Firma se lisensie opgeskort ná 3 se begrafnispolis-eise onbetaald bly

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Ter illustrasie. Foto: Argief
Ter illustrasie. Foto: Argief

Drie beslissings teen 'n verkoper van begrafnispolisse van Khayelitsha in Kaapstad is kort ná mekaar deur die ombud oor finansiëlediensteverskaffers (Fais) ten gunste van die klaers gelewer.

In die jongste saak is Luvuyo Burial and Consulting opdrag gegee om die klaer Nomathemba Oscar Jikwa R17 500 plus rente te betaal nadat die onderneming in gebreke gebly het om geldige eise teen 'n begrafnispolis uit te betaal.

Luvuyo is sedert November 2016 by die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) as 'n finansiëlediensteverskaffer geregistreer.

Dié lisensie is nou opgeskort ná die drie beslissings deur die Fais-ombud.

Die Fais-ombud kry steeds klagtes oor begrafnispolisse wat nie uitbetaal word nie. Foto ter illustrasie. Foto: Argief
Die Fais-ombud kry steeds klagtes oor begrafnispolisse wat nie uitbetaal word nie. Foto ter illustrasie. Foto: Argief

Die ombud het in verlede jaar se jaarverslag gesê die klagtes oor begrafnispolisse bly die grootste kategorie van klagtes wat ontvang is.

Laat verlede jaar het die FSCA en die Reserwebank in 'n gesamentlike verklaring aangekondig die wetsraamwerk vir begrafnispolisse gaan hersien word om die wetgewing, regulasies en reëls vir die verkoop van begrafnispolisse te verbeter.

Die FSCA sê daar is 'n groot aantal ongelisensieerde ondernemings, onder wie begrafnisondernemers, wat strydig met wetgewing self versekeringspolisse onderskryf en ongemagtigde premies van hul kliënte insamel.

LEES OOK | Pandemie maak bedrog met lyke ‘makliker'

Jikwa het die Fais-ombud genader nadat sy maande lank gesukkel het om die voordele te ontvang vir 'n begrafnispolis wat sy in April 2020 uitgeneem het.

Sy het twee verskillende doodseise vir twee van haar familielede ingedien wat verlede jaar in Januarie en Maart oorlede is. Hulle was elk vir R10 000 verseker.

Die omstandighede van hul dood is nie betwis nie en die klaer het die nodige inligting ingesluit, soos doodsertifikate, die polis en die premies wat betaal is.

Ten spyte daarvan dat sy al die vereiste dokumentasie verskaf het en talle kere opgevolg het, het die eis onbetaald gebly, lui 'n verklaring van die kantoor van die ombud.

Die ombud het in Oktober verlede jaar Luvuyo aanbeveel om die eise te skik.

'n Gedeeltelike betaling van R2 500 is later dié maand gedoen en Luvuyo het onderneem om die balans in paaiemente oor vier maande te betaal. Geen verdere betalings is gedoen nie.

Oortredings

Volgens die ombudskantoor het Luvuyo in gebreke gebly om die vereistes van die reëls oor die beskerming van polishouers na te kom. Die spesifieke reël lui dat 'n versekeraar binne twee werkdae nadat alle vereiste dokumente vir 'n eis teen 'n mikroversekerings- of begrafnispolis ontvang is, dit moet ontleed en besluit of dit geldig is, die betaling moet magtig of dit verwerp, of die polishouer verwittig dat dit betwis word.

Die reël vervolg dat wanneer 'n eis betwis word, die versekeraar binne 14 werkdae die eis verder kan ondersoek en besluit of dit geldig is of nie en of die eis betaal of verwerp word.

Luvuyo se gedrag is ook strydig met een van die bepalings oor die billike behandeling van kliënte (TCF), deurdat 'n kliënt nie onredelike hindernisse moet ervaar wanneer hulle van 'n produk wil verander, van verskaffer wil verander, 'n eis wil indien of 'n klagte wil indien nie.

Die ombud het gevolglik bevind Luvuyo is kontraktueel aanspreeklik vir die betaling van die eis.

Die rente beloop 11,25% per jaar van die datum van die ombud se beslissing.

Luidens die beslissing wat op 8 April gelewer is deur adv. John Simpson, kon die FSCA nie bevestig wie Luvuyo se onderskrywer is nie en die respondent het mondelings bevestig hy het nie een nie.

Luvuyo het die geleentheid om 'n aansoek om heroorweging by die Finansiëledienstetribunaal in te dien.

Groot kommer

Die ombud het ook bevind dat Luvuyo in gebreke gebly het om die volle eis van Maruna Ndeleni teen 'n begrafnispolis te betaal weens soortgelyke oortredings.

Die eis was vir R20 000 teen 'n begrafnispolis wat deur sy oorlede vrou, Kholelwa Ndeleni, gehou is. Hy is as haar eggenoot en 'n begunstigde op die polis genoem.

Sedert Januarie 2024 het hy ook ná talle pogings teen Maart vanjaar nog net R5 000 ontvang.

Die polis was tot Mei 2021 deur Sanlam Developing Markets onderskryf.

"Die polis was nie meer onderskryf nie, wat 'n groot bekommernis vir die reguleerders is."

Onderskrywing deur 'n geregistreerde langtermynversekeraar bied die sekerheid aan polishouers dat hul voordele betaal sal word.

Vroeg in die jaar is die eerste beslissing teen Luvuyo gelewer ná 'n klagte van Xolisa Matoti. Hy het in Oktober 2023 'n eis ingedien van R10 000 teen 'n versekerde lewe op die polis. Die polis is in Oktober 2020 uitgeneem en is onderskryf deur Sanlam Developing Markets, maar die verhouding is op 1 Mei 2021 beëindig.

Luvuyo het aangevoer dat Matoti in Februarie 2022 ingelig is die premies word verhoog van R200 tot R400 per maand en omdat hy nie die verhoging betaal het nie, het die polis verval.

Volgens die ombud is een van die reëls om polisse te beskerm dat 'n versekeraar 'n polishouer betyds en skriftelik moet inlig indien 'n hersiening van 'n polis kom, wanneer en of dit tot 'n premieverhoging kan lei.

Verder lui die reëls die versekeraar moet redelike stappe doen om 'n polishouer 'n alternatief te gee om die impak van 'n verhoging te versag, soos om die polis te staak, die voordele te verminder of 'n ander polis uit te neem.

Luvuyo kon nie enige skriftelike bewyse hiervan aan die ombud verskaf nie. Uiteindelik is Matoti net R5 000 betaal.

Dit is ná dié beslissing dat die FSCA sy lisensie opgeskort het.

- nellie.brand@24.com

SPELETJIES VANDAG

CTA