Regstellende aksie is bedoel om 'n tydelike maatreël te wees totdat ongelykhede van die verlede uitgewis is, maar Solidariteit meen dis duidelik die regering wil dit permanent maak.
In die vakbond se geskrewe kommentaar op die konsep- sektorale rasteikens wat einde Februarie uitgereik is, sê Solidariteit dit impliseer "ondubbelsinnig" dat die teikens wat daargestel word nié tydelik van aard is nie.
Die 90 dae vir kommentaar op die konsepregulasies loop vandeesweek ten einde.
LEES OOK | Selfs ‘afgewaterde' rasteikens moet teengestaan word - Sakeliga
Anton van der Bijl, adjunkbestuurshoof van Solidariteit, sê: "Die regering se konsepregulasies oor sektorale numeriese rasteikens verontagsaam die skikking wat verlede jaar met Solidariteit bereik is. In kommentaar oor die regulasies wat deur Solidariteit ingedien is, word duidelik uiteengesit hoe dit teenstrydig is met internasionale reg oor diskriminasie in die werkplek."
Volgens hom is die sektorale teikens "eintlik blatante en rigiede kwotas wat in der waarheid deur ons Grondwet verbied word".
Solidariteit en die regering het onder toesig van die Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO) geskik dat regstellende aksie nooit meer die enigste oorweging vir aanstellings mag wees nie. Dis in Oktober 2023 'n hofbevel gemaak.
"Die regulasies moet dus strook met die skikking wat sê dat ras nie die enigste faktor is wat in ag geneem mag word wanneer werknemers aangestel of afgedank word nie. Dit is tans nie die geval nie en ons sien nie dat die regulasies die behoeftes van die bedryf of ander maatskaplik-ekonomiese faktore in ag neem nie. Dit is eerder rigiede voorskrifte waaraan 'n werkgewer moet voldoen, anders is boetes of 'n verbod om besigheid met die staat te doen sy voorland," sê Van der Bijl.
Solidariteit maak ook beswaar dat die konsepregulasies uitgereik is voordat die Wysigingswet op Regstellende Aksie onderteken is.
Solidariteit meen daar is nie 'n redelike kans dat die konsepregulasies in die doelwit van gelyke indiensneming slaag nie omdat die land 'n groot vaardigheidstekort en 'n sukkelende ekonomie het.
"Met ander woorde, die teikens is uiters onrealisties en sal meer skade doen as wat hulle histories benadeelde groepe sal bevorder.
"Onbuigsaamheid in maatreëls vir regstellende aksie frustreer die lewenskanse van nie-begunstigdes, wat ras- of geslagsgegronde mededinging veroorsaak wat nie in pas is met die genuanseerde en inklusiewe idee van substantiewe gelykheid nie."
Solidariteit sê boonop ondermyn die teikens, wat deur die minister van indiensneming en arbeid bepaal word, die voorgeskrewe raaspleging met werknemers. Dit kom neer op "kwotas wat van bo afgekondig word", eerder as teikens wat werkgewers ontwikkel ná konsultasie met hul arbeidsmag.



















