As dit in die 1800's tydens die Britse nywerheidsrevolusie was, sou geen haan daarna gekraai het nie, en as dit in Suid-Afrika was, het die inspekteurs van die departement van arbeid al op hulle toegesak.

Maar in Amerika adverteer 'n tak van die kitskosreus McDonald's in die deelstaat Oregon vir 14- en 15-jarige kinders om vir werk aansoek te doen.
Die betrokke McDonald's-restaurant sê dis ongehoord dat hy tans so sukkel om genoeg ouer werkers te kry, en dis waarom hy nou vir jonger werkers adverteer.
Luidens berigte het die restaurant al meer as 25 nuwe aansoeke ontvang sedert die poste vir kinders jonger as 16 geadverteer is. Dit voldoen wel aan die deelstaat se arbeidswetgewing.
In Oregon word mense van 14 en ouer toegelaat om in niegevaarlike werkomgewings soos die kosdienstebedryf te werk, solank die ure beperk word sodat die kinders steeds kan skoolgaan en solank daar genoeg rustye is.
Daar is volgens BBC News tans 'n groot tekort aan arbeid in Amerika weens vrese vir Covid-19, sommige skole wat gesluit bly, en werkers wat eerder tuisbly omdat daar nie kindersorgdienste beskikbaar is nie.
McDonald's is nie die eerste kitskosgroep wat jonger werkers nooi om vakatures te vul nie. Takke van Burger King en Wendy's het ook onlangs poste vir jonger werkers geadverteer.
Heather Coleman, bestuurder van die betrokke McDonald's, sê aan Business Insiderdat die kinders 'n goeie werksetiek het en die tegnologiese kant van die bedryf vinnig snap.
Nie eens McDonald's se verhoging van sy minimum loon tot $15 (sowat R220) per uur kon genoeg nuwe werkers lok nie, maar toe daar vir die jonger werkers geadverteer is, het die aansoeke begin instroom, vertel Coleman.
'n Restaurantgroep in Texas, Layne's Chicken Fingers, sukkel so om meer ervare personeel te lok dat hulle nou 16- en 17-jariges en mense in hul vroeë 20's in bestuursposte aanstel om nuwe takke te bestuur, met salarisse van tot $50 000 (R720 500) per jaar.
Talle ander kitskosrestaurante in Amerika moes sluit, korter ure werk of het afgeskaal tot slegs wegneemetes weens die tekort aan werkers. - saamgestel deur Francois Williams
















