Die afgelope week sal seker onthou word vir sy onstuimigheid waarin markte wild rondgeval het van rekordstygings tot skerp dalings.
Die JSE het die week nogtans 6% hoër afgesluit as verlede Vrydag se 81 554 indekspunte.
Dit was danksy Donderdag se styging, want Vrydag het dit gelyk of die mark se gô behoorlik uit is. Die JSE se indeks vir alle aandele het 0,4% hoër gesluit op 86 406.
Dié indeks is nog 3% laer as die vlak waarop dit was voordat pres. Donald Trump se aankondiging oor Amerikaanse handelstariewe beleggers geskok het en die markte skerp laat daal het sedert verlede Donderdag.
In Europa het aandele Vrydag met minder as een persentasiepunt gestyg of gedaal.
Die meeste markte was steeds laer as waar dit voor Trump se aankondig was.
Die Amerikaanse markte het Vrydag gestyg, maar was ook nog laer as voor Trump se aankondiging.
CNBC.com berig dit was ná een van die wisselvalligste weke nog op Wall Street.
Die jongste syfers oor verbruikersvertroue in Amerika was swakker as verwag, terwyl 'n peiling van die Universiteit van Michigan toon verbruikers verwag dat inflasie tot die hoogste vlak sedert 1981 gaan styg.
Kommer oor ekonomie
Adriaan Pask, beleggingshoof van PSG Wealth, sê markte het sedert Trump se aankondiging vinnig op die nuus gereageer en die meeste indekse het sedertdien skerp gedaal.
Die S&P 500-indeks van Amerika is 1 200 punte of bykans 18% laer van sy rekordhoogtepunt vroeër in die jaar.
"Die markbeweging is 'n teken van moeiliker ekonomiese tye vorentoe en hernude onsekerheid oor wat met inflasie gaan gebeur."
Pask sê indien die handelstariewe wat verlede week ingestel en nou weer opgeskort is, meer as net 'n onderhandelingstaktiek is, gaan inflasie styg en ekonomiese groei afgetrek word.
Volgens hom skat Citi Bank dat Suid-Afrika se BBP-groei met 0,5% afgetrek gaan word weens die handelstariewe wat op 2 April aangekondig is.
Dit is vir 90 dae opgeskort.
Begin sin maak
Johanna Kyrklund, groepbeleggingshoof van Schroders, sê dit raak makliker om sin te maak van watter impak die handelstariewe gaan hê.
Kyrklund sê markte haat onsekerheid die meeste, maar dat slegte nuus in aandelepryse ingeprys kan word.
Sy sê al verskil 'n mens met Trump se benadering, is 'n duidelike beginpunt vir onderhandelinge uitgestippel.
"Dit voel dalk soos die speletjie slangetjies en leertjies, maar ten minste begin ons die reëls verstaan en markte het 'n basis om sulke risiko's in te prys.
"Ons beweeg vinnig van risiko's wat onkenbaar is, na risiko's wat ontleedbaar is."
Schroders het ook sy ekonomiese vooruitsigte afwaarts aangepas en sê dat die risiko vir 'n resessie toegeneem het.
Kyrklund sê benewens die impak van die tariefonderhandelinge, gaan markte beïnvloed word deur fiskale en monetêre reaksies op swakker groei.
Monetêre beleid kan meer uiteenlopend raak.
Ook sy maan beleggers wat op lang termyn belê om kalm en koelkop te bly.
"Met die hoë wisselvalligheid en toenemende onsekerheid gaan ons taktiese aanpassings aan portefeuljes maak om die veranderende wêreld te weerspieël."
Meer wisselvallig
Sanisha Packirisamy, hoofekonoom van Momentum Investments, en Tshiamo Masike, ekonomiese ontleder, sê Trump se aankondiging lui 'n doelbewuste verskuiwing in na "ekonomiese nasionalisme".
Hulle sê sedert Trump se verkiesing tot president het sy beleid oor belastingverlagings en deregulering optimisme gebring onder beleggers wat die S&P 500 laat styg het. Dié optimisme is nou weg en beleggers is ongemaklik oor die tariefbedeling wat besig is om te ontvou - en die gevolg was 'n baie wisselvallige reaksie op die markte.
Herman van Papendorp, hoof van batetoewysing van Momentum Beleggings, sê verlede week se aankondiging het magte negatief verras en tot 'n skerp daling in aandelemarkte gelei, asook verkope in die kredietmark en 'n vlug na die beweerde veilige hawe van Amerikaanse staatseffekte.
"Nie net het aandelemarkte beduidend gedaal nie, maar wisselvalligheid het skerp geklim."
Hy verwys na die wisselvalligheidsindeks (VIX) van Amerika wat vlakke bereik het wat laas in die pandemie gesien is.
Aanvanklik het die markte gedink Trump se beleid gaan hoër ekonomiese groei en inflasie meebring.
"Die mark se fokus het nou verskuif na die onmiddellike negatiewe implikasie vir groei wat beduidende tariefverhogings kan meebring en die waarskynlikheid van nog 'n resessie of stagflasie (swak groei en hoë inflasie) verhoog."
Die omvang van die tariewe wat aangekondig is, voorspel niks goeds vir internasionale ekonomiese groei en inflasie nie.
"Dit gaan 'n negatiewe impak op maatskappywinste hê en moet ingeprys word in aandelemarkte."
Raad aan beleggers
Hy sê die huidige waardasie van Suid-Afrikaanse aandele is laag genoeg om die toekomstige opbrengste vir beleggers te beskerm as maatskappywinste stadiger groei.
Hy sê die beste beskerming uiteindelik teen onstuimige markte is vir beleggers om goed gediversifiseer te wees en aan 'n wye verskeidenheid bateklasse blootstelling te hê.
"Langtermyn-beleggingsdoelwitte moenie ontspoor word deur gebeure wat die markte op kort termyn raak nie."
- nellie.brand@24.com









