Ingevolge die Wet op die Vergoeding vir Beroepsbeserings en -Siektes (Coida) van 1993 moet alle werkbeserings en beweerde werkbeserings binne sewe dae aan die departement van indiensneming en arbeid se Vergoedingsfonds gerapporteer word.
As 'n produsent of sakeonderneming versuim om dit te doen kan 'n boete uitgereik word.
'n Werkbesering word beskryf as 'n gebeurtenis waarvan die datum, tyd en plek bepaal kan word; in die loop van 'n werker se normale diensdag gebeur; en tot 'n persoonlike besering, siekte of dood lei.
Dit beteken kortliks dat die werker aan diens moes gewees het en dat dít waarmee hy ten tyde van die besering besig was, deel van sy normale pligte moes wees. Indien 'n betrokke geval nie aan al hierdie aspekte voldoen nie, sal dit nie as 'n werkbesering aanvaar word nie en die beseerde werker sal self vir enige mediese onkoste moet opdok.
As die fonds dit wel aanvaar, sal daar vir redelike mediese onkoste en ander voordele betaal word. Ek sal die voordele later in hierdie artikel bespreek.
Vervoer van werkers
Oktober was Nasionale Vervoermaand in Suid-Afrika, met die kollig op padveiligheid. Indien 'n werker dus in 'n padongeluk betrokke sou wees wat regstreeks verband hou met sy werk, kan dit as 'n werkbesering aanvaar word.
Sedert verlede jaar is meer as 200 landbouwerkers reeds in padongelukke in die Wes-Kaap beseer. Gedurende 2020 het nege landbouwerkers gesterf en is 20 beseer in een padongeluk tussen Touwsrivier en De Doorns.
Watter maatreëls moet dus in plek wees om werkers te vervoer?
Die vervoer van landbouwerkers is belangrik. Dit is die wyse waarop die werksmag na die plase gebring word ten einde hul werk te doen.
Die Sustainable Initiative of South Africa (Siza) het riglyne saamgestel vir die veilige vervoer van landbouwerkers. Volgens Siza kan die volgende faktore tot ongelukke lei:
- Nalatige bestuur;
- Oorlaaide voertuie;
- Voertuie wat nie padwaardig is nie;
- As werkers op en van die voertuig afklim;
- 'n Werker wat uit 'n voertuig val terwyl dit beweeg;
- Besering veroorsaak deur kontak met binnepanele, toerusting of ander passasiers of voorwerpe as die voertuig onverwags beweeg;
- Ongelukke wat deur ander bestuurders veroorsaak is; en
- Swak weersomstandighede, slaggate of diere wat op paaie wandel.
Wat sê die padwet?
Die Nasionale Padverkeerswet van 1996 en Regulasies meld dat aan die volgende regulasies voldoen moet word:
- Bestuurders moet 'n veilige spoed handhaaf;
- Passasiers moet sit voordat die voertuig vertrek;
- Voertuie wat werkers vervoer moet in 'n veilige en padwaardige toestand wees;
- Geen toerusting, materiaal of gereedskap mag saam met die werkers vervoer word as dit nie afgesper is nie;
- Die bestuurder moet in besit wees van 'n geldige professionele bestuurderslisensie; en
- Geen skoolgaande kinders mag agter in die voertuig waarin werkers vervoer word, wees nie.
Produsente moet hierdie inligting versprei aan werkers, asook die gevolge uiteen sit as daar nie voldoen word aan die maatreëls nie.
Hoe gemaak met beserings?
Watter kriteria moet aan voldoen word wanneer werkers in 'n padongeluk beseer is?
Soos gemeld moet alle werkbeserings binne sewe dae elektronies aangemeld word om moontlike boetes te vermy en voordele kan verskans word indien die besering nie binne 12 maande gerapporteer word nie.
Die volgende moet voorsien word by die rapportering van 'n werkbesering:
- Die werkgewersverslag van 'n ongeluk;
- 'n Gesertifiseerde afskrif van die beseerde se identifikasiedokument;
- 'n Afskrif van die beseerde se salarisooreenkoms soos ten tyde van die werkbesering; en
- Die dokter se eerste mediese verslag wat die werker vir die eerste keer behandel het.
Dit is noodsaaklik dat hierdie vorms so gou as moontlik beskikbaar gestel word sodat die werker die nodige mediese behandeling kan verkry veral as 'n werker ernstig beseer is.
Voordat werkbeserings aanvaar word vir die betaling van redelike mediese onkoste en vergoeding moet die volgende inligting ingevolge art. 22(5) van die Wet op Vergoeding vir Beroepsbeserings en Siektes aan die Vergoedingsfonds bevestig word waar daar 'n padongeluk was:
- Is die vervoer verskaf deur die produsent en was dit gratis?
- Is dit spesifiek verskaf vir die doel om werkers te vervoer?
- Is die voertuig bestuur deur die eienaar of een van sy werkers?
Die eienaar van die voertuig moet 'n mate van beheer kan uitoefen oor die vervoer en werkers is nie veronderstel om te betaal om vervoer te word nie. Verder moet die reis ook oor die kortste roete wees.
Werkers in motorongelukke kan ernstige skade ly en mediese onkoste kan derduisende rande beloop en produsente moet hulle vergewis van die kriteria waaraan voldoen moet word wanneer werkers op 'n openbare pad vervoer word.
Die voordele
Watter voordele is betaalbaar ingevolge Coida as daar 'n padongeluk was?
Vir werkers om te kwalifiseer vir enige voordele ingevolge die Coida-wet moet die produsent geregistreer wees by die Vergoedingsfonds en van die volgende voordele is betaalbaar indien 'n werker sou seerkry:
- 'n Produsent is veronderstel om 'n werker se loon te betaal tot en met drie maande afgeboek van diens af en hierdie loon sal terugbetaal word aan die produsent. Indien die werker vir meer as drie maande afgeteken is, kan die werker regstreeks vir sy loon aansoek doen by die Vergoedingsfonds;
- Indien die aard van die werker se besering ernstig was in so 'n mate dat die gebruik van 'n ledemaat ingeperk was, kan so 'n werker kwalifiseer vir permanente ongeskiktheid. Die landbousektor is arbeidsintensief en vele werkers het hul vingers of ander ledemaat seergemaak wat geamputeer moes word en hiervoor kan 'n werker vergoed word;
- In ernstiger gevalle waar 'n werker sy lewe verloor, kan die gade en kinders kwalifiseer vir 'n maandelikse pensioen en die begrafniskoste kan ook betaal word. In sekere gevalle betaal produsente geld regstreeks aan die families en produsente kan eerder geld regstreeks aan 'n begrafnisondernemer betaal om te kwalifiseer vir die terugbetaling van die fonds;
- Die Vergoedingsfonds tree ook op as 'n mediese fonds en alle redelike mediese onkoste soos geëis deur mediese diensverskaffers kan regstreeks deur die fonds betaal word. Waar 'n produsent of 'n werker wel die mediese onkoste self betaal het, kan aansoek gedoen word vir die terugbetaling van daardie mediese onkoste;
- Daar sal geen geld betaalbaar wees vir enige pyn en lyding van 'n werker nie.
Laaste sê
Werkbeserings kan die lewe van enige werker vir die res van sy lewe verander en dit is baie belangrik vir produsente om geregistreer te wees by die Vergoedingsfonds, asook om op die hoogte te bly van die voorskrifte van die wet sodat vergoeding en mediese onkoste betaal kan word en ook om te verhoed dat 'n produsent vervolg word.
Dit is soveel belangriker vir die landboubedryf aangesien plaaswerkers van die mees kwesbare werkers is en hierdie bedryf het ook van die hoogste aantal werkbeserings jaarliks.
- Pietersen is die stigter van Work Accident Support. Vir meer inligting, stuur 'n e-pos na support@workaccident.co.za.




















