, 'n voormalige visepresident van die Europese Sentrale Bank, het albei 'n paar jaar gelede bitcoin vergelyk met die tulpe-borrel.
Tulpe-manie word dikwels gebruik as metafoor vir ander spekulatiewe borrels waar irrasionele vooroordeel en groepmentaliteit die prys van iets sonder enige duidelike ekonomiese waarde tot onvolhoubare vlakke opstoot.

Dominic Frisby, 'n finansiële joernalis in Brittanje en skrywer van die boek Bitcoin: The Future of Money?, het die afgelope week op die virtuele Allan Gray-beleggingseminaar gesê bitcoin is ontwerp as iets vir individue om te hou.
Batebestuurders kan vir kliënte sê om dit te koop as hulle wil, maar hy het batebestuurders afgeraai om dit namens hul kliënte te hou omdat hulle hulself versorgingspligte op die hals haal.
Dis onseker hoe kripto in die toekoms gereguleer gaan word en batebestuurders wil nie aan die verkeerde kant van die gereg wees nie, het hy gesê.
Hy het as deel van sy aanbieding enkele Suid-Afrikaanse batebestuurders oor bitcoin uitgevra sou pensioenfondse kragtens wet hier toegelaat word om in kripto te belê. (Hulle het geantwoord toe die prys nog bo $52 000 per bitcoin was.)
David Knee van Prudential het gesê daar is nie 'n streng regulatoriese raamwerk nie en weens onder meer die wisselvalligheid, is veiligheid van kliënte se bates 'n kwessie. Hy beskou goud as beter verskansing in onsekere tye as bitcoin.
Rademeyer Vermaak van Stanlib meen daar is ruimte vir bitcoin in die meeste portefeuljes en dat beleggers sowat 5% van hul portefeulje in kripto kan hou, totdat hulle vertroud is met die risiko.
Hy meen die intrinsieke waarde van bitcoin is die vryheid wat dit gee, dit is nie-polities en geen derdepartytoestemming is nodig om dit te gebruik nie. Dit het die potensiaal om 'n reserwebetaalmiddel vir die wêreld te word.
Frisby identifiseer vier stadiums in die bitcoin-siklus:
- Stille ophoping;
- Raserny waartydens die prys dramaties opskiet (dis die fase waartydens almal wil koop en gaan gepaard met heelwat bespiegeling in die media);
- Reuse-regstelling van tot 50% (dit gebeur so elke drie of vier jaar); en
- Frustrerende konsolidasie (lang periode waarin die prys styg en daal, maar eintlik gaan dit nêrens. Dit kan tot twee jaar duur).
Frisby meen bitcoin is nou in die frustrerende konsolidasie-fase.
Die jongste prysskommelinge wys weer hoe moeilik dit is vir beleggers om kriptogeld se werklike waarde te bepaal te midde van markgeraas en wisselvalligheid.
Ontleders van Standard Chartered het onlangs in 'n verslag 'n wye prysband van tussen $50 000 en $175 000 vir bitcoin vasgestel.
Die prysband is gegrond op onder meer bitcoin as ruilmedium, hoe dit waarde stoor en waar dit die beste in portefeuljes pas.




















