Generasie Z ‘moet anders dink oor werk’

Prof. Chris Adendorff, Tsepang Setipa en Danie Jacobs was die drie paneellede wat die belang van entrepreneuriese vaardighede vir Generasie Z in Port Elizabeth bespreek het.Foto: VERSKAF
Prof. Chris Adendorff, Tsepang Setipa en Danie Jacobs was die drie paneellede wat die belang van entrepreneuriese vaardighede vir Generasie Z in Port Elizabeth bespreek het.Foto: VERSKAF

'n Graad waarborg nie vir jou 'n werk nie. Oor net meer as 'n dekade sal 80% van die soort werk wat vandag bestaan, nie meer daar wees nie.

En dít is hoekom Suid-Afrika alles in die stryd moet werp om entrepreneuriese vaardighede onder kinders te kweek.

Tsepang Setipa, stigter en uitvoerende hoof van Consult Group International, het Vrydag op 'n inligtingsessie van die Young Entrepreneurs-konsessie in Port Elizabeth gesê entrepreneurskap moenie 'n nagedagte by skole wees nie. Dit moet van die grondslagfase dwarsdeur die kind se ontwikkeling ingeprent word.

"Die ontwikkeling van entrepreneurskap verg meer as om een keer per jaar kolwyntjies op 'n skoolmarkdag te verkoop," het hy by dié geleentheid ter viering van Internasionale Entrepreneurskapsweek gesê.

Volgens Setipa is net 5% van Suid-Afrikaners entrepreneurs.

"Suid-Afrika benodig nie net méér entrepreneurs nie; die land benodig beter entrepreneurs."

Mense raak volgens hom te maklik "entrepreneurs". Hulle sê: "Ek is werkloos, ek is afgedank. Goed, ek sal iets verkoop."

Hy was een van die drie paneellede wat gepraat het oor wat om te verwag tot 2030 en waarom entrepreneuriese vaardighede belangrik is vir Generasie Z. Dit is die generasie wat van die middel-1990's tot die middel-2000's gebore is.

Suid-Afrika benodig nie net meer entrepreneurs nie; die land benodig beter entrepreneurs.

—  Tsepang Setipa

Danie Jacobs, voormalige direkteur van die Universiteit van die Vrystaat se sakeskool en stigter en hoofbeampte van die nasionale konsessie Young Entrepreneurs, en prof. Chris Adendorff, wat verskeie ondernemings in Suid-Afrika en in die buiteland bedryf en lesings in entrepreneurskap aan die Nelson Mandela-Universiteit se sakeskool aanbied, was die ander paneellede.

Jacobs het benadruk dat die wêreld van werk en sake verander het. "Die onvermoë van ons skoolstelsel om ons kinders vir dié veranderinge te bemagtig is 'n bron van kommer.

"Daar is 'n verskil tussen wat ons ons kinders leer en die wêreld van werk," sê hy.

Adendorff meen om 'n entrepreneur te word, word al hoe belangriker aangesien die werkwêreld verander.

"Teen 2030 sal 60% van vandag se werk nie bestaan nie. Die wêreld beweeg na 'n internet van dinge en kunsmatige intelligensie. Ons moet saambeweeg of agterbly."

Die Young Entrepreneurs-franchise is vanjaar in Port Elizabeth bekend gestel deur die franchise-eienaar Ansulene Prinsloo, 'n gekwalifiseerde rekenmeester en voormalige akademikus.

Sy het in die ontwikkeling van entrepreneurs begin belang stel toe haar seun, Berno Potgieter, sy chemiese ingenieursgraad voltooi het en nie werk ná die gradeplegtigheid kon kry nie.

"Dit was verwoestend vir almal van ons - die emosionele mallemeule vir 'n jong gegradueerde wat jare lank hard gewerk het en dan nie werk kon kry nie, was verskriklik."

Potgieter het toe besluit om die risiko te loop om sy eie onderneming te begin.

Roslyn Klaasen

SPELETJIES VANDAG

CTA