Klagtes stroom in by die waghond oor die finansiëledienstebedryf oor skelmstreke met kriptogeld waarin verbruikers hul geld verloor.

Dit het die FSCA genoop om Suid-Afrikaners te waarsku oor beleggingskemas met kriptogeld wat hulle nie verstaan nie, of oor swendelaars wat beleggingskemas verpak as 'n belegging wat onrealistiese hoë opbrengste bied.
Kriptogeld word nie deur sentrale banke uitgereik nie en enige waarde wat verskaf word is 'n digitale waarde, sê die FSCA.
Van die meer bekende kriptogeld is Bitcoin en Etherium.
Die geldeenhede word elektroniese gestoor en verhandel en word gebruik vir betalings, beleggings en om kapitaal in te samel.
Maar die FSCA maan dat beleggingskemas wat met kriptogeld verband hou nie deur hom of enige ander liggaam in Suid-Afrika beheer word nie.
"Gevolglik, as daar iets verkeerd gaan is dit onwaarskynlik dat jy jou geld gaan terugkry en jy het geen toevlug nie."
Die FSCA sê die groot risiko wat reeds in kriptogeld is, word verder vererger deur swendelaars asook ongereguleerde ondernemings wat verbruikers teiken deur die opbrengste te beklemtoon maar nie die moontlike verliese nie.
"Dit is om hierdie rede dat die FSCA besig is om maatreëls te vind om sekere aspekte van en spelers in die bedryf te reguleer."
Die maatreëls word binne maande beoog.
Die FSCA werk saam met ander lede van die Fintech-werkgroep (IFWG) om te bepaal waar toepaslik kriptogeld gereguleer moet word.
Pasop intussen hiervoor
Die FSCA sê namate die gewildheid van kriptogeld toeneem, word verbruikers daaraan herinner om te verstaan waarin hulle belê en wat die finansiële risiko daaraan verbonde is. Dit sluit in:
- Dat die kripto-beleggingsondernemings die potensiële uitbetaling oorspeel en die risiko's onderspeel.
- Beleggings in kriptogeld of beleggings of lenings wat daaraan gekoppel word (kripto-bates), behels in die algemeen dat baie groot risiko's met beleggers se geld geneem word. Dit beteken jy moet bereid wees om al jou geld te verloor.
- Daar is geen waarborg dat kripto-bates in kontant omgeskakel kan word nie en verbruikers is oorgelewer aan die vraag en aanbod in die mark.
- Die prys van kripto-bates word bepaal deur die onderliggende stemming in die mark of die sentiment van die algemene publiek met geen onderliggende basis waarop die waarde bepaal word nie. Die pryse word wêreldwyd opgejaag deur persone wat belange het daarin dat die waarde van die kripto-bates opgejaag word.
- Die FSCA sê dieselfde bemarking word gebruik deur Ponzi-skema-operateurs om beleggers bang te maak dat hulle iets gaan misloop, en so word 'n siklus veroorsaak van nuwe beleggers wat bates koop en die pryse wat opgejaag word. "Uiteindelik is daar geen waarborg dat wanneer jy wil verkoop, die sentiment nog bestaan ??en dat daar nog kopers gaan wees wat die kripto-bates by jou sal wil koop nie."
- Daar is dikwels hoë pryswisselvalligheid wat selfs groter finansiële risiko vir verbruikers inhou.
Indien jy wel wil belê
Die FSCA sê as mense dan bereid is om die risiko te neem, moet hulle steeds probeer om ag te slaan op die volgende:
- Maak seker dat die kripto-bates net 'n klein deel van jou beleggingsportefeulje uitmaak. Moet dus nie al jou eiers in een mandjie sit nie.
- Omdat die risiko so groot is om al jou geld te verloor in die beleggingskemas, moet behoorlike advies verkry word vooraf of dit geskik is vir jou omstandighede en wat die impak gaan wees as dit misluk.
- Wees bewus van die groot risiko's en begryp dat die tipe beleggings nie geskik is vir 'n baie groot deel van die bevolking nie en dat daar meer geskikte en gebalanseerde beleggingsprodukte beskikbaar is van gelisensieerde finansiëlediensteverskaffers wat deur die FSCA gereguleer word.
- Moenie onder druk geplaas word om te belê nie.
- Daar is geen "word-vinnig-ryk-skema's" in die wêreld nie, maar jy kan baie vinnig arm word.
- As dit met jou aftreegeld verband hou, wees verstandig en verantwoordelik en moet nie 'n groot deel van jou welvaart in een produk belê nie.
- Diversifisering van die risiko is die belangrikste beginsel vir die skepping en bewaring van welvaart op lang termyn.
Die FSCA sê aftreefondstrustees moet ook waaksaam bly en hul fidusiêre pligte nakom voordat 'n mandaat aan beleggingsbestuurders gegee word om 'n fonds se bates in kriptogeld of -bates te belê. Die FSCA ontmoedig op die oomblik sulke beleggings deur aftreefondse totdat regulasies gefinaliseer is om beleggers te beskerm.




















