
As jy meer as R28 231 per maand vóór aftrekkings verdien, verdien jy 'n bogemiddelde salaris.
Dit was in November 2024 die gemiddelde salaris in die formele sektor in Suid-Afrika, ingesluit bonusse en oortydbetaling, volgens Statistieke Suid-Afrika (SSA) se kwartaallikse indiensnemingspeiling.
Die gemiddelde salaris was 5,3% hoër as 'n jaar gelede. Dit beteken vergoeding het inflasie gerieflik geklop, gegewe dat inflasie in Desember 3% beloop het.
Die peiling toon die formele sektor het in die vierde kwartaal nagenoeg R1 029 miljard aan salarisse betaal, wat 3,6% meer is as 'n jaar gelede. Die feit dat salarisse vinniger gestyg het as maatskappye se totale salarisrekening kan daaraan toegeskryf word dat sowat 91 000 minder mense in die formele sektor gewerk het.
Die bedrag wat maatskappye aan basiese salarisse en lone uitbetaal het, het met 4% tot R889,7 miljard gestyg. Die grootste styging in bruto basiese salarisse was in nutsdienste (krag, gas en water), waar maatskappye 11,1% meer uitbetaal het, gevolg deur konstruksie (6,9%).
Die formele sektor het in die derde kwartaal nagenoeg 10,64 miljoen mense in diens gehad, teenoor 10,73 miljoen einde 2023.
Die meeste poste wat verlore gegaan het, was tydelike poste in die sektor gemeenskapsdienste (77 000). Dit sluit staatsinstellings in.
Ander sektore waar werk verloor is, was in die mynbou, vervaardiging en vervoer.
Net in mynbou het die totale vergoeding gedaal, met 0,1%.
Bonusbetalings het met 3,2% tot R112,5 miljard toegeneem.
Oortydbetaling het egter met 7,1% tot R26,3 miljard geval.
- hanlie.stadler@24.com




















