
Die skerp daling in die olieprys Maandag het ook al die vernaamste digitale geldeenhede die skrik op die lyf gejaag.
Die prys van bitcoin het binne 24 uur met meer as 10% tot onder die $8 000-kerf geval.
Dit het Maandagmiddag teen $7 840, sy laagste vlak sedert vroeg Januarie, verhandel.
Volgens CoinDesk is die prys van ethereum, ripple en bitcoin cash ook laer.
Bitcoin cash het die grootste daling gesien en is nou 14%, oftewel $43 minder werd as Sondag. Een bitcoin cash verhandel nou teen $274.
Die daling in die prys van digitale geldeenhede weerspieël die daling in die olieprys waarvan die invloed ook Maandag op die JSE gesien kan word, sê Marius Reitz, hoofbestuurder vir Luno in Suid-Afrika.
Die olieprys het Maandag sy grootste ineenstorting sedert die Golfoorlog in 1991 gesien en met soveel as 31% tot so laag as $31,20 per vat geval.
Die JSE het ook 'n bloedbad beleef met die indeks van alle aandele wat met meer as 6% of meer as 3 300 punte geval het.
"Die markte reageer ook op die verdere negatiewe nuus oor die koronavirus," sê Reitz.
'n Derde bevestigde geval in Suid-Afrika van Covid-19 is oor die naweek deur die departement van gesondheid aangekondig.
"Die onlangse ineenstorting van die aandelemark het beleggers aangespoor om alle risiko's uit hul portefeuljes te verwyder."
Dit sluit in digitale geldeenhede wat deur talle beleggers as een van hul mees riskante bates beskou word.
Selfs met die onlangse daling in die prys is bitcoin egter steeds 19% meer werd as middel Desember toe dit teen so min as $6 584 verhandel het.
Op die plaaslike mark het bitcoin Maandagmiddag teen R133 500 verhandel, 9% laer as Saterdag.
Die prys van ethereum het teen vroegmiddag weer begin kop optel en teen meer as R3 500 verhandel.




















