Beroepe

R15 000 per maand as ‘leefbare loon’ bepleit

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Sakeorganisasies is gekant teen die voorstelle dat die nasionale minimum loon in Maart teen ver meer as die inflasiekoers verhoog word. Foto: Unsplash
Sakeorganisasies is gekant teen die voorstelle dat die nasionale minimum loon in Maart teen ver meer as die inflasiekoers verhoog word. Foto: Unsplash

Met R15 000 per maand ná aftrekkings kan Suid-Afrikaners 'n menswaardige bestaan voer - én dit sal 'n enorme hupstoot vir die ekonomie wees.

Prof. Ines Meyer van die Universiteit van Kaapstad het vroeër dié bedrag as die netto leefbare loon vir 2024 aan die Living Wage South Africa Network (LWSAN) voorgestel. Die bedrag is bereken teen die lewensgehalte wat lae-inkomsteverdieners landwyd in 'n ondersoek weergegee het.

Volgens Meyer is dié bedrag vroeër met gemengde reaksie begroet.

Meyer, huidige voorsitter van die LWSAN, sê 'n aantal mense het daarop aangedring dat R15 000 nooit hul maandelikse verpligtinge sou dek nie. Sy het begrip vir dié sentiment. "Dit is moeilik om te meet en pas op R15 000. Tog verdien die meeste mense wat in Suid-Afrika werk selfs minder.

"Die wetlik voorgeskrewe nasionale minimum loon kom neer op slegs 'n derde van die leefbare loon. As dit moeilik is om op R15 000 per maand te leef, hoe kom diegene met 'n laer inkomste oor die weg?

"Die LWSAN moedig dus die publiek en werkgewers aan om die lot van diegene in ag te neem wat sukkel om die broodnodige noodsaaklikhede te bekostig wat die res van ons as vanselfsprekend aanvaar."

Die nasionale minimum loon het op 1 Maart 2024 van R25,42 tot R27,58 per uur gestyg. Iemand wat dus agt uur per dag vir 22 dae ('n gemiddelde werkmaand) werk, kan dus sowat R4 854 verdien. Mense wat "stukwerk" doen, het egter selde 'n inkomste vir elke dag.

In die formele sektor lyk die prentjie aansienlik rooskleuriger.

Volgens Statistieke Suid-Afrika se kwartaallikse indiensnemingspeiling vir die tweede kwartaal was die gemiddelde verdienste in die formele sektor in Februarie R26 793 per maand. Dit sluit wel bonusse en oortyd in.

Meyer verduidelik die leefbare loon is vergoeding wat genoeg is om in die behoeftes van lae-inkomstegesinne te voorsien, met 'n bietjie wat oorbly om te spaar om onvoorsiene uitgawes te dek.

Werkgewers word aangemoedig om vrywillig die leefbare loon te betaal uit "menslike ordentlikheid".

"Ons kla daaroor om van maand tot maand te leef, maar hoeveel lae-inkomste-families oorleef van oggend tot oggend?"

Selfs verligtingsprogramme soos basiese gratis elektrisiteit word beperk en vereis dat aansoekers as armlastig geïdentifiseer word. "So, jy sal in armoede moet bly net om daarvoor te kwalifiseer."

Dit is volgens haar nie moeilik om te sien watter reuseverskil R15 000 aan mense se bestaan en hul menslikheid sal maak nie.

Werkgewers gaan ongelukkig voort om 'n werknemer se waarde te skat na die waarde wat hul arbeid aan die maatskappy bied gegrond op werkgradering en maatstawwe, nie hul inherente waarde as mense nie.

"Dié denkwyse het bykans 'n eeu gelede ontwikkel toe die wêreld baie anders gelyk het as vandag. Ons moet dié uitgediende denke opreg uitdaag en 'n kulturele drempel skep waar deernis vir ons medemens in pas is met korporatiewe ambisie," sê Meyer.

Sy glo, in teenstelling met gewilde opvattings, dat die verhoogde salarisrekening tot verbeterde eerder as verlaagde finansiële prestasie vir maatskappye aanleiding sal gee.

CTA