Die waarde van bitcoin, die wêreld se grootste kriptogeldeenheid, het in een week met meer as 20% gestyg tot 'n rekordvlak van meer as $20 000 een.

Alle bitcoin in die wêreld is nou meer as $380 miljard werd.
Die prys van bitcoin het vanjaar al - vanaf 'n laagtepunt van ongeveer $3 600 in Maart - met meer as 400% gestyg. Die koronavirus-pandemie het finansiële markte wêreldwyd geruk, met meer mense wat in goud of dollar belê het.
Ontleders sê vandeesweek se styging is nie as gevolg van enige spesifieke gebeurtenis nie, maar eerder die gevolg van al hoe meer institusionele beleggers wat die digitale geldeenheid vir vinnige wins, asook die langtermynpotensiaal aankoop.
Teen 11:30 het een bitcoin in rand teen R353 736 op die plaaslike verhandelingsplatform Luno verhandel.
Die huidige styging in bitcoin kom ná die styging van 2017 in die digitale geldeenheid toe dit met meer as 900% gestyg het en teen middel Desember 2017 naby $20 000 gekom het. Wêreldwye finansiële leiers en ekonome het toe oor 'n moontlike prysborrel gelyk aan die Nederlandse tulpmanie in die 17de eeu gewaarsku, berig The Guardian.
Bitcoin het toe vroeg in Februarie 2018 onder $7 000 geval, maar is nooit tot nul uitgewis, soos wat sommige ontleders destyds voorspel het nie.
Een ontleder, Claude Erb, meen egter dat bitcoin tans meer as 50% oorgewaardeer is.
Die billike waarde van een bitcoin, volgens sy ontleding van die "netwerk-effek" van hoe bitcoin sy waarde kry, beteken een bitcoin is eintlik sowat $12 000 werd.
Erb beskou bitcoin baie soos goud.
Die bate verdien nie inkomste soos ander beleggings nie, maar word deur belangstelling gedryf.
Namate meer institusionele beleggers in bitcoin belê, kan die virtuele munt se waarde aanhou styg.





















