Werk van huis af het maar sy nadele, wys peiling

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Presies wat baie wantrouige bestuurders nou al die hele pandemie lank dink, is inderdaad waar. Baie werknemers vat meer gereeld 'n blaaskans en doen huishoudelike take tydens werkure terwyl hulle van die huis af werk.

Veral jong mense sukkel om gemotiveerd en gedissiplineerd van die huis af te werk. Foto ter illustrasie: Gallo Images
Veral jong mense sukkel om gemotiveerd en gedissiplineerd van die huis af te werk. Foto ter illustrasie: Gallo Images

Volgens 'n Ipsos-peiling doen twee uit drie (67%) mense meer huishoudelike take of ritte soos om kinders by die skool te gaan haal of gou winkel toe te gaan as voor die Covid-19-pandemie.

55% neem meer gereeld 'n blaaskans.

Die Ipsos-peiling is in Mei aanlyn gedoen en 751 respondente het daaraan deelgeneem. Die resultate is Dinsdag op 'n webinaar bespreek.

Die peiling bevat egter heelwat teenstrydige antwoorde. Hoewel 52% van respondente voel hulle het 'n beter werk-lewe-balans, beskou 51% werk van die huis af as méér stresvol as werk op kantoor en 52% sê hulle sukkel om af te skakel. 52% sê hulle het minder werkbevrediging.

Spanwerk is duidelik ook moeiliker vir 54% van mense, en 55% sê samewerking is moeiliker.

Zoom en Teams is ook besig om mense erg te frustreer: 47% sê hulle moet nou meer gereeld in vergaderings sit as toe hulle op kantoor gewerk het.

Waar staan regulasies?

Hoewel Suid-Afrika nou op vlak 2 van die staat van inperking is, sluit dit steeds die regulasie in dat mense wat van die huis af kan werk, dit moet doen.

Ervarings verskil

Ondanks al die negatiewe aspekte van tuiswerk, verkies die minderheid mense steeds om heeltyds terug te gaan kantoor toe. Net 23% van mense wil weer heeltyds kantoor toe gaan, terwyl 29% heeltyds van die huis af wil werk.

Verreweg die grootste persentasie, 46%, wil 'n buigsame werkopset hê waar hulle soms kan ingaan kantoor toe en soms tuis kan werk.

Volgens Stella Fleetwood van Ipsos is dit veral mense van jonger as 30 jaar oud wat die kantooropset mis. Hulle voel minder produktief tuis en voel daar is te veel afleiding en onderbrekings. Hulle voel ook minder gemotiveerd.

Mense van 45 jaar en ouer is diegene wat voel werk van die huis af is makliker. Hulle is ook diegene wat meer geneig is om netjies aan te trek, selfs al is hulle tuis, en die dissipline handhaaf om te werk tydens werkure.

Benadeel loopbane

Herman Warren, ontleder van The Economist se korporatiewe afdeling, sê internasionale navorsing toon dat afstandswerk mense se loopbane kan benadeel omdat hulle nie gereeld genoeg skouers skuur met mense in magsposisies nie.

Veral vroue en mense van minderheidsgroepe word makliker benadeel as hulle van die huis af werk.

Werk van die huis af kan ook baie skeidslyne wat in maatskappye bestaan, vererger, soos die skeiding tussen kantoor- en fabriekswerkers.

Warren waarsku dat al hoe meer maatskappye aktief maniere ondersoek om mense te dwing om terug te keer kantoor toe. Hy verwys na 'n interne memorandum van Google wat uitgelek is waarin onder meer voorgestel word dat die salaris van mense wat van die huis af werk, met 'n enorme 15% gesny word. (Dis nog net 'n bespreking, niks is al finaal besluit nie.)

Praktiese probleme

Hoewel 82% van die respondente sê hulle het die nodige internettoegang om van die huis af te werk, het net 34% rugsteunstelsels as daar kragonderbrekings of beurtkrag is.

Die meerderheid (62%) het al die kantoortoerusting wat hulle benodig om hul werk te doen, maar 54% het toegang tot dokumente nodig wat hulle net op kantoor kan kry.

Kommunikasie belangrik

Cathy Ashton van die spanboukonsultante Multiplex Partners sê mense se ambivalensie om terug te kom kantoor toe, sal met empatie bestuur moet word. Sy sê mense het 'n nuwe waarde aan hul tyd begin heg en kan byvoorbeeld nie die sin insien van ure in die verkeer vassit nie.

Ashton sê in enige werkopset wat 'n firma kies, of dit nou 'n hibriede situasie of tuiswerk is, is dit uiters belangrik dat leiers aktief lei. Dis moeiliker om die maatskappy se visie oor te dra noudat mense nie op kantoor is waar daar byvoorbeeld plakkate is wat dit uitstippel nie.

Duidelike kommunikasie oor mense se rol en spertye vir take, gereelde interaksie en 'n verbintenis tot opleiding en mentorskap is nodig in die nuwe werkopset.

Al die deelnemers aan die bespreking het uitgelig hoe moeilik dit is om nuwe werknemers in die maatskappy te integreer terwyl afstandwerk of 'n hibriede opset geld.

Fleetwood verwag dat die omset van werknemers gaan toeneem omdat mense gedemotiveer en geïsoleer voel en omdat hulle voel hul loopbane vorder nie.

Hanlie Stadler

SPELETJIES VANDAG

CTA