Beroepe

Anderstaliges ‘kritiek’; staat dink nié so

Suid-Afrikaanse maatskappye soek naarstig na buitelandse werkers wat tale soos Litaus, Tsjeggies, Russies, Japannees, Noors, Switserse Duits, Frans en Mandaryns magtig is, maar die staat beskou nie dié taalmagtigheid as 'n kritieke vaardigheid waarvoor 'n Suid-Afrikaanse werkvisum vinnig uitgereik hoef te word nie.

Immigrante sukkel om hul visums te hernieu.
Immigrante sukkel om hul visums te hernieu.

Werkers wat buitelandse tale magtig is, verskyn nie meer op die departement van binnelandse sake se nuwe konseplys vir kritieke vaardighede wat verlede maand gepubliseer is nie, sê Marisa Jacobs, uitvoerende direkteur van Xpatweb, wat maatskappye help om kundiges in die buiteland te werf. Dit beteken dié buitelandse werkers kan twee tot ses maande langer wag vir 'n werkvisum, sê sy.

Belangegroepe kan tot 31 Maart skriftelik kommentaar lewer oor die lys.

Jacobs sê dis onduidelik waarom anderstaliges nie meer deel is van die lys nie. In Xpatweb se jaarlikse peiling oor die kritieke vaardighede wat plaaslike maatskappye benodig, het 16% gesê hulle sukkel om kundiges te werf wat 'n buitelandse taal magtig is (2020: 6%).

So sê 30% van respondente hulle sukkel om Franssprekende werkers te lok, 18% om Duitssprekendes te werf en 14% sukkel om werknemers te kry wat Mandaryns magtig is. Sprekers wat Italiaans, Spaans en Nederlands magtig is, is ook gesog en Japannees en Arabies is al hoe gewilder.

Jacobs sê bedrywe soos gasvryheid en toerisme, inligtingstegnologie en kommunikasie, finansies, opvoeding en biblioteekkunde het dié taalvaardighede nodig. Dit is ook uiters belangrik vir Suid-Afrika se florerende en groeiende kontaksentrumbedryf.

Sharon Haigh, uitvoerende hoof van die kontaksentrum-bestuursgroep (CCMG), wat meer as 2 000 Suid-Afrikaanse kontaksentrums verteenwoordig, sê in 'n verklaring die sentrums bied onder meer steun via telefoon, e-pos en geselsplatforms en hanteer bemarking, wat 'n grondige kennis van 'n spesifieke land, sy gebruike, voorkeure en nuanses vereis.

Die CCMG vra dat die 11 buitelandse tale wat op die lys was maar nou weggelaat is, ingesluit word. Daaronder tel Duits, Deens, Italiaans, Sweeds, Nederlands en Spaans. Hulle wil ook hê taalvaardigheid in Japannees, Noors, Fins, Litaus, Tsjeggies, Portugees en Russies moet as kritieke vaardighede tel.

Maatskappye gebruik werkers wat buitelandse tale magtig is om te help met dokumente, te tolk tydens saketransaksies en vergaderings, vir noodsaaklike kommunikasie met onder meer verskaffers en kliënte en om te help met koördinering tussen kantore.

Mary-Ann McCormick, mensehulpbrondirekteur by die Indian Ocean Export Company (IOEC), sê in 'n verklaring werkers wat 'n vreemde taal kan praat, is noodsaaklik vir sterk sakebetrekkinge in dié firma se Franssprekende markte oorsee.

Xpatweb het in sy kommentaar oor die lys die tekort aan werkers wat buitelandse tale magtig is én die groeiende vraag na dié werknemers opnuut onder die departement se aandag gebring.

Xpatweb en nog 21 organisasies benadruk ook hoe belangrik dit is dat sekere vaardighede wat noodsaaklik is vir plaaslike maatskappye, maar nie op die konseplys verskyn nie, wel ingesluit word.

Dít sluit in topbestuurders soos uitvoerende hoofde, finansiële hoofde, bedryfshoofde en inligtingshoofde met internasionale werksondervinding. Jacobs sê dis vreemd dat die meer algemene tegniese beroep van passer-en-draaier op die konseplys verskyn, maar sekere gespesialiseerde vakmanne nie.

Sy sê mense dink dalk die land het genoeg vakmanne, maar daar is sekere hoogs gespesialiseerde areas waarvoor vakmanne van die buiteland gelok moet word. Volgens Jacobs gebruik al hoe meer lande hul immigrasiebeleid om skaars vaardighede te lok. Lande soos Amerika, Kanada, Australië en Brittanje het soortgelyke lyste.

Brittanje reik nou spesiale visums uit om gesondheidswerkers van enige plek ter wêreld daarheen te lok te midde van 'n wêreldwye tekort aan verpleegsters.

Riana De Lange

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM