Die getal gegradueerdes wat vanjaar hul eerste raadseksamen geskryf het om as geoktrooieerde rekenmeester toegelaat te word, het met 941 afgeneem. Dis 'n kwart minder as in 2021.
Dit kan meebring dat Suid-Afrika teen 2025 oor aansienlik minder geoktrooieerde rekenmeesters sal beskik.
Die eerste raadseksamen - die aanvanklike vaardigheidstoets (ITC) - bepaal of aspirant- geoktrooieerde rekenmeesters die tegniese kennis in hul voorgraadse en nagraadse rigtings opgedoen het om verdere opleiding te kan ondergaan. Hulle skryf later 'n tweede raadseksamen en diegene wat slaag, kwalifiseer as 'n volwaardige geoktrooieerde rekenmeester. Graeme Marais, direkteur van Blue Recruiting wat spesialiseer in die werwing van mense in die finansiëledienstebedryf, sê boonop emigreer baie van die land se rekenmeesters.
Die feit dat die ouditberoep die laaste paar jaar onder fel kritiek deurgeloop het weens skandale soos Steinhoff en Tongaat Hulett is waarskynlik 'n faktor. Sommige sien nie meer kans vir die hoërisiko-omgewing waarin ouditeure werk nie en kry ander werk.
Robert Zwane, hoof van leer, ontwikkeling en nasionale vereistes by die Suid-Afrikaanse Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters, sê die land se swak wiskunde-slaagsyfer dra by tot die probleem. Boonop het die Covid-19-pandemie universiteite se onderrigprogramme ontwrig.
















