As jy meer as R22 579 per maand voor aftrekkings verdien, het jy 'n bogemiddelde salaris, blyk uit Statistieke Suid-Afrika se kwartaallikse indiensnemingspeiling (QES) vir die derde kwartaal.

In Augustus vanjaar was dit die gemiddelde salaris, bonusse en oortyd ingesluit.
Die salaris is 5,3% meer as in Junie, wat bes moontlik toon dat meer mense weer hul volle salaris verdien het nadat baie mense tydelik 'n verlaging in hul salaris beleef het weens die inperkingsmaatreëls. In die tweede en derde kwartaal was baie mense van die Covid-19-Ters-voordeel afhanklik, moes hulle salarisverlagings trotseer, of hulle het minder verdien omdat hul werksure ingekort is.
Die gemiddelde salaris is 'n skrapse 0,9% hoër as 'n jaar gelede. Hoewel salarisse dus nie pas gehou het met inflasie (wat in Augustus 3,1% was) nie, was daar tog mense wat verhogings gekry het.
Altesame het die bruto vergoeding wat aan al byna 9,6 miljoen werknemers in die formele sektor betaal is, met 5,5% tot R680,2 miljard gestyg. Dit is egter 6,1% minder as in September 2019. Dié syfers sluit bonusse en oortydbetaling in. Vervoer is die enigste bedryf waarvan bruto vergoeding op 'n kwartaalgrondslag gedaal het.
Net basiese lone en salarisse het sedert Junie ook met 5,5% tot R631,6 miljard gestyg, maar is 4,8% minder as 'n jaar gelede. Alle bedrywe het meer aan salarisse bestee as in die tweede kwartaal, maar van jaar tot jaar het net mynbou en die nutsbedryf - wat grootliks Eskom verteenwoordig - meer aan salarisse bestee.
Bonusse en oortyd het van kwartaal tot kwartaal met 5,8% tot R48,7 miljard gestyg, maar was 20% minder is as 'n jaar gelede. Op 'n kwartaalgrondslag het bonusse en oortyd in vervoer en die nutsbedryf gedaal maar van jaar tot jaar het dit in alle bedrywe gedaal.



















