'n Werknemer wat op kamera betrap word dat hy buite die werkplek plunder of steel, soos by 'n winkel, loop op dun ys: Hy kan afgedank word.
Regskenners by die prokureursfirma Cliffe Dekker Hofmeyr (CDH) in Johannesburg het gesê daar is beeldmateriaal van hordes mense wat aan die wydverspreide diefstal by winkelsentrums en pakhuise in Gauteng en KwaZulu-Natal deelgeneem het.
Die vraag is of 'n werkgewer werknemers kan dissiplineer en moontlik afdank as daar bewyse is dat hulle aan die plundery deelgeneem het. Dit hang egter van elke individuele geval af.
Die Pretoriase maatskappy Ubuntu Wealth Management het sy uitvoerende hoof met onmiddellike ingang geskors nadat die polisie hom op 13 Julie by 'n padversperring in Umhlanga, noord van Durban, in hegtenis geneem het. Qhawe Sithole (30) word strafregtelik daarvan aangekla dat hy gesteelde goedere in sy Jeep Wrangler gehad het.

Foto's van die vermoedelik gesteelde goedere, soos 'n wasmasjien nog in sy kartonverpakking, is op die toneel geneem en op Facebook versprei. Een foto wys Sithole waar sy hande met kabelbinders vasgemaak is.
Ubuntu het toe aangekondig hy sal eers na al die feite en die strafsaak se uitslag kyk voordat hy oor tugstappe teen Sithole besluit. Die maatskappy het terselfdertyd skadebeheer probeer toepas deur te sê hy verseker sy belanghebbendes en die publiek die saak is van opperste belang vir sy direksie en dit kry al die nodige aandag.
Op sy webtuiste het Ubuntu Sithole se foto vervang met dié van 'n vrou, maar daarnaas die beskrywing van Sithole se CV en vaardighede gelos. Sithole, wat nie met Rapport wou praat nie, het sy profiel van die webblad LinkedIn verwyder.
Volgens Gillian Lumb en Mbulelo Mango van CDH kan 'n werkgewer tugstappe teen 'n werknemer doen, selfs al het dié nie 'n werkuniform met die maatskappy se embleem daarop gedra toe hy of sy aan onwettige aktiwiteite deelgeneem het nie. Die werkgewer moet in so 'n geval kan toon dat die werknemer goed bekend aan sy kliënte is en met sy handelsmerk vereenselwig word.
As die werknemer 'n veiligheidswag by 'n winkelsentrum is, kan die werkgewer redeneer hy kan die wag nie meer vertrou weens sy deelname aan die oproer nie.
In die algemeen het 'n werkgewer nie die reg om sy personeel te dissiplineer vir gedrag buite die werkplek en buite werkure nie. Tog is dit nie 'n blanko verbod nie. Daar is gevalle waarin die maatskappy tugstappe kan doen en mense selfs kan afdank.
As werkers meegedoen het aan die plundery, hoef maatskappye nie te wag totdat 'n strafhof sy bevinding gee nie. 'n Tugverhoor van die werker kan vroeër al oorweeg word, sê CDH.
Die howe het reeds bevind werkers kan afgedank word weens misdade buite die werkplek as die misdaad die onderneming of sy aansien aantas. Die werkgewer moet 'n verband tussen die misdaad en die werkverhouding bewys. Hy moet kyk na faktore soos die aard van sy onderneming; die senioriteit van die werknemer; die graad van vertroue wat in die werknemer geplaas is; en of die werknemer in die misdaad geïdentifiseer kan word as 'n personeellid of as iemand wat met die onderneming vereenselwig word.
Volgens CDH het bewyse op sosiale media meegebring dat ál hoe meer werknemers afgedank word weens wangedrag buite die werkplek.


















