Beroepe

Rassie aan sakelui: Dit is nie transformasie, maar verander

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Rassie Erasmus in ’n skermgreep uit ‘Chasing the Sun 2’. Foto: Verskaf
Rassie Erasmus in ’n skermgreep uit ‘Chasing the Sun 2’. Foto: Verskaf

Dit is nie altyd die beste persoon wat gekies moet word vir 'n span nie, sê Rassie Erasmus, direkteur van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie en Springbok-afrigter.

Erasmus het Donderdag op 'n konferensie van RMB vir beleggers in Kaapstad as gasspreker gepraat en ook sy siening gedeel oor wat hy glo die verskil is tussen verander en wat transformasie vir mense beteken.

Hy het sy proses verduidelik wat gelei het tot die sukses om die Wêreldbekerrugbytoernooi onder sy leiding in 2019 en 2023 te wen.

Die eerste stap is om die regte mense te kry, sê hy.

Die stap-vir-stap-proses wat hy aan die gehoor op RMB se konferensie aan beleggers in die Baxter-teater in Kaapstad verduidelik het.
Die stap-vir-stap-proses wat hy aan die gehoor op RMB se konferensie aan beleggers in die Baxter-teater in Kaapstad verduidelik het.

"Die regte mense is nie altyd die beste mense nie. Ek sal eerder 'n gemiddelde ou vat wat sy gat af werk, wat glo in die span en wat vir Suid-Afrika wil speel."

Om die regte persoon te kies is 'n opweging tussen die persoon se talent en sy ingesteldheid. Daar is moeilike besluite wat soms geneem moet word oor wie op die bus gaan wees om in die eindstryd speel, sê hy.

"Dit is die begin en einde. As jy nie die regte mense op die bus kry nie, het jy geen kans nie."

Daar is nie plek vir mense wat glo hulle is geregtig op iets nie.

Hy sê met die regte mense is dit maklik om hulle te kry om saam te werk. "Jy moet die beste vir die span wil hê. Dit is nie jou mededingers in die Springbokspan nie, dit is jou spanmaats."

Wanneer iemand 'n fout maak, geniet jy dit nie, maar help die persoon om dit reg te stel. Kry die persoon om die werk te doen.

Die resultate moet gemeet word. Nie deur na die telbord te kyk nie, maar om die resultaat te meet van die moeite wat ingesit is, sê Erasmus.

As iemand nou 20 opstote kan doen, en oor twee weke is dit 60. Meet dit, die inspanning. As hy hard werk, gaan hy daar kom.

—  Rassie Erasmus

"As iemand nou 20 opstote kan doen, en oor twee weke is dit 60. Meet dit, die inspanning. As hy hard werk, gaan hy daar kom."

Maar, maan hy, dit kan ook nie 'n geval wees soos die liedjie lui "ons werk hard, want ons is dom nie".

Daar moet ook saam met die spelers geëvalueer word. "Hulle weet baie keer beter, want hul speel teen die wêreld se bestes."

Sy laaste stap is om te verbeter. Op wat? Die proses.

"Om die regte mense te kry, om nog beter saam te werk, om nog meer moeite in te sit. Meet dit. Ontwikkel nog meer saam met die spelers, verbeter die proses."

Erasmus sê niemand wil in die verleentheid gestel word nie, so hetsy dit in 'n maatskappy of 'n rugbyspan is, moet daar 'n veilige plek vir mense geskep word om hulself te wees.

"Anders sit jy met 'n klomp robotte. Jy wil nie 'n omgewing hê waar spelers onveilig voel om hulself te wees nie."

Rassie Erasmus, direkteur van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie, op RMB se konferensie vir beleggers.
Rassie Erasmus, direkteur van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie, op RMB se konferensie vir beleggers.

Hy het verwys na die verskeidenheid agtergronde van die spelers - van townships tot eksklusiewe private skole, Xhosas, Zoeloes, Afrikaners, plaaskinders, Christene en Moslems.

"Ons gee nie om wat jou standpunt is nie, en wil nie jou standpunt verander nie, solank jy vir Suid-Afrika produseer."

Maar 'n persoon moet kan wees wie hy is, sy karakter kan behou, sê hy. "As jy dit alles saam sit, het ons baie dinge wat ander lande nie het nie."

Spelers moet ook insette kan lewer. "Ons is nie base wat hulle aansê wat om te doen nie, hulle is volwassenes."

Iets waarop hy ook gefokus het, was die eksterne karakter wat getoon is van spelers wat vervuld voel en dit geniet; wat weier om geklop te word en hard werk met 'n hoë mate van sukses."

Kies 'n speler op grond van sy ingesteldheid en talent, verduidelik Rassie Erasmus.
Kies 'n speler op grond van sy ingesteldheid en talent, verduidelik Rassie Erasmus.

Hy sê die interne eienskappe van 'n span wat die Wêreldbeker wen, sluit in harmonie in die span, dissipline, en wat hy noem "superieure ontevredenheid" - om altyd te glo jy kan beter vaar.

Erasmus glo die grootste kenmerk van die span van 2015 tot 2019 en 2022, was verandering.

"Mense is lief daarvoor om die woord transformasie te gebruik. Transformasie beteken nie in my oë swart in, en wit uit nie. Dit is waar mense dit verkeerd kry."

Hy sê verandering is wyer en hy het baie dinge verander.

"Transformasie het so 'n lelike woord geword in Suid-Afrika. Moenie iemand verleë laat voel met etikette en teikens nie."

Dit laat nie swart of wit spelers goed voel nie.

"So, ons het gesê transformasie is weg, ons verander en ons verander 'n kleinhuisie vol dinge. En die een ding wat ons wou wees, is om 'n demografiese verteenwoordiging van Suid-Afrika te wees.

"Ek is die trotsste daarop," sê Erasmus.

CTA