Die gemiddelde vergoeding wat mense in die formele sektor in Junie verdien het, het in die tweede kwartaal met 4,2% gedaal.

Die gemiddelde vergoeding was in dié maand R21 455, teenoor R22 395 in Februarie. Dit is 1,6% minder as 'n jaar gelede.
Die daling is baie minder ingrypend as wat verwag sou word gegewe dat duisende werknemers op die beperkte uitbetalings van die Werkloosheidsversekeringsfonds se Covid-19-Ters staatgemaak het toe hulle tydens die staat van inperking nie kon werk nie.
Verskeie ondernemings het ook werknemers se salarisse met tot 30% besnoei.
Altesame het die bruto vergoeding wat aan al 9,6 miljoen werknemers in die formele sektor betaal is, met 11,3% tot R647,2 miljard gedaal. Dit is ook 9% minder as in Junie 2019.
Dié syfers sluit bonusse en oortydbetaling in.
Net basiese lone en salarisse het sedert Maart met 9,9% tot R601 miljard gedaal en is ook 8,1% minder as 'n jaar gelede.
Bonusse en oortyd het van kwartaal tot kwartaal met 26,2% tot R46,2 miljard gedaal, wat ook 19,6% minder is as 'n jaar gelede.
Vervoer is die enigste bedryf waarin bonusse en oortydbetalings toegeneem het.
Die syfers kom uit Statistieke Suid-Afrika se kwartaallikse indiensnemingspeiling (QES).



















