Beroepe

Restaurante, haarkappers eis veral Covid19Ters

Dit is veral restaurante wat Covid19Ters-eise by die Werkloosheidsversekeringsfonds ingedien het. Foto: Unsplash
Dit is veral restaurante wat Covid19Ters-eise by die Werkloosheidsversekeringsfonds ingedien het. Foto: Unsplash

Dit blyk dat restaurante en haarkappers veral by die Werkloosheidversekeringsfonds (WVF) se Covid19Ters-skema eise ingedien het.

Volgens syfers wat die WVF Donderdag bekend gemaak het, is net meer as R10 miljard sedert 26 Maart betaal aan 2 620 115 werknemers by maatskappye wat persoonlike dienste lewer.

Dit sluit in losieshuise, kafees, restaurante, nagklubs, wasserye en droogskoonmakers, haarkappers, skoonheidsalonne, begrafnisondernemings, krematoria, begraafplase, advertensieagente en insamelingsagentskappe.

Nog R9 miljard is aan werknemers van maatskappye in die kleinhandelsektor betaal.

Dit sluit in markagente, vis-, pluimvee- of wildhandelaars, installeerders en monteerders van rekenaars, huishoudelike elektriese toestelle, televisies, radio's, taksidermis, fiets- of naaimasjienhandelaars, insluitende die herstel en montering daarvan, fotograwe, vel- en wolhandelaars of -makelaars, en vervaardigers van verestoffers.

In hierdie bedryf het 2 218 571 werknemers betalings ontvang.

Die sektor wat die derde meeste eise by die WVF ingedien het, is die konstruksiebedryf. Net meer as R2 miljard is aan 496 981 werkers betaal.

Ander sektore wat uitstaan wat betref eise is yster (R2 miljard), professionele dienste (R1,9 miljard), lugdienste (R1,3 miljard) en mynwese (R1,2 miljard).

Sektore soos onderwys, kos en landbou, se werkers het net minder as R1 miljard in uitbetalings ontvang.

Die WVF het dus reeds meer as R40 miljard in Covid19Ters-eise betaal.

Die WVF aanvaar aansoeke vir eise vir Julie en Augustus. Eise vir Augustus kan net vir werkdae tot en met 15 Augustus ingedien word.

Vergoedingsfonds

Wat betref die staat se Vergoedingsfonds (VF), word eise ook steeds verwerk.

Die departement van arbeid sê in dieselfde verklaring dat die fonds het nog net een eis ontvang van 'n werknemer wat dood is aan Covid-19 nadat die persoon die siekte by die werk opgedoen het.

Vuyo Mafata, kommissaris van die fonds, sê dat R18 251 uitbetaal is vir die persoon se begrafnis.

"Dit is 'n baie beter prentjie as wat ons verwag het. Hoewel dit vroeg is om gevolgtrekkings te maak, blyk dit dat ons ligter daarvan afgekom het, as wat ons gevrees het," sê hy.

Mafata sê dat ongeag dié lae syfer, moet daar onthou word dat selfs een sterfte een te veel is.

Mafata sê die fonds het reeds 4 916 eise vir Covid-19 ontvang. Hiervan het hy 3 240 direk ontvang, 1 539 deur Rand Mutual en 137 deur Federated Employees, twee maatskappye wat eise namens werkgewers behartig.

Eise wat by die VF ingedien is:

  • Wes-Kaap: 1 934
  • Gauteng: 1 586
  • Oos-Kaap: 824
  • KwaZulu-Natal: 304
  • Noordwes: 74
  • Mpumalanga: 66
  • Limpopo: 24
  • Vrystaat: 25
  • Noord-Kaap: 16
  • Onbekend: 58

Die VF sê van al die eise wat hy direk ontvang het, is aanspreeklikheid vir 2 097 aanvaar, 659 is afgekeur en oor 2 019 moet daar nog beslis word.

Wat die Covid-19-pandemie betref, betaal die fonds vir die volgende:

  • Tydelike ongeskiktheid terwyl die werker in kwarantyn of selfisolasie is of gehospitaliseer is.
  • Mediese onkoste; en
  • 'n Maandelikse pensioen- en begrafnisvoordeel aan die afhanklikes van mense wat aan die virus sterf.
Elvira Wood

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM