Beroepe

WVF verleng wéér tyd vir inperkingseise

Die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) se sukkelende Covid-19-Ters-voordeel is weer verleng.

Werkgewers kan dié voordeel namens hul werknemers eis wanneer die werkgewer glad nie, of net 'n gedeelte, van sy werknemers se salarisse weens die invloed van die Covid-19-pandemie op die bedrywighede kan betaal.

Thulas Nxesi, minister van arbeid en indiensneming, het Maandag in 'n verklaring aangekondig dat dié skema nou eise vir die tydperk tot en met 15 September sal dek.

Dit is omdat die Wet op Rampbestuur voorheen ook tot 15 September verleng is.

Die skema sou aanvanklik op 30 Junie ten einde geloop het.

Nxesi sê aangesien 'n staat van inperking steeds geld, meen die departement dit is sinvol om ook die tydperk wat deur die voordeel gedek word te verleng.

Luidens die verklaring kan werkgewers tot 15 September eise vir voordele vir April tot Julie indien. Daarna sal geen verdere eise vir dié tydperk ontvang word nie.

Eise vir Augustus tot en met 15 September sal teen 30 Oktober sluit.

Die WVF sê in die verklaring dat hy tot dusver reeds R41 miljard in voordele uitbetaal het.

Geen verdere besonderhede word verskaf nie.

Die fonds was die afgelope twee weke in die nuus nadat 'n oudit deur die ouditeur-generaal (OG) groot ongerymdhede met die betalings aan die lig gebring het.

Hiervolgens is bykans R1 miljard as deel van dié voordeel verkeerdelik uitbetaal.

LEES OOK: WVF: Só word bykans R1 mjd. verkeerd betaal

Die grootste deel van dié bedrag (sowat R685 miljoen) is aan buitelanders betaal waarvoor die WVF geen bewys het dat hul werkgewers 'n bydrae tot die WVF betaal het nie.

Eise kan tans vir die tydperk van 27 Maart tot einde Augustus ingedien word. Eise kan nog nie vir salarisse vir September ingedien word nie.

Agterstand

Luidens die syfers van die werkgewersorganisasie Neasa het 99% van die werkgewers nog nie uitbetalings vir Julie ontvang nie.

Van die 1% wat wel vir dié maand betalings ontvang het, is net 20% se eise ten volle betaal.

Wat die vorige maande betref, is die situasie as volg:

  • April: 12% steeds nie betaal nie. Van die 88% wat betaal is, is 68% se eise ten volle betaal;
  • Mei: 18% steeds nie betaal nie. Van die 82% wat betaal is, is 68% se eise ten volle betaal; en
  • Junie: 28% is steeds nie betaal nie. Van die 72% wat betaal is, is 71% se eise ten volle betaal.
Elvira Wood

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM