Verdien jy ’n gemiddelde salaris?

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

As jy meer as R24 051 per maand voor aftrekkings verdien, het jy 'n bogemiddelde salaris, blyk uit Statistieke Suid-Afrika se kwartaallikse indiensnemingspeiling (QES) vir die derde kwartaal.

Salarisse in die formele sektor hou tred met inflasie.
Salarisse in die formele sektor hou tred met inflasie.

In Augustus was dit die gemiddelde bruto salaris vir mense wat in die formele sektor werk, bonusse en oortyd ingesluit.

Die salaris is 1,6% meer as drie maande vantevore, in Mei.

Dis ook 'n stewige 6,5% meer as in Augustus 2020. Salarisse en bonusse het inflasie, wat in September 5% was, dus gemaklik geklop.

Daar was 'n stewige styging in die oortyd en bonusse wat werkers verdien het. Dit was 6,9% hoër as in Mei en 33,9% hoër as in Augustus 2020. Dis nie verrassend nie, gegewe dat Suid-Afrika in Augustus 2020 aan 'n baie strenger aandklokreël onderhewig was wat mense se werkure ingekort het.

Altesame het die bruto vergoeding wat aan al byna 9,62 miljoen werknemers in die formele sektor betaal is, tussen die tweede en derde kwartaal met 3,6% tot R746,8 miljard gestyg. Dis ook 9,7% meer as 'n jaar gelede. Dié syfers sluit bonusse en oortydbetaling in.

Dit weerspieël verhogings asook die effense styging, van 0,6% teenoor 'n jaar gelede, in aanstellings in die formele sektor.

LEES OOK: Bloedbad van afleggings eindelik in formele sektor gestuit

Die grootste styging in vergoeding was in mynbou en gemeenskapsdienste, wat die staatsdiens insluit. Dis deels omdat terugwerkende verhogings aan staatsamptenare toegeken is, maar ook omdat meer mense in dié bedryf werk.

Bruto vergoeding het gedaal vir vervoer en nutsdienste.

Basiese lone en salarisse het sedert Mei met 3,3% tot R681,5 miljard gestyg, en is 7,9% meer as 'n jaar gelede.

Hanlie Stadler

SPELETJIES VANDAG

CTA