Is kriptogeldeenhede soos bitcoin ’n spekulatiewe piramideskema, of is dit die toekoms? Paul Roux bespreek die basis van bitcoin en of ’n mens in kripto-eenhede moet belê. Stefani Terblanche berig.
Mense belê in goud sodat hulle iets het om op terug te val indien iets skeefloop.
Dié soort versekering is ook die rede waarom baie mense in bitcoin, die grootste kriptogeldeenheid ter wêreld, belê, het Paul Roux Woensdag op die Woordfees gesê in die EasyEquities finansiële gespreksreeks “Ek sou kon doen met ’n miljoen: Kripto, ’n piramideskema of die nuwe monetêre stelsel?”
Roux is ’n finansiële adviseur en direkteur by Sentient Wealth.
Goud is die grootste bate ter wêreld. Maatskappye soos Nvidia, Microsoft, Apple, Alphabet (Google), Amazon, Meta en bitcoin val ook onder die top-10.
Roux sê bitcoin is in die laat 2000’s geskep omdat daar kommer oor tradisionele finansiële instellings en die skuld van onder meer die Amerikaanse regering was.
As die Amerikaanse regering as ’n onderneming beskou word, het dit in 2001 laas wins gemaak en dit word die afgelope 24 jaar teen ’n verlies bedryf. Die Amerikaanse regering het verlede jaar $5 000 miljard uit onder meer belastings ingevorder, maar het $6 800 miljard, bykans 40% meer, aan sy uitgawes bestee.
Volgens Roux beloop die Amerikaners se staatskuld al $37 000 miljard, met $3 miljard rente wat per dag bygevoeg word. Skulddienskoste is dié regering se derde grootste uitgawe – en dit is ’n probleem, veral as ’n mens in staatseffekte belê het, sê Roux.
’n Belegging in staatseffekte beteken ’n belegger leen geld aan die staat en verdien dan rente daarop.
Die Amerikaanse regering het drie opsies, sê Roux. Die eerste is om die skuld te ignoreer, maar dit is nou bloot te groot. Die tweede is om nie sy betalingsverpligtinge na te kom nie. Lande soos Griekeland en Rusland het dit onlangs gedoen. Maar deur dit te doen, verloor jy geloofwaardigheid, sê Roux.
Die derde opsie is om die skip te probeer omdraai deur óf uitgawes te verminder – wat moeilik is, want dit gaan beteken dat sekere dienste besnoei moet word – óf inkomste te vermeerder.
Deur die ekonomie te stimuleer, kan mense meer geldmaak, en dan kan die regering meer belasting vra.
“Maar dit is amper onmoontlik,” sê Roux.
Dit is waar opsie vier inkom, ’n nuwe stelsel: goud en kripto.
Digitale goud
Roux sê goud en bitcoin het eintlik verskeie dinge gemeen. Albei het ’n beperkte voorraad, met goud en bitcoin wat bykans met 1% per jaar vermeerder. Albei verg energie – ’n mens moet goud fisiek myn en bitcoin digitaal. Verder koop mense goud en bitcoin vir versekering indien sake erg sou skeefloop.
Nuwe geldeenheid?
Roux sê geld het verskeie funksies: Dit kan as ’n ruilmiddel vir goedere en dienste gebruik word, dit is ’n reken-eenheid en dit behou waarde.
Oor die wisselvalligheid van bitcoin sê Roux dit volg ’n baie soortgelyke patroon as goud.
Bitcoin se waarde is 14 keer minder as dié van goud. Indien iemand iets sê wat die mark beïnvloed, sal kleiner eenhede soos bitcoin groter bewegings as goud ervaar.
Indien gesentraliseerde geldeenhede, soos die dollar, euro en rand, tot niet gaan, het hy kripto, ’n gedesentraliseerde eenheid, as versekering, sê Roux.
“Ek dink daar is ’n argument om te maak dat bitcoin ’n beter geldstelsel is.”
Of dit wel binnekort die huidige stelsel gaan vervang, is nie duidelik nie. Volgens Roux is dit iets wat mense wat aan die begin bitcoin gekoop het, geglo het binnekort sou gebeur.
Kripto nie meer so taboe
Roux het ’n peiling onder die Woordfeesgangers wat Dinsdag se gesprek bygewoon het, gedoen. Volgens die inligting wat hulle gedeel het, besit 54% nie kripto nie.
Van diegene wat sy peiling op X ingevul het, het bykans twee derdes wel bitcoin besit.
Roux sê wel daar is verskeie kriptogeldeenhede “wat net lug en baie spekulatief” is. Dit is nie moeilik om ’n kriptogeldeenheid te maak nie, dus fokus hy op die grootste een, bitcoin, en ’n paar kleiner eenhede vir sy beleggings.
Roux sê jonger mense wat in bitcoin belê om geld te maak, belê gewoonlik baie.
As ’n mens ouer is en dit as ’n bateklas benut, moet ’n mens dit nes goud as versekering beskou. “Maar jy moet doen wat jy moet doen met jou geld.”
• Die laaste gesprek in dié finansiële gespreksreeks vind Donderdag om 13:00 by die EasyEquities Skrywerskamer plaas.













